Die aand van 13 Maart 1781 sien William Herschel ‘n eienaardige ster. Herschel is ‘n  Britse sterrekundige. Hy is besig om na dubbelsterre te soek. Die snaakse ster sit by die punt van die bul se horings. Toe hy vier nagte later weer kyk, het die “ster” beweeg. Dan moet dit ‘n komeet wees, is sy gevolgtrekking. ‘n Unieke komeet — Die enigste komeet sonder ‘n stert?

Die groot Franse komeetjagter, Charles Messier, skryf dat hierdie ‘n unieke komeet moet wees. Komete beweeg deur die ruimte met sterte van gas en stof. Die sterte word al langer soos die komeet  nader aan die son kom.  Herschel se komeet is die eerste een wat hy sien sonder ‘n stert. Die komeet se baan kan hy ook nie reg voorspel nie. Komete het groot elliptiese bane. Binne dae nadat hy die nuwe komeet se baan voorspel het, sit die komeet in ‘n verkeerde plek. Hierdie komeet se baan lyk meer sirkelvormig, soos ‘n planeet se baan. Maar hierdie is nie een van die vyf planete nie. Die aarde het net een maan en vyf planete. Daar is nie meer planete nie. So staan dit in alle wetenskaplike boeke van daardie tyd. Hierdie moet ‘n unieke komeet wees want daar is nie nog planete nie, is die redenasie.

Vir baie eeue is aanvaar dat naas die Aarde daar net vyf planete is. Die week se sewe dae is dan ook na die Son (Sondag) en die Maan (Maandag) en die vyf planete vernoem.

Uiteindelik kan die feite nie langer geïgnoreer word nie. Herschel het onbewustelik ‘n nuwe planeet ontdek. Vir duisende jare het sterrekykers na die geheimsinnige bewegings van vyf sigbare planete tussen die sterre deur gekyk. Nou blyk dit dat daar ook ‘n sesde planeet is. Hiermee herskryf Herschel 6000 jaar se wetenskaplike kennis.

Skielik was daar in volgorde na Jupiter en Saturnus nog ‘n planeet. In die gode wêreld was Uranus die vader van Saturnus en die Oupa van Jupiter.  Herschel het ‘n poging aangewend om die nuwe planeet na die Britse koning George te vernoem. Dit is nie aanvaar nie. Die planeet word na Uranus, die god van die “sky” genoem.

Uranus, wat eers baie later na die bekende eerste vyf planete ontdek is.
  • Hoe verklaar ons dat die planeet Uranus nie Kepler  se wette wil gehoorsaam nie?

Uranus is ‘n planeet met ‘n wil van sy eie. Die sterrekundige Johannes Kepler het reeds in 1509…wette neergelê oor presies watter bane planete om die son volg. Uranus hou egter nie hierby nie. Dan is die planeet voor sy berekende posisie en dan is die planeet weer ver agter. Die planeet is reeds in 1781 ontdek maar teen 1830 kon die wetenskaplikes steeds nie die afwykings van sy baan verklaar nie. Wat dit moeiliker maak, is dat die planeet 84 jaar neem om een keer in sy baan om die son te beweeg. Uranus sou dus eers teen 1865 sy eerste omwenteling voltooi het.

‘n Jong Britse wiskundige, John Couch Adams, pak die probleem aan. In 1845 bied hy sy oplossing aan. Hoe (swaarder) meer massa  ‘n voorwerp het, hoe meer swaartekrag/gravitasiekrag oefen dit uit. So het die Aarde ‘n groot invloed op die Maan se bewegings.  Sir Isaac Newton het hieroor wetenskaplike wette gemaak.  Volgens Adams moet daar ‘n groot onontdekte planeet in ‘n baan buite Uranus wees wat Uranus se bewegings beïnvloed. As hierdie planeet in sy baan voor Uranus is, versnel dit Uranus se beweging. As die planeet agter Uranus is, rem dit Uranus se bewegings. Adams gaan so ver om selfs die nuwe planeet se moontlike grootte en posisie te bereken.

‘n Opgewonde Adams neem sy bevindinge na George Airy, hoof van die beroemde koninklike sterrewag by Greenwich. Airy is egter ‘n verbeeldinglose en hardkoppige ou Engelsman.

 Hy steur hom nie aan die jong man se voorstelle nie. Hy gaan nie die sterrewag se roetine verbreek ten einde te soek op die plek waar Adams beweer ‘n nuwe planeet moet wees nie. As gevolg van Airy bly Uranus se oneweredige baan steeds onverklaar.

Uranus se oneweredige baan, waarin die planeet dan vinniger en dan stadiger beweeg, kan nie verklaar word nie. Die enigste verklaring is dat daar ‘n onontdekte planeet voor Uranus is wat Uranus vorentoe en vinniger in sy baan trek. As die onbekende planeet agter Uranus is, rem dit Uranus en beweeg Uranus stadiger in sy baan. Die planeet moet nou gesoek word om die teorie korrek te bewys.

Onwetend van Adams se bevindings werk die Franse wetenskaplike, Jean Joseph Leverrier, ook aan die probleem van Uranus se oneweredige baan. ‘n Jaar na Adams kom hy tot dieselfde gevolgtrekking. Hy laat weet die Berlynse sterrewag van die posisie van ‘n moontlike nuwe planeet wat Uranus se bewegings beïnvloed. Dieselfde aand, 23 Sept 1846, spoor hulle binne minute die nuwe planeet op. Hulle noem die nuwe planeet Neptunus. Die agste planeet van die son af, is ontdek. Deur Neptunus se swaartekrag/gravitasie invloed op Uranus in te reken kon Uranus se baan nou baie meer akkuraat voorspel word. Leverrier en die Franse sou die eer hiervoor kry en nie Adams en die Britte nie.

Newton en Kepler se wette het nie net Uranus se bewegings verklaar nie maar het ook ‘n nuwe planeet se posisie presies reg voorspel.

Neptunus, die agtste planeet, wat ontdek is deur Uranus se oneweredige baan te bestudeer.
  • Watter planeet is gedeeltelik na ‘n sterrekundige vernoem?

Anders gestel:— Watter sterrekundige het daarin geslaag om die planeet wat hy help ontdek het, gedeeltelik na hom te vernoem?

Die planeet Neptunus is blou en die Franse sterrekundige Jean Joseph  Leverrier het voorgestel dat dit na die seegod, Neptunus, vernoem word .  Dit was ‘n gewilde naamkeuse. Berekeninge van Leverrier het dit moontlik gemaak om Neptunus in 1846 te ontdek. ‘n Maand na die ontdekking het Leverrier egter besluit dat die planeet na homself vernoem moet word. Hy begin van Neptunus skryf as die planeet Leverrier. Voortaan noem hy ook Uranus, wat in 1781 deur William Herschel ontdek is, die planeet Herschel. Hierdie bietjie Sielkunde wou nie werk nie.Vir die wetenskaplike gemeenskap was die name nie aanvaarbaar nie. Neptunus en Uranus sou die planete se name bly.

Neptunus en Uranus se bane om die son het sekere klein afwykings gehad. Dit kon beteken dat daar dalk nog ‘n onontdekte planeet buite Neptunus bestaan. Die Amerikaanse sterrekundige Percival Lowell het in 1905 besluit om sy kritici se monde te snoer deur hierdie planeet te probeer ontdek. Hy het dit “Planeet X” genoem. Lowell het sy lewe spandeer deur Mars en die “kanale” op Mars te bestudeer. Hy het geglo dat daar intelligente wesens op Mars bly. Die media en die publiek was opgewonde oor sy Mars-teorieë. Die sterrekundiges het dit heftig gekritiseer. Deur “Planeet X” te ontdek kon hy sy status as sterrekundige bevestig. Vir 10 jaar soek Lowell intensief  na hierdie planeet. Honderde berekeninge en foto’s van hom kon nie die verlore planeet opspoor nie. In 1916 sterf Lowell as ‘n teleurgestelde man. Onwetend het Lowell se sterrewag in 1915 wel die nuwe planeet afgeneem, maar dit nie besef nie.

 Na sy dood is daar voortgegaan met die soektog . ‘n Deurbraak kom op 18 Feb 1930.  Clyde Tombaugh, van Lowell se sterrewag, vergelyk twee fotografiese plate van die ruimte. Om 16h00 sien hy die klein afwyking tussen die plate waarvoor hy soek. Een ligpuntjie het ‘n entjie beweeg. Die verlore planeet is gevind! Op 13 Maart, wat Lowell se 75ste verjaarsdag sou wees, kondig die Lowell-sterrewag die nuwe ontdekking aan. 

Pluto, die laaste en verste planeet vanaf die Son. Om verskillende redes is Pluto later as ‘n dwergplaneet geherklassifiseer.

Die nuwe planeet moes ‘n gepaste naam kry. Lowell se weduwee glo dit moet na haar vernoem word — planeet Constance! Duisende voorstelle word deur die publiek gemaak. Een voorstel is dat dit planeet Zymal genoem word. Zymal is die laaste woord in die woordeboek en daarom is dit gepas vir die laaste planeet. Drie voorstelle word ernstig oorweeg — Minerva, Kronus en Pluto. Minerva is die godin van die wysheid maar ‘n asteroiede is reeds na Minerva vernoem. Kronus was die seun van die god Uranus en die vader van Neptunus. Pluto was die god van die donker onderwêreld. Die nuwe planeet was so ver dat dit baie min sonlig ontvang het. Dit het ‘n baan deur die veraf donker ruimtes om die son gevolg. ‘n Bykomende bonus was dat die eerste twee letters van Pluto die voorletters van Percival Lowell was. Elkeen in die Lowell sterrewag het een stem gehad. Eenparig is op Pluto besluit. Pluto is die enigste planeet wat gedeeltelik vernoem is na die sterrekundige wat ‘n groot deel van sy lewe spandeer het om na hierdie planeet te soek. So het Lowell na sy dood, met Pluto se naamgewing, meer reggekry as wat Leverrier, met Neptunus se naamgewing, kon regkry.

Volgens die sterrekundiges is die planete nou volledig vanaf Mercurius tot by Pluto. Hoewel die sterrekundiges se somme nou klop, glo Johann Titius dat daar steeds ‘n planeet weg is. Sy somme klop nie. Hy glo nie God, as die “Groot Argitek” sou so ‘n fout gemaak het nie.
  • Die “Groot Argitek” het ‘n fout met die planete gemaak.

Ken jy die frustrasie om nie ‘n legkaart te kan voltooi nie omdat een legkaartstuk weg is?

Johann Titius het in 1766 met so ‘n probleem geworstel. Tussen Mars en Jupiter was ‘n planeet weg. Titius het die afstand vanaf die Son vir elke planeet bereken. Daaruit het hy ‘n vaste natuurwet vir planete probeer opstel. Sy formule was die volgende.:

Neem die getal drie en hou aan om dit te verdubbel: 0, 3, 6, 12, 24, 48, 96.

Tel vier by elke getal: 4, 7, 10, 16, 28, 52, 100.

Deur die antwoorde met tien te deel, kry jy ‘n formule wat ongelooflik akkuraat die planete se afstande van die Son voorspel. Hierdie tabel dui dit aan:

 Die afstande van die Planete vanaf die Son in Astronomiese Eenhede.
Planeet Titius-Bode wet Afstand van Son
Mercurius 0,40 0,39
Venus 0,70 0,72
Aarde 1,00 1,00
Mars 1,60 1,52
? 2,80
Jupiter 5,20 5,20
Saturnus 10,00 9,54

Johann Titius se probleem is nou duidelik. Sy legkaart kort ‘n stuk. Om die formule perfek te maak kort hy ‘n planeet tussen Mars en Jupiter. Hy vra dan ook die vraag: Waarom sou God, die Groot Argitek, hierdie ruimte tussen Mars en Jupiter oop gelaat het?

Johann Elert Bode het ses jaar later Titius se vraag gelees. Hy is oortuig daar is ‘n verklaring. Bode skryf dat God nie so ‘n fout sou maak nie. Daar moet ‘n planeet in die oop ruimte wees, is sy oplossing. Die planeet is nog net nie ontdek nie en moet net gesoek word.

Meeste sterrekundiges in Bode se tyd, het sy voorstel as absurd afgemaak. Dit is niks anders as ‘n getalle toevalligheid nie, was hulle verklaring. As daar ‘n planeet tussen Mars en Jupiter was, sou dit lankal ontdek gewees het. Daarmee is die saak afgemaak en daar gelaat.

Nege jaar later in 1781 ontdek Herschel ‘n nuwe planeet. Hierdie nuwe planeet, Uranus, lê egter nie tussen Mars en Jupiter nie. Dit lê baie verder weg in ‘n baan buite om Saturnus. Dit los nie Bode en Titius se probleem op nie. Die verrassende is dat die nuwe planeet wel hulle saak oorweldigend versterk. Hoekom? Die nuwe planeet Uranus gehoorsaam die Titius Bode wet presies! Kan dit ‘n getalle toevalligheid wees?

Die afstande van die Planete vanaf die Son in Astronomiese Eenhede.
Planeet Titius-Bode wet Afstand van Son
Mercurius 0,40 0,39
Venus 0,70 0,72
Aarde 1,00 1,00
Mars 1,60 1,52
? 2,80
Jupiter 5,20 5,20
Saturnus 10,00 9,54
Uranus (Nuwe Planeet 1781) 19,6 19,2

Vier en dertig jaar na Titius se opmerkings, met die aanbreek van die negentiende eeu, is die probleem van die gaping tussen Mars en Jupiter nog nie opgelos nie. Uiteindelik kom daar ‘n wending. Nuwejaarsnag 1801 ontdek Giuseppe Piazzi, ‘n sterrekundige van Sisilië, ‘n eienaardige dowwe ster wat soos ‘n planeet beweeg. Kan dit die verlore planeet tussen Mars en Jupiter wees? Piazzi noem dit Ceres. Ceres se baan om die son word haastig bereken. Ceres se afstand van die Son is 2,77 astronomiese eenheid. Die Titius-Bode wet het voorspel dat die afstand 2,80 moet wees.Die ontdekking van die nuwe “planeet” is ‘n triomf vir Bode. Die nuwe “planeet”vul die gaping tussen Mars en Jupiter presies soos die Titius-Bode wet voorspel het. Bode is tevrede. Die probleem is nou opgelos. Die verlore stuk van die legkaart is gevind. Mense hou van orde. En alles is nou in plek.

‘n Jaar later gaan ‘n skokgolf deur die sterrekundige gemeenskap. Die Titius-Bode orde van die planete word kru versteur deur ‘n nuwe ontdekking. Nog ‘n nuwe “planeet” word op dieselfde afstand van die Son as Ceres ontdek. Dit word Pallas genoem.  In 1804 word ‘n derde “planeet” op dieselfde afstand ontdek en in 1807 ‘n vierde. Hulle word Juno en Vesta genoem.

Dit was nou duidelik dat hierdie nie regte planete kon wees nie. Herschel het hulle Asteroïedes genoem. Vandag weet ons dat Ceres die grootste van hierdie Asteroïede is. Ceres is egter net ‘n kwart van ons Maan se grootte. Duisende Asteroïdes  is reeds op hierdie afstand van die Son ontdek. Sterrekundiges praat van die Asteroïede gordel om die Son.

Hier is al die planete en die Asteroïede gordel. Dit voltooi nou die prentjie van ons sonnestelsel. Onlangse ontdekkings het egter nog duisende ander “sonnestelsels” met elk sy eie planete wat om hulle “son” of hulle ster in die ruimte beweeg, bevestig.

Moderne teorieë verklaar dat planete gevorm het toe ruimterommel op sekere plekke in hulle bane om die Son  begin saampak het. Volgens hierdie teorie moes ‘n planeet op die  afstand van die Son waar die gordel Asteroïedes tans is, ontstaan het. Waarskynlik is Jupiter se gravitasiekragte so sterk dat die rommel nooit aan mekaar kon bind om die nuwe planeet te vorm nie. Nou is daar net ‘n groot aantal los Asteroïede wat om die Son beweeg.  

Die ruimte bly vol verrassings — al is hulle ook georden. Titius en Bode was toe reg. Die “Groot Argitek” het nie ‘n fout gemaak nie.