DR PIETER MULDER, LEIER VF PLUS.  OKTOBER 2004. (899 woorde)

As jy deur ’n rassebril na Zimbabwe kyk, dan sien jy wit boere wat selfsugtig weier om hulle grond af te staan en wat die land destabiliseer as marionette van die Weste.

As jy die rassebril afhaal, sien jy die groot verskille tussen die huidige verkiesings in Botswana en Zimbabwe. Dan sien jy in Zimbabwe ’n diktator wat weier om die mag af te staan. Jy sien ’n land waar net sewe van die 55 opposisielede nie vir nietighede in die tronk was nie — en waar alle opposisiekoerante gesluit word. Jy besef ook dat minder as 1% wit boere nie die land kan destabiliseer nie.

As jy met ’n rassebril na MIV/vigs kyk, is dit ’n “Westers ontwerpte” siekte om “swart mense uit te wis” soos die Afrika Nobelpryswenner, Wangari Maathi sê.

As jy die rassebril afhaal sien jy die grootste menslike krisis na die Swart Dood in Europa wat ons almal op een of ander wyse gaan tref.    

President Mbeki vra in die parlement dat rassisme in Suid-Afrika deurgepraat moet word. Onder die opskrif “Rassedialoog” (24 Oktober 2004) hoop Rapport in ’n hoofartikel dat rassisme in so ’n openbare debat uitgepraat sal word.

Kan ons in die huidige tyd ’n gebalanseerde debat oor ras in Suid-Afrika voer?

  • In president Mandela se tyd is daar gepraat van ’n skikking wat tussen die verskillende groepe gevind moet word. In die huidige tyd word daar net gepraat van die oorwinning wat die een groep oor die ander behaal het.
  • In president Mandela se tyd is gesoek na kompromieë. In die huidige tyd is die slagspreuk: “Die ANC het die antwoorde en weet die beste”. As jy nie inval nie is jy onpatrioties en waarskynlik rassisties.
  • In president Mandela se tyd is gepraat van die reënboog; nou hoor ons net van wit en swart.

Die gevolge hiervan? “ANC-oorwinning” in plaas van skikking;  “die-ANC-weet-die-beste” in plaas van kompromieë; swart en wit rassisme in plaas van reënboog; polarisasie in plaas van versoening.

Kan ons in die huidig tyd ’n gebalanseerde openbare debat oor ras in Suid-Afrika voer? Ek is bevrees nie. Leiers moet eers met hulle optredes en uitsprake ’n ander klimaat skep – verkieslik ’n versoeningsklimaat.

In ’n versoeningsklimaat kan albei kante foute erken en toegewings maak. In ’n klimaat van beskuldigings beweeg groepe weg van mekaar en verhard standpunte. Dit alles lei onafwendbaar tot groter polarisasie. In so ’n klimaat beklemtoon elke kant outomaties die meer radikale standpunte. President Mbeki se standpunt dat wittes alle swartes beskryf as “onwelriekend, animalisties, barbaars en verkragters” is beslis so ’n radikale standpunt. Dit lok onmiddellik by my ’n teenreaksie uit. Dan haal ek Jon Qwelane se rubrieke aan waar alle wittes beskryf word as “rassisties, onderdrukkers, selfsugtig en uitbuiters”.

Volgens president Mbeki het die verlede “ons gemoed so rassisties gekorrupteer”. Dan behoort die jeug gelukkig vry van hierdie vooroordele te wees.

As ek na die ANC jeugliga se standpunte luister, bepleit hulle egter niks anders as gekamoefleerde vergelding van swartes teen wittes nie.

As ek Toast Coetzer se artikel in Rapport (24/10/2004) lees, is hy ontsteld oor dieselfde rassistiese reaksies by sommige jong wittes.

Hierdie jongmense, wit en swart, was ses jaar oud toe president Mandela vrygelaat is. Wat weet hulle van die verlede af? Dit moet  die huidige politieke klimaat wees wat hulle beïnvloed. Sommige swart leiers se opruiende uitsprake, saamgelees met al die emosioneel gelaaide eensydige TV programme oor die onregte van die verlede, kweek hierdie swart radikale. Aan die wit kant kweek sport kwotas, polities korrek saamgestelde  Springbokspanne en regstellende aksie saam met onverantwoordelike braaivleispraatjies soortgelyke radikale.

Is dit ’n krisis? Net as die probleme geïgnoreer word en dit die meerderheid se standpunte word.

In alle gemeenskappe is daar radikale standpunte. Sedert die sestigerjare is daar intense media pogings om rassisme in die VSA te bestry. Nieteenstaande dit kry jy steeds van die ergste rassiste in die VSA.  Jy sal dit in Washington en Londen kry. Maar jy kry hulle ook in Soweto en in Kaapstad. Vra my. Ek het al met sulke mense in Washington en Soweto probeer debatteer.  Maar dit is altyd ’n minderheidstandpunt. ’n Minderheidstandpunt wat nie onnodige status behoort te kry nie.

Wanneer is ’n gemeenskap in die moeilikheid? ’n Gemeenskap is in die moeilikheid as hierdie radikale minderheidstandpunte die standpunte van die meerderheid van die gemeenskap word. Dit is beslis nog nie die situasie in Suid-Afrika nie.  Dit is beslis reeds die situasie in Israel en Palestina.

Hoe voorkom ons dit? Deurdat leiers die voorbeeld stel. Deurdat leiers aan alle kante die probleme aanspreek en ’n ander klimaat skep as die huidige. Die President en die regerende party het hierin ’n groter rol te speel as die opposisie. Hulle bepaal grootliks die openbare debat se styl en inhoud. Tans kan ons nie ’n debat oor MIV/vigs of Zimbabwe voer sonder om by ras te draai nie.

Die ANC vind dit gerieflik om die DA se konfronterende styl as verskoning vir hulle eie radikalisering te gebruik. Met ’n 70% meerderheid kan die ANC, anders as die DA, bekostig om verstandigheid bo kort termyn gewildheid te kies.

As leiers die rassebrille afhaal, word dit moontlik en eintlik baie maklik om ’n sinvolle debat oor hierdie sake te voer. Wat ’n opwindende toekoms is dan moontlik. Wyse en grootmoedige leiers aan alle kante kan dit doen. Daar is sulke leiers. Opportunistiese, kleinlike en kortsigtige leiers, kan nie. (Einde 899 woorde)