Dr. Pieter Mulder, Leier VF Plus

Is daar verskillende soorte Suid-Afrikaners? Volgens dr Ivor Chipkin is daar verskillende weergawes van ’n Suid-Afrikaner (By p. 6,  28 April 2007). Dr. Chipkin het sopas ’n boek hieroor die lig laat sien. Die titel van die boek is: “Do South Africans exist?” Is daar iets soos ’n Suid-Afrikaner? en is daar werklik ’n Suid-Afrikaanse nasionalisme? is van die vrae in die boek.

As jy verder ook die De la Rey-debat gevolg het, is dit duidelik hoe daar gewroeg word of jy in 2007 net ’n Suid-Afrikaner is en of jy ook ’n Afrikaner mag wees.

Akademici, politici en rubriekskrywers wil vir jong mense voorskryf wie en wat hulle behoort te wees. Dit sluit in hoe hulle op die nuwe Suid-Afrika behoort te reageer.

Maar terwyl die ouer mense worstel of hulle Suid-Afrikaners, Afrikaanses of Afrikaners is, sing jong mense spontaan De la Rey en dra T-hemde met uitgesproke Afrikaanse slagspreuke.

Vandag se jongmense laat nie vir hulle voorskryf  hoe en wat hulle mag wees of nie mag wees nie.

Vir die nuwe jong geslag dra die begrip Afrikaner en Afrikaans-wees ook min bagasie van die verlede.

Van die “laer-trek” beskuldigings teen hulle, verstaan hulle niks. Van skooldae af was hulle tussen mense van alle tale en rasse. Onthou — almal jonger as 25 jaar het skool-toe begin gaan nadat mnr Mandela reeds vrygelaat is. Persone onder 31 jaar het in 1994 en daarna vir die eerste keer gestem. Wit-wees en Afrikanerwees was in hulle leeftyd hoofsaaklik die redes waarom teen hulle gediskrimineer is.

Enkele voorbeelde uit die briewe op my lessenaar:

  • In die laerskool het hy van die hoogste punte vir sy Expo-projek gekry maar die beoordelaars het mooi kom verduidelik dat hulle hom nie na die landswye finaal kan stuur nie. Die swart kind, wat baie minder punte as hy gekry het, moet gaan om aan die borge se kwotas te kan voldoen.
  • Op hoërskool het hy die Craven-week rugbyspan gehaal. Dit het die moontlikheid van ’n sportbeurs na Universiteit moontlik gemaak. Omdat daar 11 “agtergeblewe” lede in die span moet wees, is hy en ses ander wit outjies agtergelaat en was die sportbeurs nie meer moontlik nie.
  • Sy ses onderskeidings in matriek was nie genoeg om vir medies gekeur te word nie. Nie omdat hy hoër punte moes hê nie,  maar omdat die regering sekere kwota vereistes aan die mediese skole stel.

Hierdie jongmense is moeg vir diskriminasie teen hulle en wil trots wees op wat hulle is. Daarom hou hulle van die De la Rey-lied, is trotse Afrikaners en staan op aandag in die studente drinkplek as dit speel. Die feit dat hulle van die lied hou het niks met rassisme of “laer-trek” te doen nie want hulle hou ook van die laaste liedjie op Bok se CD. Dit is die een wat oor  Habana die springbokvleuel gaan. Of Habana wit of bruin is, maak nie vir hulle saak nie – solank hy vir Suid-Afrika drieë druk!

Ek is oortuig ons maak met al die debatte oor identiteit ’n eenvoudige saak onnodig ingewikkeld?

Hierdie sake is nêrens in die wêreld so ingewikkeld nie. Toe ek in Noorweë vir ’n Laplander, wat verkies om as ’n Sami bekend te staan, vra hoe hy weet dat hy ’n Sami is – antwoord hy: “Jy weet dit in jou hart.”

Vra ’n bietjie in die Walliese-“pub”, nadat Wallis teen Skotland rugby gespeel het, hoe hulle weet of hulle Skotte of  Walliesers is. Hulle sal net kop skud en jou snaaks aankyk. Daar is geen onduidelikheid of wroeging by die Walliesers of die Skotte oor wie hulle is nie.

Die Skotte en Wallieser het meer as een identiteit en hulle ervaar geen konflik as gevolg daarvan nie. Hulle is eerstens trotse Skotte, tweedens deel van die Engelse taalgemeenskap en derdens Britse burgers – in elkeen se eie volgorde van voorkeur. Waarom moet jong Afrikaners dan volgens ouer mense kies om of ’n Afrikaner, of deel van die Afrikaanse taalgemeenskap, of ’n Suid-Afrikaner te wees? Jong Suid-Afrikaners kan mos kies om meer as een identiteit te hê. Is dit wat dr. Chipkin met verskillende weergawes van ’n Suid-Afrikaner bedoel?

Die Afrikaanse taalgemeenskap is die groter sirkel met daarbinne kleiner sirkels wat byvoorbeeld Griekwa en Afrikanerbelange verteenwoordig.

As lid van die Afrikaanse taalgemeenskap dink ek ons het ver gevorder om wit, bruin, Griekwa en swart mense wat Afrikaans praat, nader aan mekaar te bring. Die onlangse taalberaad was ’n goeie voorbeeld hiervan.

Maar ek is ook ’n Afrikaner. Die geveg om Potchefstroom en Pretoria se name, gaan om die Afrikaner se geskiedenis en ek is outomaties ook deel daarvan.

Moenie dat ons nou weer energie op mekaar spandeer en etikette om mense se nekke hang deur te besluit hierdie identiteit is in en daardie identiteit is uit nie. In Suid-Afrika het mense meer as een identiteit en kan daar harmonie wees tussen al hierdie verskillende identiteite — sonder om te moet kies vir of die een of die ander.

827 woorde