Jou navraag oor minderheidsregte in die wêreld en in Suid-Afrika.

Dr. Pieter Mulder, VF Plus leier.

Inleiding.

In 1978 skryf mnr. Mandela die volgende in ʼn opstel uit die tronk waarin hy na Afrikaans en minderheidsregte verwys:

“Die afskaffing van Afrikaans sal nie net uit pas wees met die progressiewe ontwikkelings in die verligte wêreld nie, maar sal ook ‘n uitnodiging wees vir eindelose onvrede.

“Deur die geskiedenis was daar nog altyd ‘n diepe besorgdheid oor die kwessie van minderheidsregte wat dikwels gelei het tot skielike en gewelddadige onmin. Vandag het ons byna drie miljoen Afrikaners wat na bevryding nie langer onderdrukkers gaan wees nie, maar ‘n magtige minderheid gewone burgers wie se samewerking en goedgesindheid nodig gaan wees vir die heropbou van die land.” (Uit die Boek: Reflections in Prison van Mac Maharaj)

Daar is talle voorbeelde in Europa en in die res van die wêreld waar die laaste paar dekades die moderne grondwetlike tendens is om naas individuele menseregte, minderheidsregte of ook genoem groepsregte in grondwette by te voeg. Suid-Afrika is besig om grondwetlik agter te raak omdat ons maak of dit nie bestaan nie. Enkele voorbeelde:

Voorbeelde:

1. Indië: In Indië is in 2006 ʼn Ministerie vir Minderhede gevestig. Die ministerie het ʼn eie kabinetsminister en is verantwoordelik vir die sake van alle godsdienstige- en taal minderhede in Indië. Die eerste minister vir Minderhede was mnr. A.R. Antulay en die huidige minister is Naima Heptulla

2. Pakistan: Pakistan het sedert 2004 ʼn Ministerie vir Minderhede met op ʼn tydstip Shahbaz Bhatti, ʼn Christen as minister. Hy is in 2011 deur Moslem ekstremiste vermoor.

3. Israel: Israel het sedert 1948 ʼn Ministerie vir minderhede. Die huidige minister verantwoordelik is Shalom Simhon.

4. Estland: Na Estland in 1991 onafhanklik geword het, en Estnies as amptelike taal aanvaar is, het die regering met verskeie minderheidsgroepe in die land gesit wat onder druk gevoel het. In reaksie hierop het Estland in 1993 ʼn Wet op die Kulturele Outonomie van Nasionale Minderhede aanvaar. Die wet omskryf hoe so ʼn minderheid gedefinieer word, hoe lede van so ʼn minderheid vrywillig kan registreer ten einde ʼn Kultuurraad vir die minderheid te kies, ens. Hierdie Kultuurraad word deur die Regering gefinansier en het beheer oor belangrike sake soos onderwys vir daardie minderheidsgroep, hulle kultuurbelange soos monumente, ens. (Ek stuur die wet afsonderlik aan omdat dit interessant is. )

5. België: België gaan uit sy pad om erkenning aan die verskillende groepe in België te gee. Naas die Vlaamse en Franse bevolking is daar ook ʼn 70 000 Duitssprekende minderheid in België. Hoewel die Duitssprekendes slegs 1% van die bevolking uitmaak, maak die Belgiese grondwet ook vir hulle voorsiening in ʼn Duitse streek waar Duits die enigste taal is. Hulle het as gemeenskap beheer oor hulle eie onderwys en verskeie ander sake terwyl Duits as een van die amptelike Belgiese tale erken word en selfs op die geldnote erkenning kry. Eupen is die hoofstad van hierdie streek met ʼn eie Duitse Universiteit. (70 000 mense is die grote van ʼn middelslag dorp in Suid-Afrika).

6. Spanje: Spaanse politieke waarnemers praat van Spanje as ʼn nasie van nasies. Die 1978 Spaanse grondwet skep dan ʼn federasie wat vir die verskillende groepe, volke ruimte bied. Op hierdie wyse is Katalonië ʼn selfregerende provinsie van Spanje met Katalaans en Spaans as amptelike tale. In 2006 is ʼn Statuut van Outonomie aanvaar wat meer magte aan Katalonië as outonome provinsie binne Spanje gee. Die Katalane het byvoorbeeld daarop aangedring dat Katalaans een van die aankondigingstale by die Barcelona Olimpiese Spele moet wees. (Sou ons daarop aangedring het dat Afrikaans een van die amptelike tale moet wees as Kaapstad destyds geslaag het met hulle aanbod om die Olimpiese Spele in die Weskaap aan te bied waar Afrikaans die meerderheidstaal is?)

7. Turkye: Turkye wil graag deel van die Europese Unie word. Omdat die Europese Unie streng wette en regulasies het oor hoe minderhede beskerm moet word, begin Turkye al meer toegewings aan sy Koerdiese minderheid maak. Verlede jaar (30 Sept 2013) het die Turkse Eerste Minister Erdogan verdere toegewings aan die Koerde gemaak. Hulle mag nou in seker skole onderrig in hulle eie taal Koerdies kry. Tot op daardie tydstip mag Koerdiese kinders nie name geregistreer het wat die letters Q, W en X bevat het nie omdat die letters nie in die Turkse alfabet voorkom nie. Dit is nou verander. Hulle mag nou ook Koerdiese stede Koerdiese name gee en Koerdiese Islam vroue sal toegelaat word om in die staatsdiens kopserpe te dra. Die Europese Unie se Minister Stefan Fule het die toegewings dadelik verwelkom.

8. Indië en Onderwys: Minderheidsgroepe in Indië het die grondwetlike reg op kulturele onderwys. Die Indiese grondwet maak in Artikel 30 spesifiek daarvoor voorsiening. Die staat moet finansies verskaf en mag nie teen so ʼn skool diskrimineer nie.

Art 30 van die Grondwet van Indië lees:

30. Right of minorities to establish and administer educational institutions.

(1) All minorities, whether based on religion or language, shall have the right to establish and administer educational institutions of their choice.

 (2) The State shall not, in granting aid to educational institutions, discriminate against any educational institution on the ground that it is under the management of a minority, whether based on religion   or language.

9. Ethiopië as ʼn Afrika-voorbeeld: Na die burgeroorlog en afstigting van Eritrea vanaf Ethiopië in 1993 en om verdere taal en etniese probleme te probeer voorkom, het Ethiopië in 1994 ʼn nuwe grondwet aanvaar wat hiervoor voorsiening maak. Die grondwet het nege etnies gebaseerde provinsies (of state soos hulle verkies om dit te noem) geskep waarin ʼn spesifieke etniese groep telkens die meerderheid in ʼn provinsie vorm. Die grondwet word hoë lof vir Ethiopië se ekonomiese groei toegeswaai maar daar is ook kritiek teen sommige aspekte daarvan. Tog het dit geslaag om tot nou verdere etniese konflik en botsings te vermy.

Internasionale Dokumente:

Daar is talle internasionale rigtinggewende dokumente oor minderheidsregte wat deur belangrike internasionale organisasies aanvaar is. Net enkele voorbeelde:

1. Die Europese Handves vir streek- of minderheidstale, is op 5 November 1992 deur die Raad van Europa aanvaar; (Dit is die Europese Unie se Kabinet van Ministers)

2. Die Konvensie vir die Beskerming van Nasionale Minderhede wat op 1 Februarie 1995 deur die Raad van Europa aanvaar is. (Art 1 van die Konvensie vir die Beskerming van Nasionale Minderhede is nog meer eksplisiet en veral van belang vir diegene wat ‘n apartheidsreukie by die begrip minderheidsregte bespeur. Die beskerming van nasionale minderhede en die regte en vryhede van mense wat tot sulke minderhede behoort, vorm ‘n integrerende deel van die internasionale beskerming van menseregte, en val as sodanig binne die bestek van internasionale samewerking.)

3. Die Verklaring oor die Regte van Persone wat tot Nasionale, Etniese, Religieuse en Taalminderhede behoort, soos op 18 Desember 1992 deur die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies aanvaar. (Art 1 van die VN-verklaring stel byvoorbeeld dat State die bestaan en die nasionale of etniese, kulturele, religieuse en taal-identiteit van minderhede binne hulle onderskeidelike gebiede sal beskerm en omstandighede vir die bevordering van die identiteit, daar moet stel.)

Suid-Afrika.

Tydens die onderhandeling in 1993 tot 1996 het die VF Plus en die IVP minderheidsregte sonder sukses probeer onderhandel. Die ANC en die NP het die bestaan daarvan as grondwetlike begrip ontken. Meeste van die voorbeelde hierbo het op daardie tydstip reeds bestaan, met die Kanadese, Switserse, Belgiese en Ethiopiese grondwette gevestig. Ons kon slegs met enkele artikels slaag. So het ons die Verenigde Nasies se Internasionale Ooreenkoms op burgerlike en politieke regte se artikel 27 gebruik om artikel 31 in ons grondwet in te kry. Die enigste ander artikels wat iets van minderheidsregte in het is artikels 185 en 235 soos deur ons onderhandel. Die VN artikel lees:

International Covenant on Civil and Political Rights.

Adopted and opened for signature, ratification and accession by UN General Assembly resolution 2200A (XXI) of 16 December 1966 entry into force 23 March 1976, in accordance with Article 49.

Article 27

In those States in which ethnic, religious or linguistic minorities exist, persons belonging to such minorities shall not be denied the right, in community with the other members of their group, to enjoy their own culture, to profess and practise their own religion, or to use their own language.

Artikel 31 van die Suid-Afrikaanse Grondwet:

1. Persone wat aan ‘n kultuur-, godsdiens-, of taalgemeenskap behoort, mag nie die reg ontsê word om, saam met ander lede van daardie gemeenskap- (a) hul kultuur te geniet, hul godsdiens te beoefen en hul taal te gebruik nie; en (b) kultuur-, godsdiens- en taalverenigings en ander organe van die burgerlike gemeenskap te vorm, in stand te hou en daarby aan te sluit nie.

2. Die regte in subartikel (1) mag nie uitgeoefen word op ‘n wyse wat met enige van die Handves van Regte onbestaanbaar is nie.

AFRIKAANSSPREKENDES AS MINDERHEID

Hoe moet Afrikaanssprekendes vandag te werk gaan om hulself te laat geld om steeds ’n beduidende rol te speel?

Binne- en buite parlementere optredes is belangrik. Daarvoor is politieke partye en burgerlike organisasies nodig wat as voertuie kan dien om hierdie sake te behartig.

Voorbeelde van hierdie metodes:

1) Verkiesings is belangrik maar so ook 2) druk, 3) standpuntstelling, 4) invloed en 5) lobbying. Daar is talle voorbeelde in die wêreld van hoe minderheidsgroepe hulle laat geld en ons kan daaruit leer.

(Sonder politieke mag na 1994 beskryf my boek “Kan Afrikaners Toyi Toyi” van die metodes wat gebruik kan word. Die boek kan by Protea gekoop word of as ʼn e-boek by Kalahari afgelaai word.)

3.1 Verkiesings

Dit is belangrik om aan verkiesings deel te neem ten einde in die raadsale gehoor te kan word. Dit is egter onverantwoordelike om besliste verkiesingsoorwinnings te voorspel ten einde nou stemme te kry. Dit lei daartoe dat sommige Afrikaansprekendes na ʼn verkiesing (soos in 2014) waar die ANC weereens meer as 60% gekry het, ontnugter is en alle politiek die rug draai. Dit help niks.

VOORBEELD: Dieselfde geld sommige se hoop op ʼn spoedige DA of opposisie koalisie oorwinning by die stembus wat alles kan verander. Ek sien dit ongelukkig nie gou gebeur nie en realisme is hier nodig. In die Noorde, waar die ANC nog 78% in Limpopo en Mpumalanga, en 70% in Vrystaat en Noordwes kry, gaan die ANC nog lank regeer. Waar die ANC onder 50% ingedruk gaan word, gaan die EFF ongelukkig die spelbreker wees. Daar is ook die moontlikheid dat ons na ʼn kiesafdelingstelsel kan oorskakel, soos baie kiesers vra. Dan kry die ANC onmiddellik 80% en regeer nog 20 jaar.

3.2 Druk

Met druk word bedoel dat hofsake gemaak moet word, klagtes by die hoofstuk 9 instellings ingedien moet word en selfs met betogings druk op die regering geplaas moet word.

VOORBEELD: Die VF Plus het met ʼn hofsaak tot in die grondwethof geslaag om Suid-Afrikaners in die buiteland te laat stem. Ons het “Kill the Boer” tot haatspraak laat verklaar na ʼn klagte by die Menseregtekommissie en het sukses behaal met betogings in byvoorbeeld Potchefstroom oor die behoud van die dorp se naam. Tans betoog ons rondom e-tol.

3.3 Standpuntstelling en debat

Leiers moet ook nie terugdeins om standpunte te stel as hulle glo die regering is verkeerd nie.

VOORBEELD: As Adjunk-Minister het ek regstreeks in die Parlement met die president verskil oor die ANC se weergawe van grondvestiging in Suid-Afrika. Na ʼn reuse media polemiek is ek reg bewys deur onder andere historici soos prof Giliomee dat die Khoi en die San en nie die IsiXhosa nie in Kaapstad gevestig was toe Van Riebeeck hier aangekom het. In ʼn brief daarna het ʼn Khoi skrywer my ʼn Khoi “chief” wou maak omdat ek vir hulle regte veg en het verskeie by die VF Plus aangesluit!

3.4 Invloed

Deur die pos as adjunk-minister te aanvaar, is ek uit verskeie oorde kwaai gekritiseer. Tog was dit die regte besluit en gee dit aan jou die geleentheid om daar waar besluite geneem word, invloed uit te oefen.

VOORBEELD: ʼn Matriek ma kla by my dat die Departement van Landbou haar dogter se ingevoerde matriekafskeidrok op die lughawe gekonfiskeer het enkele dae voor die matriekafskeid. Na ʼn oproep lughawe toe as adjunk-minister van Landbou, is die probleem die volgende dag opgelos. Die rok was op ʼn houthanger. Die landbou-amptenaar op die lughawe pas die landbou regulasies baie streng toe. Geen hout mag die land ingebring word as dit nie eers vir lank in kwarantyn gehou was nie. So word verseker dat vreemde organismes nie die land binnekom nie. Op my vraag of hy ʼn draadhanger beskikbaar het, word die rok daarop geplaas en is die probleem opgelos!

3.5 Lobbying

Deur met die regte persone op die regte tydstip te skakel, word soms sukses behaal. Daar moet egter oor ʼn tydperk eers ʼn sekere vertrouensverhouding opgebou word.

VOORBEELD: Ek is tans lid van die Kuns- en Kultuur Portefeuljekomitee in die Parlement. Die Afrikaanse Taalmuseum en Monument in die Paarl val onder die Portefeulje komitee wat jaarliks geld vir hulle moet goedkeur.

In die komitee verwys die ANC lede na die Taalmonument by die Paarl as “an evil” monument wat apartheid simboliseer en herdenk. Die komitee word oorreed om die monument te besoek. Die monument personeel verduidelik hulle doelwitte en aksies met ʼn goeie powerpoint. Daarna kan ek by die monument my interpretasie van die monument se simboliek oordra. Hoe daar ʼn Hollandse suil maar ook ʼn Maleisiese suil is wat saam oploop om Afrikaans te vorm. Hoe die woorde “piesang”, “baie” en “amper” in Afrikaans nie van Nederlands nie maar van Maleisies kom. Ek wys ook die drie ronde strukture uit wat die Khoi en Nguni tale se invloed op Afrikaans voorstel met woorde soos donga en tjaila van Nguni-tale; “mooi loop” van Sotho en gogga en kierie van die Khoi-tale.

Die komiteelede is beïndruk en praat skielik van “an honest monument” en wil almal afgeneem word by die ronde strukture. Die Taalmonument se ouditveslag en begroting is daarna binne minute tydens ʼn portefeuljekomiteevergadering afgehandel.

4. SLOT

Op die lang termyn loop hierdie metodes uit op minderheidsregte vir groepe wat magteloos en onder druk voel. Europa is veral tans baie sensitief vir minderhede se regte en talle maatreëls word getref om minderheidsgroepe se tale, onderwys, kultuur en geskiedenis te beskerm en hulle ʼn mate van seggenskap oor sake wat hulle raak, te gee.

Ek vertrek juis einde November na Genève om aan die UNPO-besprekings oor hierdie sake daar deel te neem asook aan die VN se Menseregte kommissie sitting oor minderhede se regte.