In die eerste helfte van Februarie vanjaar is 16 boere vermoor.

Is dit normaal?

Tot nou skram die regering weg van uitsprake oor plaasmoorde. Hulle gaan so ver om te besluit (in 2007) om nie meer statistiek van plaasmoorde en plaasaanvalle bekend te maak nie. Op my vrae waarom die statistiek nie gegee word nie, was die antwoord dat dit maar soos enige ander moord is.

Na Februarie se 16 plaasmoorde het ek aan die Speaker van die parlement geskryf en gevra vir ʼn dringende debat oor plaasmoorde. Sy het aanvanklik geweier. Ek het aangedring op ʼn persoonlike gesprek met haar waarna sy tot ʼn debat ingestem het.

Die toestaan van die debat is reeds ʼn belangrike stap vorentoe want vir die eerste keer sedert 1994 erken die parlement nou dat plaasmoorde wel van dringende openbare belang is.

Is plaasmoorde soos enige ander moord — soos die minister sê?

Die moordsyfer op boere is vier keer meer as die gewone moordsyfer in Suid-Afrika. Dit bewys dat boere geteiken word.

Professor Rudolph Zinn, van die departement Polisiepraktyk by UNISA, het bevind dat die gemiddelde aantal aanvallers in plaasaanvalle agt is teenoor vier by huisroof in dorpe en stede. As ons na die wreedheid en marteling tydens plaasmoorde kyk, is dit duidelik dat dit nie net gewone misdaad is nie.

Dit kan nie gewone misdaad wees indien mense gemartel word totdat hulle sterf nie; waar ʼn vrou ure aaneen verkrag word terwyl haar man gedwing word om dit te aanskou; waar mense se koppe vergruis word en hulle aan die brand gesteek word; kookwater in die slagoffer se keel afgegooi word; met warm strykysters gebrand word; of waar ʼn elektriese boor gebruik word om gate in ʼn vrou se voete te boor nie.

In ʼn geval by Parys is ʼn boer se testikels uitgesny en deur die aanvallers geëet nadat hulle dit gekook het. Dit is die skokkende en ongemaklike waarheid oor plaasmoorde.

Suid-Afrika is ʼn gewelddadige land met ʼn moordsyfer van 33 per 100 000 van die bevolking. Die wêreldgemiddeld is maar 7 per 100 000. Die moordsyfer vir polisielede in Suid-Afrika is 54 per 100 000. Vir boere is dit 133 per 100 000. Hiervolgens is dit amper drie keer gevaarliker om te boer as om ʼn polisielid te wees.

Die Polisieverslag oor plaasaanvalle in 2003 het bevind dat die kanse vir ʼn boer om in ʼn plaasaanval beseer te word twee keer meer is, en om te sterf drie keer meer is as iemand in ʼn transito-rooftog. Dit regverdig ʼn parlementêre debat en spesiale polisie-aandag.

Soos verwag het politieke partye soos die EFF en Agang SA hulle ware kleure gewys en probeer om dit ʼn rassisme-debat te maak.

Statistiek van die Polisie toon in die tydperk 1991 – 2016 was 2 339 mense in 14 589 aanvalle op plase vermoor. Hiervan was 40% swartes en 60% wittes.

Die afgesaagde EFF argument dat wit boere hulle werkers sleg behandel, hulle vir ape aansien en skiet en die werkers eenvoudig mishandel, is weereens gebruik. Die ironie is dat in die fietsvoorval waarna verwys is, dit nie ʼn boer was wat betrokke was nie maar ʼn sendeling en dat die kind wat as ʼn aap in ʼn boom aangesien en doodgeskiet is, deur ʼn swart man, Phelamandla Myeza geskiet is.

In die Polisieverslag word verwys na die Helen Suzmann-stigting wat bevind het dat in die minimum gevalle (minder as 1,8%) die moordenaars die boer of plaaswerkers geken het. Dit is dus nie plaaswerkers wat hulle eienaars vermoor nie. Dit is wel jammer dat die debat na daardie vlak gedaal het want wat die EFF en AgangSA eintlik sê is dat as jou werkgewer jou sleg behandel, kan jy hom/haar maar wreedaardig vermoor!

Tans is daar ʼn besliste verband tussen die toename van plaasmoorde en politieke uitsprake van politieke leiers wat wittes beskuldig dat hulle die grond gesteel het. Die Polisieverslag het bevind dat daar wel ʼn politieke motief bestaan by plaasmoorde, maar die presiese persentasie is moeilik om te bepaal.

ʼn Belangrike voordeel van die debat was dat ander politieke partye in die parlement gedwing was om hulle oor plaasmoorde uit te spreek en 95% dit sterk veroordeel het.

Die witskrif op veiligheid en sekuriteit by die parlement se Polisiekomitee identifiseer “kwesbare groepe” maar meld slegs vroue, kinders en buitelanders in Suid-Afrika. Ek het voorgestel dat boere ook gevoeg moet word as kwesbare groep. Na die debat sal dit moeilik wees om dit nie te aanvaar nie. Die minister van Polisie het in sy antwoord gesê dat hy aanvalle en moorde op boere nie gering ag nie en hulle kwesbaarheid verstaan. Hy het hom ook verbind om voorstelle oor plaasmoorde sterk te steun.

Die opvolg uit die debat is dat ek o.a. in die Polisiekomitee gaan voorstel dat landelike beveiliging spesialis ondersoekspanne kry; reserviste vermeerder word; finansiële ondersteuning vir veiligheidsnetwerke; veroordeling en vervolging van opsweping teen wit boere; meer polisievoertuie gegee word en ʼn behoorlike wetenskaplike ondersoek na die oorsake en wreedheid van plaasmoorde, gedoen word.

Behalwe vir die menslike tragedie van plaasmoorde raak dit ons almal. In 1990 was daar sowat 65 000 kommersiële boere in Suid-Afrika – tans slegs 35 000. Hierdie boere produseer 95% van ons kos. Boere word minder terwyl die bevolking van 55 miljoen wat moet eet, meer word. Daarom is voedselsekerheid belangrik anders is hongersnood ons voorland. Die boere van Suid-Afrika verdien, oor politieke grense heen, ons almal se ondersteuning.