DR PIETER MULDER (Parlementslid en leier van die VF+)

Artikel in die tydskrif Woord en Daad van die Potchefstroomse Universiteit vir CHO; Winter 2003, no 348, p28

Waarom die lawaai oor parlementslede wat van een party na ‘n ander oorloop? Dit is tog nie onbekend in Suid-Afrika nie. Ouer persone sal Mnre Marais Steyn en Blaar Coetzee onthou wat van “Sap” na “Nat” oorgeloop het en NP ministers geword het. Meer onlangs, kort voor 1994, het mnr Andries Beyers dieselfde gedoen.

Die rede is dat Suid-Afrika na 1994 van ‘n kiesafdelingstelsel na ‘n proporsionele kiesstelsel verander het. Een van die argumente, toe hierdie sake in die grondwethof beredeneer was, was dat oorloop in ‘n  kiesafdelingstelsel as aanvaarbaar beskou word maar dat dit ondemokraties is in ‘n proporsionele stelsel.

Waarom die verskil? In ‘n kiesafdelingstelsel stem die kiesers vir ‘n spesifieke persoon wat hulle in die Parlement gaan verteenwoordig. Hy ontvang sy mandaat van hulle en is aan hulle verantwoordbaar vir sy optrede. In die proporsionele stelsel stem die kiesers vir ‘n politieke party wat dan individue volgens ‘n partylys na die parlement stuur. Met die sertifisering van die grondwet in 1996 het die grondwethof bevind dat in ‘n proporsionele stelsel hierdie politieke partye, eerder as die betrokke individuele parlementslid, aan die kiesers verantwoordbaar is.

Die kern van die probleem is hoe jy verteenwoordiging sien. Daar is twee soorte verteenwoordiging: ‘n Parlementslid kan as ‘n trustee van die kiesers of as ‘n afgevaardigde (‘n delegaat) van die kiesers beskou word. ‘n Afgevaardigde of ‘n delegaat ontvang ‘n mandaat van die kiesers en kan teoreties niks buite die gedelegeerde magte doen sonder om eers weer sy mandaat te vernuwe nie. ‘n Trustee daarteenoor het volmag en word nie deur die mandaat beperk nie. Die trustee moet kyk wat volgens sy gewete en sy oordeel in die beste belang van die mense wat hom of haar gestuur het, is en daarvolgens optree. Dit sluit die moontlikheid om oor te loop in. 

Politieke partye se argumente oor die oorloopwetgewing in Suid-Afrika kan rondom hierdie twee uitgangspunte opgesom word. Partye soos die ANC, die DA en die NNP, wat almal ten gunste van oorloop is, het geargumenteer dat  ‘n verkose parlementslid se vryheid van gewete aangetas word as hy nie self kan besluit om oor te loop nie. ‘n Verdere argument is dat politiek vloeibaar is en drasties kan verander oor ‘n tydperk van vyf jaar tussen verkiesings. Parlementslede moet dan kan oorloop om by die nuwe omstandighede of nuwe beleidsrigtings van partye te kan aanpas. Die politieke werklikheid in die parlement kan nie, soos in ‘n flitsfoto, vir vyf jaar vasgevries word soos dit die dag met die verkiesing was nie. Oorloop maak dit meer vloeibaar.

Partye soos die IVP, die UDM en die VF het geargumenteer dat ‘n individuele parlementslid steeds die reg het om van politieke party te verander as die lid volgens sy of haar gewete so voel. Omdat die kiesers vir ‘n politieke party en nie vir die individu gestem het nie, is die eerbare wyse dan om as parlementslid te bedank en hom by die ander party weer verkiesbaar te stel. Daardeur word die verhouding tussen partye nie versteur nie. Volgens hierdie standpunt is die proporsionele kiesstelsel die mees korrekte wyse om seker te maak dat die kiesers se wil presies in dieselfde verhouding na die Parlement of Stadsraad oorgedra word — ‘n 40% party het 40% verteenwoordigers. Die oorloop van verkose lede vernietig hierdie verhouding en dwarsboom so die kiesers se oorspronklike wil. Hierdie vernietiging van die verhouding tussen partye is meer ingrypend in ‘n situasie waar ‘n ander party as wat die kiesers verkies het, na die oorloop van enkele lede, nou skielik die regering vorm omdat hulle die meerderheid het. Dit is die situasie wat deurlopend in KwaZulu-Natal dreigend is. Met die geweldsgeskiedenis van die betrokke provinsie bly dit ‘n gevaarlike situasie om ‘n regeringsverandering in die provinsie na die oorloop van sekere lede deur te voer, terwyl die kiesers ‘n teenoorgestelde wens tydens die vorige verkiesing in 1999 uitgespreek het.

 ‘n Ander gevolg kan wees dat die regerende party na die oorloop skielik ‘n tweederde meerderheid het wat die kiesers berekend nie aan hom wou gee nie. Nou kan hierdie party ingrypende grondwetwysigings deurvoer en beskermde artikels verwyder. Hierdie is tans ‘n moontlikheid in Suid-Afrika se Nasionale Parlement waar die ANC na die oorloopperiode skielik ‘n tweederde meerderheid het.

Soos alle wetgewing het die oorloopwetgewing ook allerlei onvoorsiene gevolge gehad. Suid-Afrika is die enigste demokratiese land waar daar tans vyf nuwe politieke partye in die Parlement sit. Politieke partye wat nog nooit aan enige verkiesing deelgeneem het nie. Al vyf hierdie partye is enkel-persoon partye. Die volgende parlementêre verkiesing sal die lewensvatbaarheid van sulke partye bepaal. Intussen maak hierdie partye aanspraak op al die normale Parlementêre voordele soos gelyke spreekbeurte en salarisse vir hulle personeel.

Indië het op 1 Maart 1985 nuwe anti-oorloop wetgewing aanvaar omdat dit so ‘n ernstige probleem in hulle demokrasie geword het. Van 1967 tot met die nuwe wetgewing in 1985 het meer as 4 000 oorloopgevalle plaasgevind in die verskillende state.  In meeste gevalle het persone oorgeloop nadat ‘n beter posisie met meer inkomste, soos ‘n ministerspos, hulle aangebied is. Geld en poste is so gebruik om regerende partye te versterk of ander te laat val ongeag die wil van die kiesers.

As na meningspeilings en die reaksie van kiesers in Suid-Afrika gekyk word, is die oorweldigende meerderheid gekant teen oorloop. Van die spesifieke kritiekpunte in Suid-Afrika is dat oorloopwetgewing en die wysiging van Suid-Afrika se grondwet slegs aanvaar is om ‘n baie spesifieke situasie, wat in die Wes-Kaap ontstaan het, aan te spreek.

In die Wes-Kaap het die ANC beheer oor die Kaapstad stadsraad verkry nadat oorloopwetgewing aanvaar is. Die wetgewing  het dit moontlik gemaak vir die NNP-raadslede om uit die DA uit oor te loop nadat die twee partye se samesmelting misluk het.

Grondwetwysigings behoort selde en slegs vir baie ernstige en onvoorsiene probleme gebruik te word. Die VSA se grondwet is slegs enkele kere oor ‘n tydperk van honderde jare gewysig. Veral in Afrika is dit belangrik dat regerings nie onstabiliteit kweek deur maklike en gereelde grondwetwysigings nie.

Uit die briewe en ander reaksies van kiesers is die vermoede dat kiesers nie soseer ongelukkig is oor die tegniese argumente soos hierbo uiteengesit of oor die feit dat die NNP nou in ‘n alliansie met die ANC is nie. Dit gaan eerder oor ‘n instinktiewe gevoel dat hulle beheer verloor het en gekul is. Die NNP was reeds in 1994 deel van ‘n ANC-regering. Dit is dus nie nuut vir kiesers nie. Wat wel waar is, is dat die NNP ‘n beroep in 2000 op sy kiesers gedoen het om so te stem dat die ANC uit die Wes-Kaap gehou word. In reaksie op hierdie versoek het die kiesers presies so gestem. Twee jaar later, met behulp van oorloopwette, is die ANC nou deel van die regering in meeste dorpe in die Wes-Kaap. Dit sou daarom verstandiger gewees het as hierdie tipe wetgewing nie tussen verkiesings aanvaar is nie. Nou het kiesers sonder twyfel rede om gekul te voel.

Waar meeste kiesers in Suid-Afrika nog maar enkele kere gestem het sedert 1994, sou dit waarskynlik verstandiger gewees het om nie nou met oorloopwette te eksperimenteer voordat daar nie ‘n meer ervare kieserskorps en ‘n meer gevestigde demokrasie in Suid-Afrika is nie. Die risiko is tans dat kiesers skepties raak en al meer apaties teenoor die demokrasie word. Met Zimbabwe en die Ivoorkus as die nuutste mislukkings van die demokrasie in Afrika, is dit nie goed vir Suid-Afrika op die langer termyn nie.