DR PIETER MULDER (VF VOORSITTER)

Die begrippe soewereiniteit en onafhanklikheid van ‘n land, is besig om  totaal nuwe betekenisse in die internasionale wêreld te kry. Dit bevestig dat die Vryheidsfront se benadering tot Suid-Afrika se probleme nuut, modern en op die voorpunt van politieke denke in die wêreld is. Hongkong is maar net nog ‘n voorbeeld waaruit Afrikaners kan leer. Hongkong is een stad met 6,4 miljoen inwoners wat van die hoogste lewenstandaarde moontlik handhaaf en een van die sterkste ekonomiese eenhede in die wêreld is. Sommige kommentators het al gevra of die Afrikaners meer as een so ‘n stad nodig het!

Omdat die ANC-regering nog met ou-tydse internasionale begrippe werk, is Suid-Afrika besig om gunstige handelsgeleenthede in Hongkong te verloor. Die ANC-Regering huiwer om op die oomblik die nodige handels-ooreenkomste met die owerhede in Hongkong te sluit. Meeste Westerse lande het reeds sulke ooreenkomste met Hongkong gesluit. Dit sluit lande soos Duitsland, Frankryk en Italië in. Oosterse lande soos Japan en Korea het ook reeds handelsooreenkomste met Hongkong gesluit.

Waarom huiwer Suid-Afrika dan?

Die Suid-Afrikaanse Regering huiwer omdat hulle bang is hulle gee aanstoot aan China en Beijing. Volgens die “ou reëls” van die internasionale reg kon slegs soewerein onafhanklike state aan internasionale organisasies behoort en ooreenkomste met mekaar sluit. Daarvolgens moet Suid-Afrika (Pretoria) en China (Beijing) ooreenkomste met mekaar sluit. Eers na so ‘n ooreenkoms kan Suid-Afrika met Hongkong, as ‘n onderdeel van China, handel dryf. Suid-Afrika as soewereine land kan daarvolgens nie regstreeks met Hongkong, as ‘n “provinsie” van China, ooreenkomste sluit nie.

Waarom doen die ander lande dit dan?

Die feite is dat die wêreld in Hongkong se geval, en in talle ander gevalle in die wêreld, reeds wegbeweeg het van hierdie reëls.  Verder help dit ook nie om met Beijing ooreenkomste oor Hongkong te sluit nie. Beijing het geen beheer oor die handel van Hongkong nie. 

Vanaf Junie 1997 is Hongkong weer deel van China nadat dit 150 jaar lank deur die Britte as ‘n kolonie bestuur is. Tans word Hongkong beskryf as ‘n spesiale administratiewe streek van China. Dit is volgens die “Een nasie twee stelsels” oplossing wat tussen China en Brittanje ooreengekom is. Burgers van China het egter steeds ‘n visum en toestemming nodig om Hongkong te mag binnegaan. Streng doeane en grensposte bestaan tussen China en Hongkong. 

Die verhouding tussen China en Hongkong word beskryf in ‘n wet wat deur die Chinese regering op 4 April 1990 aanvaar is (The Basic Law). Artikel 5 hiervan verwys spesifiek na Hongkong se kapitalistiese stelsel teenoor Sosialisme in China. Hoewel groot ekonomiese veranderinge reeds in China aangebring is, is dit nog nie ‘n werklike Vryemarkstelsel soos ons dit ken nie. Die beleid van “Een Nasie twee stelsels” maak dit moontlik dat Hongkong wel deel van China is maar dat China onderneem om vir 50  jaar nie in die ekonomiese stelsel of die regstelsel in Hongkong in te meng nie. Vir China is dit belangrik dat hierdie reëling moet slaag ten einde Taiwan later op ‘n soortgelyke wyse na China terug te lok.

Artikel 13 van hierdie wet hanteer Hongkong se buitelandse verhoudinge en ooreenkomste. In hierdie artikel word ‘n interessante onderskeid getref tussen Hongkong se “Foreign Affairs” en “External Affairs”. Die magte om handelsooreenkomste met ander lande aan te gaan,  word deur China aan Hongkong oorgedra en as “External Affairs” gesien. Op grond hiervan is reeds bykans 100 internasionale handels- en ander ooreenkomste deur 50 lande met die “provinsie” Hongkong gesluit. Suid-Afrika is nog nie een van hierdie lande nie.

Hongkong, as ‘n “provinsie” van China, is lid van die Wêreld Handelsorganisasie (WTO), lid van die Wêreld Doeane Organisasie en lid van verskeie ander Internasionale Organisasies. China is nog nie lid van hierdie organisasie nie maar het geen probleem daarmee dat Hongkong wel lid is nie. Hierdie tipe reëling geld nie net in China nie maar word al meer ‘n verskynsel van die Een-en-twintigste eeu se internasionale politiek. Die Belgiese grondwet maak dit moontlik dat die Vlaamse gedeelte van België eie internasionale ooreenkomste kan sluit. Die provinsie Quebec in Kanada het soortgelyke bevoegdhede. In Suid-Afrikaanse terme sou dit beteken dat KwaZulu-Natal as provinsie  op sy eie met byvoorbeeld Bavaria in Duitsland handelsooreenkomste mag sluit. Dit het ook allerlei implikasies as ‘n groter Afrikanergebied sekere vorme van outonomie begin bereik. Met ‘n groter Europa aan die een kant maar terselfdertyd  eie outonomie wat byvoorbeeld aan ‘n Skotse en Walliese Parlement as deel van Brittanje toegeken is, kry die begrip soewereiniteit van ‘n land vandag ‘n totaal nuwe betekenis.

Die internasionale wêreld het reeds by hierdie werklikhede van die nuwe eeu aangepas. Daarom het hulle geen probleme om die nodige ooreenkomste op handels-, juridiese en ander terreine met provinsies, streke en outonome gebiede aan te gaan nie. Hongkong is ‘n voorbeeld hiervan. Internasionale organisasie maak ook steeds meer voorsiening vir verskillende vlakke van lidmaatskap om voorsiening vir hierdie verskynsel te maak. Hopelik sal die ANC-Regering spoedig die nodige aanpassings maak sodat Suid-Afrika nie verdere handelsgeleenthede mis nie en in lyn met moderne tendense kan kom..

(Dr Pieter Mulder het so pas teruggekeer na ‘n tweede besoek aan China. Tydens die besoek het die groep verskeie gesprekke in Beijing en in Hongkong met Chinese politici en -amptenare gevoer.)