Dr Pieter Mulder voormalige Parlementslid

 en Adjunk-Minister.

Februarie 2019

In meer as een parlementêre toespraak na 1994 moes ons hoor dat die grootste skade wat  Apartheid aangerig het, die feit was dat dit mense se waardigheid aangetas het en hulle minderwaardig laat voel het. Hulle menswaardigheid (dignity) moet daarom herstel word.

As Afrikaner het ek daarvoor begrip en glo ek ons kan help. Brittanje en baie plaaslike Engelssprekendes het vanaf 1806 oor meer as 150 jaar uit hulle pad gegaan om Afrikaners minderwaardig te laat voel en so hulle menswaardigheid aan te tas. Ek was meer as een keer persoonlik aan die ontvangskant waar na Afrikaners as “Rock-spiders” en na Afrikaans as ’n “uncivilised language” verwys is.

Britse kolonialisme is in die negentiende eeu met geweld op die Afrikaner en op baie ander volke afgeforseer. Dit was skaamteloos gebaseer op “Anglo-Saxon racial superiority”. Britse leiersfigure in Suid-Afrika soos Cecil John Rhodes en Alfred Milner het sonder om te huiwer hulle meerderwaardigheid oor al die ander inwoners van Suid-Afrika uitgespel. Vir hulle was “huis” of “home” nie Suid-Afrika nie, maar ‘n geromantiseerde Engeland bewoon deur, soos Rhodes dit beskryf het, “die beste, die menslikste en die eervolste ras wat in die wêreld woon.”

“To be born an Englishman is to win first prize in God’s lottery,” het Rhodes blatant gespog.

Milner het homself as “a British Race Patriot” beskryf. “I am an Imperialist … because I am a British Race Patriot” het hy as sy lewens credo geskryf.

Die woord “boor” is ’n erkende Engelse woord. Dit is teen hierdie agtergrond wat die begrip “Boer” geensins ’n bewonderingswoord in Engels was nie. Dit het in Engels as “boor” ’n beledigende betekenis soos die “k-woord” van vandag gehad. In die vorige eeu en met die Anglo-Boere oorlog is dit dan ook so deur die Britte gebruik. Die Oxford Dictionary definieer “boor” as ‘n beledigende “derogatory word: a rough or rude or insensitive person, scum”

Afrikaners het die Britse beledigings geïgnoreer en die woord “Boer” omskep na ’n eretitel. Eleanor Rooseveldt, presidentsvrou van die VSA, het gesê: “Niemand kan jou minderwaardig laat voel sonder jou toestemming nie.” ANC-lede kan dit gerus ook onthou.

Die ryk Sammy Marks het in Paul Kruger se tyd ’n belangrike Britse Lord aan Kruger as president kom voorstel. As Engelsprekende het Sammy die gesprek getolk. Nadat Sammy die Lord voorgestel het, het dit gelyk of Kruger nie met die hoë besoeker beïndruk was nie. Om groter indruk te maak, het Sammy verder opgenoem watter ampte die Lord in Brittanje al beklee het en hoe belangrik sy voorvaders was. Aan die einde van die lofrede het President Kruger droogweg opgemerk: “Sê vir die meneer dat ek ’n veewagter was en my vader ‘n boer.”

In die vorige eeu het die Afrikaner rede gehad om minderwaardig teenoor die Engelse te voel.

In die dertigerjare van die vorige eeu het meer as helfte van alle Afrikaners nie st. 6 (huidige graad 8) gehad nie. Slegs 3% is na Universiteit.

In 1948 toe Afrikaners die bewind oorneem, was Afrikaners ekonomies nog ver agter die Engelssprekendes. So was daar in 1937 slegs 20 Afrikaner ondernemings in Johannesburg. Hoewel Afrikaners byna 60% van die wit bevolking uitgemaak het, het hulle net 29% van die totale persoonlike inkomste verdien. Waar die Engelse verstedelik was, het ’n derde van Afrikaners hul inkomste op plase verdien. In die stedelike gebiede het slegs 27% Afrikaners witboordjiewerk gehad. Die res was werkersklas in ambagte of het ander vorme van handearbeid verrig. Die Engelssprekendes was die base wat die ekonomie beheer het.

Hoe lig jy jou op en uit so ’n situasie? Hoe herwin jy jou menswaardigheid en skud die gevoel van minderwaardigheid af?

Om ’n slagoffer van jou omstandighede te speel en vir hulp te wag, soos die ANC tans maak, sou nie help nie. Jy presteer jouself uit hierdie situasie uit en herwin so outomaties jou menswaardigheid.

Na die Ekonomiese Volkskongres van 1939 was daar ’n skerp toename in Afrikaner-sakeondernemings en ondernemingsgees. Volkskas wat in 1937 as “Afrikanerbank” begin is, en Santam en Sanlam wat vanaf 1917 kom, het vinniger begin groei. Afrikanertrots het begin terugkom.

As ’n belangrike verdere stap het Afrikaners na die 1948 bewindsaanvaarding aangedring op moedertaalonderwys.

Met die oog op Afrikaanse onderwys is meer as 450 vakwoordeboeke en terminologielyste in Afrikaans ontwikkel vir byvoorbeeld die mediese-, rekenaar- ruimte, en vele ander velde. Net vyf tale het in die twintigste eeu ontwikkel tot die hoogste taalvlak nl: Hebreeus, Katalaans, Indonesies, Hindi en Afrikaans.

Die aantal Afrikaanse skole het grootliks toegeneem. Waar in die middelvyftigerjare slegs 16% van die Afrikaners verder as st. 8 (graad 10) geleer het, was hierdie syfer tien jaar later 38%. Die Engelssprekendes se syfer was 43%.

Afrikaners het die Randse Afrikaanse Universiteit vier kilometer vanaf die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) gebou om so simbolies in die stad te arriveer en alle tekens van minderwaardigheid af te skud. Anders as die ANC het Afrikaners na 1948 nie die regeringsmag gebruik om Wits van ’n Engelssprekende universiteit na ’n Afrikaanse een te “transformeer” nie. Dit is wat die ANC sedert 1994 doen.

’n Paar maande na die Afrikaner bewindsoorname in 1948 het Arthur Keppel-Jones, ’n geskiedenisdosent aan Wits, massiewe Engelse emigrasie, grootskaalse swart opstande en die in duie stort van alles voorspel.

In die staatsdiens, wat moes dienste lewer, was byna 80% van die senior staatsamptenare in 1948 by die Afrikanerbewindsoorname Engelssprekend. Dit terwyl Engelssprekendes slegs ongeveer 40% van die wit bevolking uitgemaak het. Hulle was dus heeltemal oorverteenwoordig in die staatsdiens.

Daar was geen massiewe “suiwering” van Engelssprekende staatsamptenare na 1948 soos dikwels beweer word nie. (Vgl. Giliomee Hermann, Die Afrikaners, p. 444). Engelssprekendes het nog ’n dekade lank oorverteenwoordig gebly in die hoër range van die staatsdiens. Met ’n geleidelike oorname is verseker dat kundigheid en ervaring nie verlore gaan nie en dat daar nie ’n grootskaalse in duie stort van alle dienste was nie. Hiermee is Arthur Keppel-Jones verkeerd bewys. Eers in 1960 het die amptenare in hierdie hoër range die wit bevolkingsamestelling weerspieël.

By ’n skemerkelkie funksie kort na 1994 gesels ons as parlementslede in ’n kring met Thabo Mbeki. Hy kla, as nuwe adjunk-president, oor sekere regeringsprobleme wat hulle ondervind.

Ek reageer deur te sê dat hulle nie van hulle senior staatsamptenare moet ontslae raak nie. Daardie senior staatsamptenare se kennis en ervaring kan nie gekoop of oorgedra word nie. Hulle bepaal grootliks of ’n minister of president suksesvol is.

Mbeki reageer deur te sê dat die meeste amptenare Afrikaners is. “Hulle is nie ANC ondersteuners nie en sal ons saboteer.”

Ek verskil van hom en verduidelik waarom.

“Hulle is staatsamptenare. Hulle is geleer om die regering van die dag te dien – of dit nou ’n Nasionale Party- of ANC-regering is. Daardie staatsamptenare gaan eerder vir my as opposisielid kwaad maak omdat hulle ANC opdragte so stiptelik gaan uitvoer,” reageer ek.

Mbeki verstaan duidelik nie wat ek probeer oordra nie. Ek het nie eers bygevoeg dat die meeste van daardie Afrikaner staatsamptenare nie die moed gaan hê om die nuwe regering te saboteer nie. Hulle het elkeen ’n huissubsidie en ’n pensioen by aftrede wat hulle beslis nie nou wil verloor nie.

In opdrag van Mbeki moes elke staatsdepartement en alle staatsondernemings soos Eskom jaarliks aan die parlementêre portefeulje-komitees kom verslag doen oor hoe hulle met transformasie vorder. Hier is hulle jaarliks berispe en teruggestuur om hulle personeel se rassesamestelling te gaan verbeter. Volgens hierdie Mbeki transformasie-ideologie was rasseverteenwoordiging baie belangriker as doeltreffendheid.

Gou het dit in die Mbeki, maar veral in die Zuma-tydperk, verder verskuif van rasseverteenwoordiging na kader-ontplooing. Dit het beteken dat slegs ANC lojaliste nou aangestel is ongeag hulle kennis of ervaring. Nie-ANC swart persone se werk het nou ook in die slag gebly. Die logiese gevolg was dat al hierdie instellings tot op ’n punt van ondoeltreffendheid getransformeer is. Ons sien dit in die getuienis voor die Zondo-kommissie en in die krisisse by Eskom en ander staatsinstellings.

Mbeki was bang vir Afrikaner sabotasie. Sy transformasieproses het die staatsdiens en staatsinstellings ernstig gesaboteer. Miskien onbedoeld maar kortsigtig. Ek wonder of Mbeki dit vandag so insien?

Van 1994 tot 2002 het 10 200 wittes Eskom verlaat. In antwoord op ’n vraag van dr. Pieter Groenewald, VF Plus leier, in die parlement het die minister geantwoord dat vanaf 2008 tot Maart 2011, nog 455 ingenieurs, waarvan 110 wit, by Eskom bedank het. As gevolg van kader-ontplooiing sien nie wit of swart opgeleides kans om in so ’n atmosfeer te werk nie. In dieselfde tydperk het 342 tegnici bedank. Dit alles terwyl Eskom se personeelkorps oorweldigend toegeneem het.

Die ongelooflike is dat hierdie proses steeds voortgaan. Volgens Eskom se nuutste regstellende aksieplan moet nog 1308 minder gekwalifiseerde wit werknemers teen Maart 2020 uit die diens wees.

Geen organisasie kan so ’n verlies aan institusionele geheue en vaardighede bekostig nie. En dit is nie ’n politieke of rasse-argument nie — maar ’n eenvoudige bestuursbeginsel wat in Japan en Nigerië ook geld.

Eleanor Rooseveldt is reg dat niemand jou minderwaardig kan laat voel sonder jou toestemming nie. Sukses en prestasie is egter net so belangrik. Afrikaners het met harde werk en prestasie hulle waardigheid herwin en die gevoel van minderwaardigheid oorkom. Prof. Johann Rossouw van die Vrystaatse Universiteit het gesê dat Afrika se grootste stryd is ‘n stryd om sy selfrespek te herwin. Ek stem daarmee saam. Sukses en prestasie sal hiermee help. Ongelukkig lei mislukking daartoe dat die gevoel van minderwaardigheid versterk word en nie afgeskud word nie. As president Cyril Ramaphosa lesse uit die Afrikanergeskiedenis leer, mag hy slaag waar Mbeki en sy voorgangers duidelik misluk het. Dan moet hy presteer en die Eskom en ander probleme suksesvol oplos.