Dr Pieter Mulder

Hoe het Eskom in die posisie gekom waar hulle R450 miljard skuld? Eskom was voorheen winsgewend.

Hoe gebeur dit dat uit 257 munisipaliteite, slegs 18 skoon oudits kry volgens die jongste verslag van die Ouditeur-generaal?

Dit gebeur omdat Zuma en die ANC glo dat by die aanstel van persone, ’n lojale ANC beter is as ’n kundige persoon.

Verlede week getuig Zuma soos volg voor die Zondo-kommissie:

“Die ANC, as regerende party, het die reg om aan die regering voor te skryf watter lojale (ANC)-kaders as senior bestuurders en direksielede van staatsentiteite (SOE’s), asook hoofde van regeringsdepartemente aangestel moet word.”

Hierdie siening het die staatsdiens en SOE’s vernietig.

In Brittanje bestaan die staatsdiens uit beroepsmense. Amptenare wat oor ’n tydperk van 40 jaar spesialiseer in hulle rigting. Ons staatsdiens was daarop gebou. Ministers en politieke partye kom en gaan — maar die staatsamptenare dien en adviseer die regering van die dag. In enige suksesvolle land is kundige staatsamptenare en ’n stabiele staatsdiens die ruggraat van die staat.

Maar Zuma is nie alleen skuldig nie. By ’n Parlementêre skemerkelkfunksie kort na 1994 kla Thabo Mbeki, as nuwe adjunk-president, oor sekere regeringsprobleme wat hulle ondervind.

Ek reageer deur te sê dat hulle nie van hulle senior staatsamptenare moet ontslae raak nie. Daardie senior staatsamptenare se kennis en ervaring kan nie gekoop of oorgedra word nie.

Mbeki reageer deur te sê dat die meeste amptenare Afrikaners is – dus nie ANC ondersteuners nie. “Hulle sal ons saboteer.”

Ek verskil van hom en verduidelik waarom.

“Hulle is staatsamptenare. Hulle is geleer om die regering van die dag te dien – of dit nou ’n Nasionale Party- of ANC-regering is. Daardie staatsamptenare gaan ANC opdragte uitvoer uit vrees om hulle werk te verloor,” reageer ek.

Mbeki verstaan nie wat ek probeer oordra nie. Hy gee opdrag dat elke staatsdepartement en alle staatsondernemings soos Eskom, jaarliks aan die parlementêre portefeulje-komitees moet kom verslag doen oor hoe hulle met transformasie vorder.

By die komitees word hulle jaarliks berispe en teruggestuur om hulle personeel se rassesamestelling vinniger te verbeter. Volgens hierdie Mbeki transformasie-ideologie, was rasseverteenwoordiging baie belangriker as doeltreffendheid.

In die Zuma-tydperk verskuif dit verder van rasseverteenwoordiging na kader-ontplooiing. Dit beteken dat slegs ANC lojaliste nou aangestel word, ongeag hulle kundigheid. Swart persone wat nie ANC is nie, word ook nie aangestel nie. Die logiese gevolg was dat al hierdie instellings tot op ’n punt van ondoeltreffendheid, getransformeer is.

Eskom het 10 Uitvoerende amptenare in 10 jaar gehad.

Onder druk het 10 200 wittes Eskom vanaf 1994 tot 2002 verlaat. Vanaf 2008 tot 2011, het nog 455 ingenieurs, waarvan 110 wit, by Eskom bedank. As gevolg van kader-ontplooiing sien nie wit of swart ingenieurs kans om in so ’n atmosfeer te werk nie.

Die ANC was bang vir Afrikaner sabotasie. Uiteindelik het hulle eie transformasieproses die staatsinstellings ernstig gesaboteer.

Intussen moet ons as burgers eie planne maak. Al meer staatsfunksies word deur privaatinstansies oorgeneem. Burgerlike organisasies soos AfriForum maak slaggate in teerpaaie reg in plaas van munisipaliteite. Ons het meer privaat sekuriteitspersoneel as polisielede. Meeste organisasies gebruik eerder privaat koerierdienste as die poskantoor. Meer privaatskole en -universiteite word ’n werklikheid.

Voormalige president Motlanthe se Stigting het in April vanjaar ’n reeks sinvolle voorstelle aan minister Tito Mboweni en die regering gemaak oor hoe om die staatsdiens reg te ruk.

Hulle beveel aan dat senior staatsdiensamptenare deur die staatsdienskommissie en nie die betrokke ministers aangestel word nie, sodat duideliker tussen staat, regering en party onderskei word.

Kom ons kyk of hierdie voorstelle geïmplementeer word terwyl ons eie planne maak.Dr Pieter Mulder is ’n voormalige professor en parlementslid.