DR PIETER MULDER (VF VOORSITTER)

Die Dalai Lama van Tibet word steeds meer ‘n toets vir die ANC se verbintenis tot menseregte in hulle buitelandse beleid. Later vanjaar vind ‘n belangrike internasionale konferensie oor rassisme in Suid-Afrika plaas. Suid-Afrika is as vergaderplek gekies vanweë die regering se huidige internasionale beeld as kampvegter vir menseregte en vir die onderdruktes. Veral oud president Mandela het ‘n simbool hiervan in die internasionale wêreld geword.

‘n Ander simbool van menseregte en die vreedsame oplossing van ‘n onderdrukte groep se probleme, is die Dalai Lama van Tibet. Hy gaan beslis hierdie internasionale konferensie bywoon. Daar is nou reeds Chinese druk op die Suid-Afrikaanse regering om te weier dat die Dalai Lama die konferensie bywoon. Die blatante dreigement is dat Suid-Afrika se nuwe verhoudinge met China in die gedrang kan kom.

So realisties as wat China in sy politieke benadering ten opsigte van Hongkong is, so rigied en onbuigbaar is die land ten opsigte van Tibet. Volgens hulle weergawe het hulle Tibet in 1959 “van die onderdrukking van die Dalai Lama bevry”. Bevry deur dit met geweld binne te val. Die Dalai Lama word nou deur die Chinese regering beskryf as “iemand met bloed aan sy hande”. Iemand wat die Nobelvredesprys gewen het “omdat die Weste in China se sake wil inmeng om die land te verswak”.

Die Dalai Lama se versoeke tot gesprek met China ten einde die probleem vreedsaam op te los, het op niks uitgeloop nie. Volgens die Chinese is hulle bereid om gesprek met hom te voer as hy sekere voorwaardes nakom. Hierdie voorwaardes is dat  hy alle aktiwiteite wat meer outonomie vir Tibet eis, sal laat vaar. Hy moet ook erken dat Tibet deel is van China.  Deur hierdie voorwaardes te aanvaar, is daar vir die Dalai Lama niks oor om oor gesprek te voer nie. Hy vernietig homself ook ten opsigte van die groepe wat Tibet steun. Intussen is die Chinese so behep met hierdie saak dat ander belangriker buitelandse sake hieraan ondergeskik gestel word. So gaan hulle  tans uit hulle pad om die Dalai Lama internasionaal te isoleer. Vandaar die druk op Suid-Afrika.

Die ANC het vir 50 jaar hulle stryd teen apartheid geveg onder die vaandel van menseregte. Hulle het groot internasionale steun hiermee gemonster. Tydens die vorige besoek van die Dalai Lama aan Suid-Afrika het pres Mbeki geweier om hom te ontvang, wat as ‘n groot Chinese oorwinning gesien is.  Dit het groot verwarring by menseregtegroepe oor die hele wêreld veroorsaak. Hierdie groepe moes skielik hulle siening oor Suid-Afrika en die ANC, wat lank hulle grootste sukses was, hersien.

Chinese druk gaan die volgende paar maande toeneem. Van die Suid-Afrikaanse regering sal verwag word om die Dalai Lama nie in Suid-Afrika toe te laat nie. As alternatief sal die regering moet verhoed dat die Dalai Lama enigsins optree of ‘n prominente rol tydens die internasionale konferensie oor Rassisme speel.

Van die faktore wat ‘n rol in die regering se besluit mag speel, is die nouer bande tussen Suid-Afrika en China na pres Jiang Zemin se besoek gedurende April 2000 aan Suid Afrika. Pres Mbeki speel ‘n belangrike rol in die internasionale politiek van die onverbonde lande waar China baie invloed het. China probeer ook steeds meer die rol vervul van die leier van die ontwikkelende lande. Suid-Afrika hoop om die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies te hervorm.  China met sy vetoreg is hierin ‘n belangrike rolspeler. Die droom bestaan dat Suid-Afrika self, namens Afrika, sitting in die Veiligheidsraad kan neem. In 1994 was China Suid-Afrika se sestiende belangrikste handelsvennoot. Vandag is China die vyfde of sesde belangrikste handelsvennoot van Suid-Afrika. Handel tussen Suid-Afrika en China het van 14 miljoen in 1992 tot meer as 1 600 miljoen VSA Dollar in 1997 verhoog.

Al hierdie faktore mag veroorsaak dat die regering besluit om die Dalai Lama nie toe te laat nie. Die prys wat ons daarvoor gaan betaal, is hoog. Die skade aan die Suid-Afrikaanse regering se “mense-regte beeld” kan nie bereken word nie.  Deur so ‘n besluit te neem,  sal Suid-Afrika beslis dit wat die land na 1994 internasionaal uniek en anders as die ander Afrikastate gemaak het, verloor. Daardeur verloor die regering  die morele hoë grond wat tot nou toe Suid-Afrika se status in baie internasionale forums bepaal het.

Hopelik is ‘n kompromie moontlik. Die konferensie het internasionale organiseerders.   Suid-Afrika behoort aan China te kan verduidelik dat die land nie aan die organiseerders kan voorskryf wie hulle konferensie mag bywoon en wie nie. Wat toegang tot die land betref, is daar geen internasionale maatreëls of Suid-Afrikaanse wet waarvolgens die Dalai Lama verbied kan word nie. Waar die Chinese baie sensitief is vir enige inmenging in hulle eie binnelandse sake, behoort hulle Suid-Afrika se posisie hieroor te verstaan. 

(Dr Pieter Mulder het so pas teruggekeer na ‘n tweede besoek aan China. Tydens die besoek het die groep verskeie gesprekke met Chinese politici en -amptenare gevoer oor onder andere Tibet, Taiwan en menseregte.)