Dr. Pieter Mulder, Leier VF Plus.

Januarie 2016

By die hofsaak van vier boere in Parys sing die een groep buite die hof “Kill the Boer” terwyl die ander groep tekens en beledigings terugslinger. Die moontlikheid van konflik tussen verskillende groepe in Suid-Afrika is groter as in meeste ander lande.

Verstandige leiers wat ons geskiedenis ken weet dit en neem dit in ag in hulle besluite. Die boere het rede vir woede en frustrasie maar net soos boere nie die reg in eie hande mag neem nie geld dit ook vir swartgemeenskappe wat misdadigers doodmaak en “Killl the Boer” sing. Kortsigtige leiers laat sake tot hierdie konflikpunt ontwikkel.

In 1995 plaas die Suid-Afrikaans Grondwetskrywende Vergadering ʼn advertensie in die koerante om aan te toon hoeveel konflikpotensiaal in Suid-Afrika is. Die opskrif van die advertensie lui: “Suid-Afrika: 20 miljoen vroue; 18 miljoen mans; 8 gelowe; 25 kerkgroepe; 31 kultuurgroepe; 14 tale; 9 rassegroepe; 1 land.

Godsdiensverskille het tot die konflik in Noord-Ierland gelei. Tans bou die spanning tussen Iran en Saoedi-Arabië op as gevolg van godsdiensverskille. Volgens die advertensie het Suid-Afrika 8 gelowe en 25 kerkgroepe – meer godsdienskonflikpotensiaal as enige land hierbo.

In België lei taalverskille tussen Frans- en Vlaamssprekendes tot konflik. So ook in Kanada tussen Engels- en Franssprekendes. Met elf amptelike tale en ʼn permanente aanslag teen Afrikaans is al die potensiaal vir ʼn taalkonflik permanent in Suid-Afrika teenwoordig.

Etniese en kultuurverskille het tot die burgeroorlog tussen Eritrea en Ethiopië in Afrika gelei. Volgens Samuel Huntington in sy boek Clash of Civilizations is die hoofbron van konflik in die wêreld na die koue oorlog kultuur- en etniese verskille. Suid-Afrika se geskiedenis wys hoe hierdie verskille konflik veroorsaak.

Ryk teenoor arm lei tot konflik. Die Franse revolusie asook die onlangse Arabiese lente opstande is voorbeelde hiervan. Suid-Afrika het al die potensiaal dat die wydverspreide armoede met amper 40% werkloosheid tot so ʼn konflik kan lei. Moeletsi Mbeki voorspel dat die huidige proteste in 2021 gaan oorkook.

In die VSA het rasse-onluste vir die hoeveelste keer uitgebreek nadat ʼn wit polisieman ʼn swart kind geskiet het. Maleisië en Singapoer het spesiale maatreëls om rasse-spanning tussen Maleisiërs, Chinese en Indiërs in hulle lande te voorkom. Suid-Afrikaners ken die konflikpotensiaal van rasse-verskille. Nie net tussen wit en swart nie. Januarie 1949 het ernstige rasse-onluste in die destydse Natal by Cato Manor tussen Indiërs en Swartes uitgebreek.

Waar konflik in die lande hierbo deur een verskil tussen groepe veroorsaak is, het Suid-Afrika al die verskille in een land. Godsdiensverskille, taalverskille, etniese- en kultuurverskille, rykdomverskille, rasseverskille en talle ander. Daarom die stelling in die begin dat die moontlikheid van konflik tussen verskillende groepe in Suid-Afrika groter is as in meeste ander lande.

Telkens spring ʼn vlammetjie van konflik in Suid-Afrika op. Die geskiedenis leer dat ʼn klein vuurhoutjie ʼn groot veldbrand kan veroorsaak.

Die samewerking tussen verstandige leiers het tot op datum voorkom dat hierdie vlammetjies in ʼn burgeroorlog of ʼn Arabiese Lente ontaard. Met die huidige ANC-leierskap het ons daardie verstandigheid verloor. Hulle stap onverantwoordelike en fluit-fluit deur die Suid-Afrikaanse mynveld skynbaar onbewus van wat alles kan verkeerd gaan.

In plaas van daadwerklike optrede om konflik te verminder soos president Mandela gedoen het, word dit van tyd tot tyd deur Zuma aangeblaas met onverantwoordelike stellings.

Enkele voorbeelde:

1. Ryk teenoor arm

Mandela-ANC: In 1994 wys Mandela Chris Liebenberg aan as minister van Finansies ten einde ʼn sagte ekonomiese oorgang na die nuwe regering te verseker. Liebenberg was ʼn sakeman wat aan geen spesifieke party verbind was nie. Daarna volg Trevor Manuel. Mandela besef ons het ekonomiese vertroue en groei nodig ten einde mense uit armoede te lig. Die SA ekonomie beleef daarna ʼn groeifase met beleggings wat instroom.

Zuma-ANC: Zuma blaas konflik en onbewustelik plaasmoorde aan met stellings dat alle grond deur wittes gesteel is. Die Zuma-regering dreig Amerika en Europa en stel nuwe maatreëls in wat beleggings in Suid-Afrika moeiliker maak. Hulle meng steeds meer in die ekonomie in met nuwe hekkies wat in sakemanne se pad geplaas word en blameer die wittes dat die ekonomie nie voldoende wil groei nie. Alle ANC mislukkings die afgelope 22 jaar is wittes se skuld. Wys dan ʼn onbekende as minister van Finansies in minister Nene se plek aan en blameer die markte as die land miljarde verloor en die rand wisselkoers drasties daal.

2. Kompromieë en akkommodering van alle Suid-Afrikaners.

Mandela-ANC: Ek was deel van die onderhandelinge oor die name van ons damme en lughawens in die Mandela tydperk. In die gees van versoening en kompromie is ooreengekom om nie politici of prominente persone van enige kant te vernoem nie. Jan Smuts lughawe is na Johannesburg Internasionaal, JBM Hertzog na Bloemfontein lughawe; DF Malan na Kaapstad Internasionaal; ens verander.

Zuma-ANC: Die Mbeki- en Zuma-ANC het nieteenstaande ons beroepe dat by die oorspronklike ooreenkomste gehou moet word, dit verbreek. Ons is nou terug by die vernoeming van politici en prominente persone, maar net van die ander kant af. Johannesburg het OR Tambo geword; Bloemfontein Braam Fischer; ens.

3. Taal, Afrikaans en die Afrikaner

Mandela-ANC: In sy tyd word in die grondwet (Artikel 6(4)) bepaal dat daar ʼn talewet gemaak moet word om te verseker dat alle tale billik hanteer word.

Mandela gaan ook uit sy pad om met talle voorbeelde die Afrikaanse gemeenskap erkenning te gee. So woon hy die KKNK fees in Oudshoorn by en praat oor hoe belangrik Afrikaans is. Met so ʼn gebaar wen hy vir etlike jare die goedgesindheid van alle Afrikaansprekendes.

Zuma-ANC: Nieteenstaande my en ander se uitnodigings aan president Zuma na sulke geleenthede het hy nie daarop gereageer nie. In sy toesprake en veral geskiedenisuitsprake word Jan van Riebeeck en so die Afrikaner vir al die probleme in Suid-Afrika blameer.

Wat Mandela se beloofde talewet betref, het beide die Mbeki- en Zuma-ANC dit geïgnoreer. Dit het ʼn hofsaak gekos, byna twintig jaar later, om die ANC-regering te forseer om die wet te maak. Nieteenstaande die hof se voorskrif dat alle departement op 1 November 2014 hierdie wet moes implementeer, ignoreer talle departement dit steeds.

4. Misdaad en Plaasmoorde

President Mandela het ʼn spesiale ondersoek na misdaad en plaasmoorde gelas en selfs ʼn beraad daaroor gehou. ANC presidente daarna het nog geen werklike tekens getoon dat dit enigsins ʼn prioriteit is of dat hulle die konflikpotensiaal daarvan besef nie.

Slot.

Die gevolge van die huidige Zuma-ANC se regeringstyl is dat die Suid-Afrikaanse pendulum in reaksie tans na groter polarisasie in plaas van versoening swaai.

Dit sien jy uit die skielike sukses van die EFF aan die een kant en ʼn teen reaksie aan Wit- en Afrikanerkant.

Die situasie is so ernstig dat dit ʼn leiersberaad regverdig in ʼn poging om vertroue in die land te herwin. By so ʼn beraad moet al die bogenoemde risiko’s bespreek word en aanvaar word dat alternatiewe planne nodig is vir oplossings. Dit sluit in alternatiewe ekonomiese maatreëls asook internasionaal erkende maatreëls wat minderhede se geregverdigde ongerusthede sal aanspreek. 1145 woorde.