PIETER MULDER, VOORSITTER VRYHEIDSFRONT

Junie 2006

In die wêreldwye debat oor minderheidsregte en selfbeskikking is dit net in Suid-Afrika waar hierdie begrippe so ‘n swaar regse en verkrampte beeld dra. Dit is jammer. Dit vertroebel die huidige debat in Suid-Afrika en verwar alle deelnemers. In ander lande word hierdie debat uit linkse en selfs sosialistiese hoeke gevoer. Daarom kon die Arbeidersparty in Brittanje aan Skotland ‘n eie parlement gee terwyl die Konserwatiewe Tories dit nie kon doen nie. Daarom veg die Koerde in Turkye vir selfbeskikking met ‘n politieke beweging wat polities links en sosialisties is.

Die heftige debatte tussen Afrikaners in die tagtiger- en negentigerjare is waarskynlik die belangrikste rede waarom minderheidsregte en selfbeskikking in Suid-Afrika ‘n regse beeld het. Dit was woedende gevegte tussen verlig en verkramp, regs en links, NP en KP. As deel van daardie debatte het die deelnemers en die media allerlei smeer-etikette aan mekaar gehang. ‘n Hele geslag smeerskrywers en -politici het ontstaan wat die Afrikanergeveg aan albei kante aan die gang gehou het. Behalwe waar iemand nog oor en weer verwyte wil uitdeel oor die verlede, is daardie Afrikanerdebat na 1994 nie meer ter sake nie. Uit ‘n Afrikaner-oogpunt gesien, is alles nuut of ten minste anders na 1994. Dit geld ook die indelings en etikette wat ons voor 1994 aan mekaar gehang het. Ek en Max du Preez moes onlangs in ‘n radio-debat met mekaar “veg” vir die luisteraars se vermaak! Die dilemma was dat ons gesukkel het om genoeg verskilpunte vir ‘n lekker debat te kry. Ek dink nie ek of Max het ingrypend van standpunte verander nie, maar die Afrikaner se probleme en die situasie het ingrypend verander. Skielik ontdek ons dat ons op van die nuwe probleme, dieselfde reageer. Gaan kyk watter Afrikaanssprekendes almal entoesiasties saamwerk vir ‘n nuwe Afrikaanse Universiteit of ontleed Breyten Breytenbach se onlangse standpunte oor Afrikaans.

Die onlangse FAK-gesprek oor Afrikaans se toekoms was nog ’n voorbeeld hiervan. Verwarrende mediaberigte hieroor bevestig hierdie punt. Joernaliste wat in Februarie 2000 na die gesprek deur ‘n voor-1994 bril gekyk het, het moeilik verstaan wat daar aangaan. Ou verligtes het skielik verkramp geklink en verkramptes verlig. Daar was ook geen duidelike patroon waarvolgens aan deelnemers politieke etikette volgens die ou reëls toegeken kon word nie.

Die verwarring in die huidige Afrikanerdebat word veroorsaak deur politieke kommentators, politici en akademici wat in hulle denke, as gevolg van die ou Afrikanergevegte, “etiket- gestrem” is. Hulle sien die huidige debat oor Afrikaans en die Afrikaner deur die voor 1994 bril en wil alles steeds so beoordeel. Die effek is dat jy vandag media-kommentators kry, wat as baie verlig deurgegaan het voor 1994, maar wat tans geen werklike bydrae tot die debat kan maak nie. Hulle redeneer nog op grond van voor 1994 uitgangspunte en etikette. Hierdie akademici en politici kry jy in alle huidige politieke partye. Die jeug het nie hierdie probleem nie. Hulle ken nie en verstaan nie die ou etikette nie. Hou ouer jy is, en in hoe meer Afrikaner gevegte jy voor 1994 betrokke was, hoe moeiliker skud jy die probleem van “etiket-gestremde” denke af.

Vir ‘n sinvolle en realistiese debat moet ons ‘n nuwe indeling maak. Dit is onafwendbaar dat mense weer etikette om ander sal hang. My indeling sal wees tussen mense wat realisties is oor die Afrikaner se posisie na 1994 en mense wat onwetend voor 1994 in hulle denke vasgehaak het.

Die wat vasgehaak het, sal nog ‘n tyd met ons wees, verwyte slinger en boeke skryf sonder om enige werklike bydrae te maak. Die ergste is dat sommige van hulle glo dat hulle op grond van hulle 1994 verligtheid, tans nog kan leiding gee en op die voorpunt van Afrikanerdenke is. Die nuwe werklikhede haal hulle vinnig in en baie van hulle politiek korrekte opmerkings maak nie meer sin nie.

Die mense wat werklik realisties is oor Afrikaans en die Afrikaner se posisie na 1994, sal vorentoe die werklike debat voer. In hierdie debat kom hulle onafwendbaar steeds meer by minderheidsregte en moderne selfbeskikking in al sy vorme uit. Hierdie begrippe word reeds as deel van alle gesofistikeerde demokrasieë aanvaar.

Kom ons praat teen hierdie agtergrond onbevange oor minderheidsregte en selfbeskikking. Nie oor selfsugtige minderheidsregte en selfbeskikking wat die Afrikaner bo ander wil verhef en glo dit is ‘n oplossing nie – dit is voor 1994 denke; Nie oor isolasie benaderings wat ‘n laer wil trek en glo die Afrikaner kan so die werklikhede van Afrika waarvan hy nie hou nie, ontvlug nie. Dit is oneerlik en eintlik net ’n dekmantel vir verskuilde apartheid. Moderne minderheidsregte en selfbeskikking het niks met rassisme te doen nie maar is nie bang om die werklikhede van etniese verskeidenheid aan te spreek as deel van enige moderne demokratiese oplossing nie. Daar is sulke haalbare oplossings vir Suid-Afrika.

Teen hierdie agtergrond is Pik Botha se ANC-aansluit-denke outyds en is minderheidsregte verlig. Teen hierdie agtergrond is Tony Leon verkramp met sy “veg-terug”-strategie, wat op die kort termyn stemme werf, maar oor die langer termyn geen oplossing vir die Afrikaner bied nie terwyl die FAK-gesprek modern en toekomsgerig is. Kom ons vergeet die ou etikette en voer hierdie toekomsdebat.