Dr Pieter Mulder, voormalige parlementslid

Mei 2018

Nelson Mandela sou vanjaar 100 jaar oud gewees het. In die lig hiervan het die ANC 2018 as die jaar van Nelson Mandela verklaar met die klem op eenheid, vernuwing en werkskepping.

Is daar samewerking en eenheid in Suid-Afrika? Eenheid nie net binne die ANC nie maar ook tussen die mense en gemeenskappe van Suid-Afrika?

Suid-Afrika is volgens my nou meer verdeeld as enige tyd sedert 1994. Die nasiebou-resep van die ANC het duidelik nie geslaag nie.

Nasiebou en samewerking kan nie met wette of dreigemente op mense afgeforseer word nie. Mense neem vrywillig daaraan deel of onttrek as hulle bedreig of onwelkom voel.

Hoe het ons in hierdie situasie gekom waar steeds meer mense vervreemd en ontnugter voel?

Hoe vergelyk Mandela se Suid-Afrika van 1994 met Zuma se Suid-Afrika van 2018?

Afrika-kolonies het na hulle onafhanklikheid in die 1960’s en 1970’s skielik gesit met baie verskillende volke, stamme en tale binne die koloniale grense wat hulle geërf het.

Hoe voeg jy hierdie groepe saam tot een nasie, was die vraag?

Die enigste gemeenskaplike faktor tussen die verskillende groepe was hulle stryd teen die Britte, Franse of Portugese wat vir dekades oor hulle geregeer het. Die maklikste manier om eenheid te verkry, was om die verskillende groepe op te sweep teen die koloniale base. Dit het die koloniale base nie geraak nie want hulle was nou veilig terug in Europa. Met die Britte of Franse of Portugese as sondebok, het hierdie nasiebou-resep verskillende groepe tydelik verenig.

Nelson Mandela

Nelson Mandela het besef dat hierdie resep nie in Suid-Afrika kan werk nie. Die wittes en veral die Afrikaners is nie weg nie en gaan na 1994 steeds hier wees. Hy skryf:

“Deur die geskiedenis was daar nog altyd ‘n diepe besorgdheid oor die kwessie van minderheidsregte wat dikwels gelei het tot skielike en gewelddadige onmin. Vandag het ons byna drie miljoen Afrikaners wat na bevryding nie langer onderdrukkers gaan wees nie, maar ‘n magtige minderheid gewone burgers wie se samewerking en goedgesindheid nodig gaan wees vir die heropbou van die land.” (Rapport, 27/5/01 p.16)

Met hierdie uitgangspunt reik Mandela na 1994 uit na Afrikaners. Die Springbokrugbytrui wat hy dra by die Wêreldbeker asook die besoek aan mev. Verwoerd is voorbeelde hiervan.

Nou wat het dan verander?

Het Afrikaners hierdie hand van vriendskap weggeklap — of is die ANC skuldig?

Die ANC is skuldig deurdat Mandela se opvolgers geleidelik van sy benadering af wegbeweeg het en die anti-koloniale resep van ander Afrikastate begin na-aap het.

Thabo Mbeki

Thabo Mbeki het met sy uitsprake die eerste treë gegee om Mandela se versoeningsatmosfeer te verander. Mbeki het Suid-Afrika beskryf as ’n land wat in twee nasies verdeel is. Ryk wittes en arm swartes. Dit was ’n totale oorvereenvoudiging van die werklikheid. Anders as Mandela wat eenheid beklemtoon het, het sulke uitsprake mense verdeel.

Mbeki verwys na die wittes en Afrikaners as “settlers” en “colonials of a special kind”. Daardeur is wittes en Afrikaners as buitestanders geklassifiseer. Buitestanders wat hier in Afrika net geduld word.

Ek is ’n Afrikaner en ’n Suid-Afrikaner wat deel is van die kontinent Afrika. My voorvaders het in 1680 na Suid-Afrika gekom. My familie is langer in Suid-Afrika as enige Australiër en as die meeste Amerikaners. Ek is nie ’n buitestander nie.

Mbeki se “settlers”-benadering is opgevolg met verskeie regstellende- en swart bemagtigingswette. Wetgewing waarin rasseklassifikasie soos in die tydperk voor 1994 deur die ANC teruggebring is.

Die ANC se kritiek voor 1994 teen die begrippe ”Blank” en “Nie-Blank” was dat dit almal wat nie wit was nie uitgeskuif het na die randgebied van die samelewing. Tog doen Mbeki presies dieselfde.

Skielik moet Suid-Afrikaners op aansoekvorms en amptelike dokumente hulle ras aandui – of jy “African”, “White”, “Coloured” of “Asian” is. Hierdeur word wittes, bruines en Indiërs almal geklassifiseer as “nie-Afrikane” en uitgeskuif. Hulle is nou “settlers of a special kind” met minder aansprake as die “Afrikane”.

Met hierdie tipe indeling word appels met pere vergelyk – kontinente met kleure. Of jy gebruik die kontinente Afrika, Europa en Asië vir ’n indeling — waar ek as Afrikaner “Afrikaan” op die vorm invul aangesien ek geen ander kontinent as tuiste het nie.

Of jy gebruik kleur: swart, wit, bruin waar jy my dan forseer om “wit” in te vul.

Dit is ’n ou politieke tegniek om ’n sondebok te kry wat vir die probleme blameer kan word wanneer ’n regering misluk. So het Hitler die Jode en Mugabe die wit boere gebruik.

Soos Mbeki en die ANC foute gemaak en begin misluk het, is die wittes en die Afrikaners al meer as die sondebok blameer.

Jacob Zuma

In die Zuma era is hierdie verdelende resep verder gevoer. Hoe meer Zuma misluk het, hoe meer het hy die Wittes en die Afrikaners daarvoor blameer. Waar Mbeki dit nog akademies sagter probeer verpak het met sy begrippe van “colonials of a special kind” was Zuma meer blatant.

Volgens hom is alle grond gesteel deur die wittes. Weereens ’n totale oorvereenvoudiging van ’n baie ingewikkelder verlede as dit. Hiermee skuif hy alle wittes en Afrikaners verder uit en verklaar hulle eintlik as ’n geregverdigde teiken.

In Januarie 2015 argumenteer hy verder dat Afrika geen konflik of probleme gehad het nie totdat Jan van Riebeeck hier aangekom het. Dat sy stelling histories en feitelik verkeerd is, pla hom en sy volgelinge min. Van Riebeeck is hier ’n simbool en metafoor vir alle wittes en Afrikaners.

Julius Malema

As ANC jeugleier word Julius Malema op die politieke dieet van “Afrikane” teenoor “Nie-Afrikane” groot gemaak. Hoewel hy teen Zuma draai, huiwer hy nie om nog meer kru die Mbeki en Zuma-temas voort te dra nie.

In November 2016 sê Malema die volgende oor wittes: “We are not calling for the slaughter of white people‚ at least for now.” Hy verduidelik ook dat wittes net besoekers is en dat besoekers hulle moet gedra.

In dieselfde trant is die onlangse EFF debat in die parlement oor die onteiening van grond sonder vergoeding gehou. Dit was een van die mees rassistiese debatte wat ek nog na moes luister in die parlement.

Cyril Ramaphosa

Die groot vraag is of Ramaphosa hierdie geleidelike wegbeweeg van die Mandela resep deur sy voorgangers kan omkeer?

Die meerderheid wittes kan nie die land verlaat nie en sal oor 50 jaar nog hier wees. As die patroon soos hierbo aangedui van Mbeki na Zuma en tot by Malema voortgesit word, stuur ons onafwendbaar op ’n konflik af.

As die patroon verander word, is die potensiaal groot om gesamentlik van Suid-Afrika ’n beter plek te maak met ook ’n plek in die son vir my as Afrikaner in Afrika.

In sy eerste toesprake het Ramaphosa telkens ’n gedeelte in Afrikaans gepraat. Dit was nie nodig nie en kan as ’n uitreik gesien word. Dit het laas in die Mandela tyd gebeur. Is dit die gryp na ’n strooihalm as na die uitsprake van ander huidige ANC leiers soos byvoorbeeld Panyaza Lesufi geluister word?

Gaan die Lesufi’s toegelaat word om voort te gaan met hulle vendetta teen Afrikaans? Na die 1976 Soweto onluste skryf Mandela:

“Selfs al praat net Afrikaners die taal, sou dit steeds onwys wees om daarmee weg te doen. Dit is die inherente reg van elke groep mense om sy taal sonder beperking te gebruik.

“Die afskaffing van Afrikaans sal nie net uit pas wees met die progressiewe ontwikkelings in die verligte wêreld nie, maar sal ook ‘n uitnodiging wees vir eindelose onvrede.” (Boek Reflections in Prison deur Maharaj)

Ramaphosa en die ANC het 2018 as die jaar van Nelson Mandela verklaar met die klem op eenheid, vernuwing en werkskepping. Hy kan my nie verkwalik dat ek skepties is of die ANC dit kan bereik en of hulle hulle retoriek sal kan verander nie. Wat ek wel weet is dat dit in die beste belang van Ramaphosa en almal in Suid-Afrika is dat dit wel gebeur. (1309 woorde)