Jameson

“Die vervloekte Jameson,” was my ouma Mulder, wat in die Anglo-Boereoorlog was, se verwysing na Sir Leander Starr Jameson. Jameson wat die ou Transvaal binnegeval het en gedink het hy kan president Paul Kruger se Republiek so skelm vir die Britte vat.
Jameson was een van die grootse anti-Afrikaner en pro-Britse imperialiste van sy tyd. Toe hy in 1917 in Brittanje, waar hy afgetree het, dood is, het die vlae in Suid-Afrika in Kimberley halfmas gehang. De Burger van 15 Desember 1917 skryf in ou Afrikaans: “Al die vlae was hier verlede week halfmas wegens die afsterwe van Sir Starr Jameson en ons het daarteen niks objeksie nie – maar ons denk darem nog terug aan ‘n jaar gelede toe die burgemeester geweier het om die vlae halfmas te hang met die afsterwe van ons nog nie vergete Pres. Steyn.” Pres. Steyn as Afrikaner held en laaste president van die Oranje-Vrystaat wat alles in sy vermoë gedoen het om eers die oorlog te voorkom en daarna geweier het om oor te gee aan die Britse invallers.

Langenhoven


By die dood van openbare figure is daar dikwels omstredenheid. Langenhoven as skrywer en politikus het in sy stryd om die erkenning van Afrikaans gereeld met genl. Jan Smuts gebots. Tydens ’n koffiehuisgesprek is hy gevra wat hy as ’n gepaste grafskrif vir Smuts sou voorstel. Hy het op die spyskaart geskryf: “Here lies Smuts – as usual.”

John Vorster


In Bloemfontein is die Presidentsakker geskep om al die Suid-Afrikaanse seremoniële presidente na Republiekwording daar te begrawe. Vier van die vyf is daar begrawe. John Vorster wou nie daar begrawe word nie.
Tot met sy dood was Vorster bitter en woedend vir PW Botha oor die gemanipuleerde Erasmus-verslag waarin Botha ’n direkte aandeel gehad het en wat Vorster se loopbaan beëindig het. Daarom het hy ’n staatsbegrafnis in die presidentsakker geweier. Hy het blykbaar gesê dat hy nie PW Botha die geleentheid wil gee om ’n skynheilige toespraak by sy begrafnis te hou nie.
Vorster se nederige graf is, soos hy dit versoek het, in die gras langs die kerk in die klein dorpie Kareedouw. In die Presidentsakker in Bloemfontein lê presidente CR Swart; Nic Diederichs, Jim Fouche en Marais Viljoen. Daar is net ’n gedenksteen wat na Vorster verwys en verduidelik dat hy in Kareedouw begrawe is.

FW de Klerk


Vandag, Sondag 21 November 2021, is oud-president F.W. de Klerk se begrafnis. Na De Klerk se dood verlede week is dit in die parlement aangekondig. Die EFF-lede in die parlement het luidrugtig gejubel, gejuig en hande geklap oor sy dood. Skokkend onsensitief.
Ek verskil ernstig oor baie sake met mnr. De Klerk. In debatte in die parlement het ek dit so direk aan hom gestel. Ek het saamgestem dat die destydse politieke status quo nie behou kon word nie en dat daar onderhandel moes word maar het ernstig verskil oor die wyse waarop onderhandel is. Ingrypende foute is gemaak en geleenthede is gemis. In die toekoms gaan ek weer daaroor skryf. Met sy begrafnis en dood as politikus, maar ook as pa en oupa, is dit wel nie nou die regte tyd daarvoor nie. Duidelik dink die EFF berekend anders. Daar is iets soos basiese respek en medemenslikheid in ’n tyd soos hierdie. Dit is ’n teken van opvoeding, agtergrond en volwassenheid. Ek het baie swart leiers se begrafnisse bygewoon en het hierdie medemenslikheid net so sterk daar aangetref met groot respek vir die dood en die voorouers. Alles eienskappe wat die EFF duidelik nie verstaan nie.
Bogenoemde geld ook vir die kommentators op sosiale media. Onthou – Jou wyse van optrede teenoor ander mense reflekteer meestal nie op hulle karakter nie maar op joune.