DR PIETER MULDER, LEIER VF PLUS

MAART 2005

Waarom word ons skielik getref deur ’n vlaag naamsveranderinge? Stads-, dorps- en straatname word oral verander. Nieteenstaande besware word die veranderinge eensydig deurgeforseer. Van die Mandela versoeningsatmosfeer, waar dikwels agteroor gebuig is om minderhede te akkommodeer, is daar min oor.

In meeste plekke is  daar ernstige  klagtes oor die verval van paaie en kragnetwerke. Waarom is naamsverandering dan vir hierdie stadsrade tans die hoogste prioriteit?

Ek is oortuig dat dit gaan oor die komende plaaslike verkiesings.   

Toe ek ’n stadsraadslid in die tagtigerjare was, het ons geen salaris ontvang nie. Stadsraadwerk  is gesien as ’n diens aan die gemeenskap. Vandag ontvang raadslede baie groot salarisse en pensioene. Aan die einde van hierdie jaar is daar weer verkiesings vir alle plaaslike rade in Suid-Afrika. Stadsraadslede kan met die verkiesing hulle vaste salarisse verloor. Alle kiesers, ook ANC-kiesers, mor en kla oor stadsrade wat nie die afgelope vyf jaar presteer het nie. In ’n normale demokrasie word sulke raadslede uitgegooi. Die ANC raadslede is besig om met kosmetiese veranderinge soos naamsveranderinge hulle ondersteuners te paai sodat hulle weer herkies kan word. In ander lande sou dit nie gewerk het nie. Hier gaan dit waarskynlik slaag. Die prys vir hierdie politiekery is egter baie duur. Duur in terme van geld en duur in terme van gesindhede en toekomstige verhoudinge in Suid-Afrika.

Navorsing deur ’n span akademici wat deur die metroraad van Pretoria aangestel is, het bevind dat ’n naamsverandering ’n  klein sakeonderneming ’n minimum van R40 000 sal kos. So ’n onderneming moet alle promosiemateriaal, briefhoofde, naamborde, advertensies op voertuie, drukwerk, ens verander. Die koste van kennisgewings aan alle kliente, aan alle verskaffers en die verandering van rekeninge is nie eens bereken nie. Vir ’n groot onderneming word hierdie bedrag op R400 000 beraam. Praat nie eers van die rompslomp vir individue wat kennis van adresverandering sal moet gee nie.

Volgens die Nasionale Padagentskap kos dit tussen R50 000 en R150 000 vir elke hoofroete padteken wat verander word. Al die duisende kleiner padtekens moet bygetel word—so ook alle atlasse, rekenaarnavigasieprogramme ens.

Behalwe vir stadsname  word by verskeie plekke voorgestel dat meeste van die hoofstrate se name moet verander. Dit is waar die meeste besighede gelee is.  Die veranderingskoste vir die besighede in hierdie dorpe gaan miljoene beloop. Ironies is dit die inwoners wat die sterkste daarteen gekant is, wat die grootste kostes gaan dra. Dit is ook hierdie inwoners wat die meeste belasting bydrae tot die stadsrade se geldkoffers.

ANC raadslede argumenteer dat hulle maniere soek om helde uit die “struggle” erkenning te gee. As ’n stadsraad werklik ’n wen-wen oplossing soek, is daar baie maniere waarop die ANC hulle “struggle”-helde kan vereer sonder dat hulle Afrikaner name en -helde van die verlede hoef te beledig deur naamborde te verwyder. Meeste veranderinge het niks met die onlangse apartheidsverlede te doen nie.

As jy mense wil kwaad maak moet jy hulle geskiedenis, hulle helde en voorvaders beledig. Dit geld vir ANC helde maar ook vir Afrikaners. Tog is dit presies wat die ANC tans doen omdat hulle geen beleid het oor die verandering van plekname nie. Ek het met verskeie ministers daaroor gepraat en telkens ’n ander antwoord gekry.

Daar is oplossings vir hierdie probleme. Soos 1913 die afsnypunt vir grondaansprake is, kan soortgelyke riglyne vir plekname ontwikkel word.

Voorbeeld: In Potchefstroom was ’n riglyn voor 1994 om nie politici te vernoem nie. Daarom het Potchefstroom nie ’n Verwoerdstraat of ’n PW Bothalaan nie. Die huidige ANC voorstelle is dat oa Van Riebeeckstraat Peter Mokabastraat word en Tomstraat Steve Bikostraat. Deur die huidige magshebbers te vernoem, is daar die probleem dat binne enkele jare ’n ander politieke party regeer en al die name weer hernoem mag word. Die PAC kla reeds dat hulle helde geïgnoreer word.

Is Afrikaners nie onnodig sensitief nie? Nee.  Hierdie is ’n duidelike aanslag op die Afrikaner. Britse koloniale name soos King Williamstown, Queenstown, Durban en Victoria-Wes is nie onder druk nie.

Pres Mbeki het sy staatsrede in die parlement vanjaar gebou rondom die ANC Vryheidsmanifes se stelling dat Suid-Afrika aan al die mense wat hier woon behoort – swart en wit.  Wen-wen oplossings maak plek vir almal — swart en wit. Wen-verloor oplossings maak plek vir net een groep — ten koste van die ander. Watter benadering gaan ons vorentoe gebruik? Dit kan bepaal of ons ons energie in die toekoms gaan gebruik vir gevegte soos hierdie, en of ons dit eerder gaan gebruik om ’n wenland tot almal se voordeel te bou. ’n Uitspraak van President Mbeki hieroor kan raadslede tot regte prioriteite dwing.