Dr. Pieter Mulder, VF Plus leier

Mei 2013

1. Inleiding.

Die staakseisoen in Suid-Afrika het weer begin. Mynwerkers staak, SATAWU-busbestuurders en SADTU onderwysers het gestaak. In Gauteng alleen 650 protesaksies die laaste twee maande waarvan 40 gewelddadig was.

Die onwettigheid van die stakings, die gewelddadigheid van die stakings en die onverantwoordelike eise is besig om die Suid-Afrikaanse ekonomie stadig dood te bloei. Stakers eis ’n onrealistiese 18% verhoging terwyl 174 000 meer mense nou werkloos is as in die vorige kwartaal. Vier uit elke tien werkers in Suid-Afrika is werkloos. Dit is van die hoogste in die wêreld. ’n Drastiese “nuut-dink” oor die rol van vakbonde in Suid-Afrika is dringend nodig.

2. Hoe het ons ekonomie so skeef getrek gekom?

Een van die belangrikste redes is dat sekere vakbonde te veel mag het. Die regering het in die verlede agteroor gebuig om vakbonde soos Cosatu om politieke redes te bevoordeel.

Daarom het ons Arbeidswetgewing Cosatu bevoordeel en ander vakbonde in ’n swakker posisie inforseer. Die gevolg was dat Marikana en al die stakings ná die Marikana-staking onbeskermde stakings was. By hierdie stakings is die reëls wat die Wet op Arbeidsverhoudinge voorskryf, geïgnoreer. Dan mag die werkgewer tugstappe instel en na ’n waarskuwing die werkers afdank. Waar werkgewers sulke werkers wel afgedank het, is hulle later deur die vakbonde en die regering geforseer om hulle weer aan te stel. Die werkers het dus met hulle onwettige staking geslaag om hul werk te behou en verhogings te beding. Dit skep chaos op die arbeidsterrein. Om watter rede moet enige werkgewer of werker in die toekoms hom/haar ooit weer steur aan die wetgewing?

3. Wat kan hieraan gedoen word?

Ons kort meer van Margaret Thatcher se beleidsrigtings in Suid-Afrika en minder SAKP en ANC sosialistiese beleidsrigtings.

In die sewentigerjare van die vorige eeu het vakbonde in Brittanje soveel mag gehad dat ’n Steenkool-mynwerkerstaking in 1974 Eerste Minister Heath se regering tot ’n val gebring het.

Toe mev. Tatcher in 1979 aan bewind kom, het sy haarself verbind om die mag van die vakbonde te verminder. “Hulle ondermyn ons parlementere demokrasie en vernietig ons ekonomiese vermoë,” het sy gesê. Sy was ’n voorstander van ’n meer buigbare arbeidsmark, die privatisering van staatsmaatskappye en minder beperkinge op die ekonomie ten einde groei te stimuleer.

Soos haar beleidsrigtings geïmplementeer is, het dit heftige reaksie uitgelok met landswye stakings. Met druk van binne haar eie party vir toegewings sê sy by die party se 1980 kongres: “You turn if you want to.The lady’s not for turning.”

4. Landswye stakings.

In 1984 het Arthur Scargill, president van NUM (National Union of Mineworkers) ’n finale staking aangekondig om mev. Thatcher ’n les te leer soos hulle eerste minister Heath voor haar ’n les geleer het.

Die stakings gaan gepaard met baie geweld en intimidasie. Die polisie het hulle hande vol. Meer as 11 000 mense word in hegtenis geneem vir geweld en omdat hulle ander geïntimideer het. Scargill beskryf Thatcher as “erger as ’n Latyns Amerikaanse diktator.”

5. Gevolge

Aanvanklik het werkloosheid en wanorde toegeneem. Dit lei daartoe dat 364 vooraanstaande ekonome in ’n gesamentlike verklaring Thatcher kritiseer en druk op haar plaas om ’n ander rigting in te slaan. Op ’n tydstip het mev. Thatcher se gewildheid tot 23% gedaal – die laagste van enige vorige eerste minister. Haar standpunt was egter deurgaans: “The lady’s not for turning”.

’n Jaar na die staking begin het, is Scargill verplig om ’n nederlaag te erken en die stakings te beëindig. Ontevredenheid en armoede as gevolg van die staking onder sy eie vakbondlede het hom daartoe forseer. Vakbonde sou nooit weer hierna dieselfde mag in Brittanje hê nie.

Toe mev. Thatcher Eerste Minister geword het in 1979 was daar in Brittanje 4 583 stakings en is 29 miljoen werksdae verloor. Tydens mev. Thatcher se termyn het hierdie stakings deurlopend gedaal tot 630 in 1990 met minder as 2 miljoen werksdae wat verloor is. Inflasie in Brittanje het gedaal van 18% na 8,6%. Teen 1987 het werkloosheid gedaal met die ekonomie stabiel en sterk. Die laer inflasie het gemaak dat Britse maatskappye met hoër produktiwiteit skielik weer in Europa kon begin meeding. In hierdie jaar is mev. Thatcher vir ’n derde termyn as Eerste Minister herkies. ’n Prestasie wat geen ander Eerste Minister in die twintigste eeu kon herhaal nie.

6. En Suid-Afrika?

Enkele lesse wat ons uit die gebeure in Brittanje en mev. Thatcher se optrede kan leer:

6.1 Marikana en die stakings daarna het die geloofwaardigheid van die stelsel van kollektiewe bedinging in Suid-Afrika ernstig aangetas. Dit is tyd dat ons Arbeidswetgewing hersien word en meer buigbaar gemaak word. So moet die outydse beginsel van bevoorregting van die sogenaamde meerderheidsvakbond verander. Die skewe balans tussen die regte van werkgewers en werknemers moet ook reggestel word om werkloosheid te verminder.

6.2 As ’n gestremde persoon of ’n arm kind om ekonomiese redes bevoordeel word, is dit aanvaarbaar as regstelling. As ras 19 jaar na 1994 egter steeds as enigste kriterium vir regstelling en ekonomiese bemagtiging in Suid-Afrika gebruik word, vernietig dit die grondwet van 1994 se drome van geen diskriminasie op grond van ras, geloof, geslag of taal nie. Regstelling van hierdie rasse verkeerd-stelling is nodig.

6.3 ’n Beter opgeleide polisiemag om gebeure soos Marikana en ander geweldstakings te hanteer, is nodig. Dit sluit ook ’n regering in wat sterk genoeg is om rug styf te maak teen stakers en die land se wette af te dwing.

6.4 In belang van Suid-Afrika moet die ANC leierskap nou reeds vakbonde se mag begin verminder en die nodige veranderinge aan die huidige arbeidsbedeling aanbring. Om hierin te kan slaag sal die ANC regering eers die onnatuurlike houvas wat Cosatu-vakbonde op die ANC het, moet verbreek in belang van die werklose meerderheid van Suid-Afrika se mense. Sulke stappe lyk tans uiters onwaarskynlik.

Toe die ANC in 1990 ontban is, het die organisasie baie min politieke strukture gehad. Tot ’n groot mate het die ANC sy strukture met die oog op die 1994 verkiesing op bestaande Cosatu- en Civic strukture gebou. Dit het hierdie groeperinge bo hulle vermoë invloed binne die ANC gegee. By die Mangaung-ANC kongres was daar duidelike pogings om hierdie Cosatu houvas af te skud. Die toekoms sal leer in hoeverre hiermee geslaag gaan word.

7. Enigste alternatief.

’n Alternatief is om die ANC by ‘n verkiesing tot onder 50% steun te druk. Dit sal nie deur een politieke party reggekry word nie, maar deur ’n alliansie van opposisiepartye wat elkeen die maksimum stemme uit sy betrokke nismark kry. As hierdie partye na ’n verkiesing verstandig saamwerk, sal die ANC in opposisie gehou word en kan van bogenoemde arbeidshervorminge in belang van Suid-Afrika in werking gestel word.

oooOOOooo