Dr Pieter Mulder voormalige Parlementslid

 en Adjunk-Minister van landbou.

September 2018

“Boere onderhandel met die regering oor grondonteiening” skreeu van die koerantopskrifte die afgelope tyd.

Is dit sinvol om met die regering hieroor te onderhandel?

Onderhandeling, ook met die regering, bly belangrik. As jy egter onvoorwaardelik en met net ’n vriendelike glimlag by die onderhandelingstafel opdaag, is jy in die moeilikheid. Landbou-organisasies wat dit alleen as uitgangspunt het, is naïef.

Bedingingskrag

Jy moet iets spesifiek hê waarmee jy kan beding?

Ek was reeds talle kere met die ANC in gesprek en in onderhandeling. Ons is altyd vriendelik ontvang en meestal het die ANC leiers positief op ons voorstelle gereageer — maar moenie dat dit jou mislei nie. Ons het net werklike sukses gehad die kere wat ons iets gehad het waarmee ons kon beding. Nie net vriendelikheid en slim planne nie – dan gebeur daar niks.

Waarmee gaan landbouleiers beding?

Ek kry verskillende antwoorde as ek hierdie vraag aan hulle vra.

Voedselsekerheid.

Sommige sê hulle gaan beding met voedselsekerheid.

Voedselsekerheid is ’n belangrike troefkaart wat beslis gebruik moet word. Daarsonder is hongersnood ons voorland.

Neem net in ag wat in Zimbabwe gebeur het. Teen die tyd wat die kosrakke in die winkels leeg was en die effek van geen voedselsekerheid duidelik geword het, was die meeste boere reeds van hulle plase verwyder.

Grondwet.

Ander landbouleiers sê hulle gaan beding met die grondwet. Volgens hulle het hulle reeds goeie regsmenings gekry en die beste advokate aangestel.

Die grondwet het verskeie bruikbare artikels. Leer net ’n les by die Afrikaanse Universiteite. Hulle het die les geleer dat die ANC se politieke mag en die grondwethof se uitsprake jou bruikbare artikels mag troef. Vra die Vrystaatse Universiteit. As dit gebeur — waarop val jy dan terug?

Parlement

Wat van bedinging in die Parlement word ek gevra?

Ons het al sukses gehad om wetgewing te wysig en te verbeter – maar ook mislukkings.

Eiendomsreg is lankal reeds op ’n glybaan na groter staatsbeheer deurdat die Nasionale Waterwet in 1998 ’n einde gemaak het aan private waterregte en in 2002 is grondeienaars se minerale en petroleum hulpbronne ook deur wetgewing ontneem en in staatsbesit geplaas.

In hierdie gevalle het die ANC hulle getalle-oorwig gebruik om hierdie maatreëls deur die parlement te stoomroller. Dit kan weer gebeur.

Buiteland

Agri SA is reg as hulle sê dat as jy nie langs die onderhandelingstafel sit nie, is jy in jou afwesigheid op die spyskaart. Hulle is egter verkeerd as hulle die hulp van AfriForum, of van die VF Plus of van druk uit die buiteland, afmaak. (Business Times, 2/9/2018 p.8 en Rapport Weekliks 2/9/2018 p.3)

Ek was verskeie kere in die buiteland waar ek Suid-Afrikaanse boere se situasie onder die aandag van die Verenigde nasies se Menseregtekommissie en ander internasionale organisasies soos UNPO gebring het.

As hierdie besoeke en byvoorbeeld AfriForum se besoeke aan die VSA ’n bydrae gemaak het tot president Trump se twiet, dan was dit die moeite werd.

Hoekom?

Omdat dit nodig is dat die ANC-regering die volle implikasies van ’n besluit oor die onteiening van grond sonder kompensasie besef voordat hulle ingrypende besluite hieroor neem en die grondwet wysig. Om agterna te kla en dan as regering martelaar voor die wêreld te speel gaan nie die skade aan Suid-Afrika se ekonomie herstel nie.

AGOA-wet

Die Amerikaanse AGOA-wet hou baie uitvoer-voordele vir Suid-Afrika in. Tussen 2000 en 2014 het die waarde van Suid-Afrikaanse uitvoer na die VSA verdubbel en byna 40% hiervan is aan AGOA te danke, volgens die departement van handel en nywerheid.

Politieke kommentators is verkeerd as hulle ons wat in die buiteland was daarvoor verantwoordelik wil hou as die Amerikaanse president Suid-Afrika se AGOA ooreenkoms opskort. (Beeld 28/8/2019 p.7).

Die Amerikaanse president gaan nie op grond van ons woord alleen die ooreenkoms opskort nie. Die AGOA-wet gaan dit bepaal. Daar is duidelik meetbare vereistes in die AGOA-wet waaraan ’n land moet voldoen om die voordele van AGOA te kan benut. Een van die vereistes, soos in artikel 104 van die wet, is dat die beskerming van private eiendomsreg ’n voorwaarde is.

Die wet bepaal ook dat die Amerikaanse president verplig is om ondersoek in te stel as daar ’n vermoede is dat ’n land nie meer aan al die vereistes van die AGOA-wet voldoen nie. Dit is wat Trump nou doen.

Zimbabwe is uit AGOA uitgesluit vanweë sy beleidsbesluite.

Die regering sal ernstig en betyds hiervan moet kennis neem asook van artikel 17 van die Verenigde nasies se Menseregtehandves wat oor eiendomsreg handel.

Buitelandse druk en die dreigemente rondom AGOA is daarom ’n belangrike verdere bedingingskaart wat ook in die onderhandeling gebruik moet word naas die ander bedingingsargumente hierbo genoem. Om dit te ignoreer, soos sommige landbouleiers wil maak, omdat hulle bang is dat dit die regering mag kwaad maak, sal ’n naïewe fout wees.

Voor 1994 het die ANC op ’n suksesvolle manier die Suid-Afrikaanse vraagstuk onder die wêreld se aandag gebring. Dit het gelei tot groot buitelandse druk op die vorige Suid-Afrikaanse regering. Daarom is enige kritiek van die ANC as soortgelyke metodes gebruik word om nou buitelandse druk op hulle te plaas, skynheilig en dubbele standaarde.

Waaroor onderhandel?

“We are williing to negotiate for our future, but not for our funeral” is ’n bekende onderhandelingsriglyn.

Twee voorbeelde:

Dit is sinvol om te onderhandel oor hoe meer swart kommersiële boere met titelaktes op grond gevestig kan word; oor hoe boere kan optree as mentors om te verseker dat hierdie nuwe boere suksesvol is en oor hoe groter landbousekerheid vir die toekoms verkry kan word. Sukses in hierdie verband kan tot groter stabiliteit lei.

Tweede voorbeeld:

Dit is gevaarlik en ’n fout om te onderhandel oor hoe grondonteiening sonder vergoeding geïmplementeer kan word.

Daardeur aanvaar jy reeds dat jou grond sonder vergoeding geneem mag word. Jy onderhandel nou net oor wat daarna volg.

Dit sou dieselfde wees as om met die man wat jou motor gesteel het, te probeer onderhandel oor of hy jou huis-toe gaan neem omdat jy nie meer ’n ryding het nie!

Waardering vir Kommersiële landbouers.

Dit is nie die eerste keer dat Suid-Afrikaanse landbou in ’n krisis is nie. Daar was reeds talle kere in die verlede droogtes; siektes en hoë pryse. Landbou het telkens in die verlede met unieke oplossings daar deur gekom.

Waarom dan nou skielik van ’n krisis praat?

Omdat hierdie krisis andersoortig is. Dit is nie die gewone landboukrisis van droogtes, pryse of siektes nie.

Ons het te doen met ’n onstabiele regering. Ons het te doen met bedreigde politieke leiers. Ons het te doen met ’n verkiesing wat voor die deur is en met ’n regerende ANC wat bekommerd is dat hulle nie 50% steun by die stembus mag kry nie.

In hierdie politieke proses word die landbousektor en grond en veral wit landbouers of boere ingesuig, aan die hare ingesleep en ’n slaansak gemaak om punte aan te teken in politieke gevegte waaroor hulle dikwels min beheer het.

Daar is minder blamering en meer waardering vir ons kommersiële boere nodig wat 95% van alle kos produseer.

Hulle is tans betrokke in ’n baie ernstige debat oor die toekoms van Suid-Afrika. Dit is ’n debat tussen twee breë denkskole; tussen meer sosialisme aan die een kant of meer vryemarkbeginsels vir die toekoms. In die beste belang van almal in Suid-Afrika mag hierdie geveg nie verloor word nie.

Onderhandelinge en gesprekke oor wen-wen oplossing is nodig — maar die geveg gaan slegs gewen word met slim en wyse planne maar ook met genoeg weerstand en druk van binne en van buite. Vriendelikheid alleen is ongelukkig nie genoeg nie.

Onthou Edmund Burke se standpunt: “Al wat nodig is vir die kwade om te wen, is dat mense wat die goeie voorstaan niks doen nie.”