1. Hoeveel sterre kan ons sien?

Met die blote oog sien ons baie minder sterre as wat daar in werklikheid is. Sommige geleerdes beweer dat daar meer sterre in die heelal is as wat daar sand op al die strande van die aarde is!

Op ‘n donker maanlose nag buite in die veld kan met die blote oog net ongeveer 2500 tot 3000 sterre onderskei word. ‘n Verdere 3000 is by ‘n teenoorgestelde punt op die aardbol sigbaar. Deur die loop van ‘n jaar kan ongeveer 9 000 verskillende sterre met die blote oog orals vanaf die aarde gesien word — maar net 2 500 tot 3000 op een plek op een tydstip. As jy in ‘n stad woon en vanaand opkyk na bo, sal jy ongelukkig net ongeveer 700 sterre kan sien.

  • Hoekom sien ons so min sterre in die stad?

As gevolg van ligbesoedeling. Ligbesoedeling moet nie met lugbesoedeling verwar word nie. Lugbesoedeling het ook ‘n effek soos meer rook en uitlaatgasse elke dag in die atmosfeer ingestuur word. Die belangrikste rede waarom ons so min sterre in die stad kan sien, is egter ligbesoedeling. Ligbesoedeling wat met elektrisiteit en meer ligte elke dag erger word.

Die mens probeer om met nuwe metodes die nag meer en meer soos die dag te maak. Sedert die sestigerjare is die ou enkel gloeidraad straatlampe vervang met nuwe tegnologie neon en kwik straatligte. Hierdie ligte is ekstra helder. As die neon advertensies en die aandkrieket se  stadionligte bygevoeg word, word dit bykans onmoontlik om enige sterre van uit ‘n stad te sien. Mensgemaakte lig weerkaats teen stof en ander deeltjies in die lug. Dit veroorsaak ‘n helder ligskynsel bo enige stad. Slegs die helderste sterre kan deur hierdie skynsel gesien word. Ligbesoedeling kan tot 100 km vanaf die stad nog steeds ‘n invloed hê. Daarom word dit ‘n ernstige probleem vir sterrekundiges. Hulle sukkel steeds meer om werklike donker plekke te kry van waar hulle die sterre kan bestudeer.

  • Wat het die Japanse dorp Bisei en Sutherland in Suid-Afrika in gemeen?

Die Japanse dorp Bisei is bekend vir sy pragtige helder naghemel vanwaar die sterre bestudeer kan word. Bisei beteken “mooi sterre” in Japannees. ‘n Groot Japanse sterrewag is daarom by die dorp opgerig. Nuwe uitbreidings en moderne straatbeligting het die afgelope tyd begin om die doeltreffendheid van die sterrewag te bedreig. Omdat die sterrewag vir die dorp belangrik is, is dit een van die min dorpe in die wêreld wat spesiale bepalings aanvaar het om ligbesoedeling te bekamp. Die Suid-Afrikaanse dorp Sutherland in die Karoo, wat internasionaal vir sy sterrewag bekend is, het ook reeds soortgelyke besluite geneem. Sutherland se straatligte laat byvoorbeeld geen lig na bo skyn nie.

Die huidige doelwit van Bisei is dat die dorp se beligting die naghemel nie meer as 10% helderder as die natuurlike naghemel mag maak nie. Dit is die Internasionale Astronomiese Unie se riglyn. Van die bepalings van die stadsraad is dat meeste buiteligte teen 22h00 afgeskakel moet word. Die stadsraad subsidieer ook alle inwoners wat hulle buiteligte wil verander om minder ligbesoedeling te veroorsaak. So moet alle buiteligte lae druk sodium ligte wees. Hierdie ligte se golflengtes  kan deur die sterrewag uitgeskakel word met filters. Buiteligte moet na bo afgesper word sodat dit net lig horisontaal versprei. Vir vloedligte en advertensie projektorligte moet spesiale toestemming verkry word.

  • Waarom is ‘n straat in Pretoria na die “bekende” ster Canopus vernoem?

Meeste Suid-Afrikaanse stede het ‘n woonbuurt wat vandag as Observatory bekend staan. Dit was die gedeelte waar die stad se sterrewag gestaan het voordat uitbreidings dit tot niet gemaak het.

So was een van Suid-Afrika se belangrikste sterrewagte vir jare by Radcliffe, net buite Pretoria, geleë. Soos Pretoria groter geword het, het die ligbesoedeling toegeneem sonder dat die stadsraad dit probeer bekamp het. Uiteindelik kon die sterrewag nie meer doeltreffend funksioneer nie. Die sterrewag se aktiwiteite is na Sutherland in die Karoo verskuif. Die stadsraad het besluit om die name van die strate in die nuwe woonbuurt langs die ou sterrewag na bekende sterre te vernoem. Die straatname in die destydse nuwe  Waterkloofrifwoonbuurt is toe genoem Rigel, Eridanus, Bootes, Carina en Canopus.

In ‘n brief is die stadsraad deur die sterrekundiges daarop gewys dat daar nie ‘n ster met die naam Canopsus is nie. Die regte naam is Canopus. Die stadsraad se antwoord was dat die straatnaamborde klaar gemaak is en dat die stad se kaartmakers reeds die nuwe name so aangedui het. Hulle het per brief  ‘n amptelike versoek aan die sterrekundiges gerig of die ster nie liewer  die nuwe naam gegee kan word om dit vir die stadsraad makliker te maak nie! Nodeloos om te sê dat dit onmoontlik was. Omdat daar miljarde sterre is, word sterre se name internasionaal bepaal. Die stadsraad het verloor. Vandag is die straat se naam Canopus en weet min van die inwoners dat dit aanvanklik Canopsus was. Intussen is ‘n nuwe woonbuurt bekend as Sterrewag langs Waterkloofrif aangelê. As gevolg van die stad se helder ligte kan vandag maar min van die biljoene sterre wat bestaan, vanaf hierdie woonbuurt gesien word.

  • Hoekom is Bill Gates ‘n Amerikaanse Biljoenêr maar ‘n Afrikaanse Miljardêr?

Anders gestel: — Wat is die verskil tussen miljoen, miljard en biljoen? Voordat ons kan probeer om die hoeveelheid sterre te bepaal, is dit nodig om eers duidelikheid te kry oor hierdie woorde. Baie verwarring bestaan oor hierdie woorde se betekenis. Die hoofrede vir die verwarring is dat die Amerikaners ander woorde as die Britte vir dieselfde getalle gebruik. Afrikaans stem ooreen met die Britse gebruik.

Almal stem saam dat ‘n miljoen duisend keer duisend is. Dit word as ‘n een met ses nulle geskryf (1 000 000).  ‘n Duisend keer ‘n miljoen is ‘n miljard in Engels en in Afrikaans. Dit kan ook ‘n duisend miljoen genoem word. Dit word as ‘n een met nege nulle geskryf (1 000 000 000). Die Amerikaners noem dit egter ‘n biljoen. Ons miljard is dus hulle biljoen. Na ons miljard kom eers biljoen. Die Amerikaners noem dit nou al triljoen. Omdat ons nie altyd weet of die skrywer van ‘n Engelse artikel die Amerikaanse of Britse woorde gebruik nie, word dit dikwels totaal verkeerd in Afrikaans vertaal.

Volgens sommige waarnemers het Bill Gates, die stigter van die Amerikaanse rekenaarreus Microsoft,  ongeveer 741 000 000 Microsoft aandele. As hierdie aandele se dollar waarde bereken word is dit meer as 41 duisend miljoen dollar (41 000 000 000) werd. In Afrikaanse terme maak dit van hom “net” ‘n miljardêr. In Amerikaanse terme is hy ‘n biljoenêr. 

  • Hoe lank tel ‘n mens aan ‘n Afrikaanse biljoen?

 ‘n Biljoen in Afrikaans is miljoen keer ‘n miljoen. Dit is ‘n een met 12 nulle daarna (1 000 000 000 000).  ‘n Mens kan dit moeilik vir jouself voorstel. As jy hardop sou tel, en elke telling neem een sekonde, gaan dit 10 sekondes neem om tot by 10 te tel. Hiervolgens gaan jy in een minuut tot by sestig kan tel. Dit gaan jou 17 minute neem om tot by een duisend te tel. As jy dag en nag ononderbroke teen hierdie spoed tel, neem dit 12 dae om tot by ‘n miljoen te tel; 32 jaar om tot by ‘n miljard te tel en 32 000 000 jaar om tot by ‘n biljoen te tel! Dit is baie langer as wat daar beskaafde mense op aarde is.

TABEL 1 MILJOEN EN BILJOEN

Getal Wetenskaplik Simbool Engels Amerikaans Afrikaans Tel per sek
10¹ deka- da ten ten tien 10 sek
10² hekto- h hundred hundred honderd 1 min 40 sek
10³ kilo- k thousand thousand duisend 17 minute
106 mega- M million million miljoen 12 dae
109 giga- G milliard billion miljard 32 jaar
10¹² tera- T billion trillion biljoen 32 000 jaar
1015 peta- P billiard   biljard 32 milj jaar
1018 eksa- E trillion   triljoen 32 miljard jaar
Andromeda Galaksie – twee keer so groot soos ons Melkweg.
  • Hoeveel sterre is daar in ons Melkweg?

Sodra jy hulpmiddels begin gebruik om na die sterre te kyk, vermeerder die hoeveelheid sterre wat jy kan sien dramaties. Waar jy met die blote oog ongeveer 2 500 sterre op ‘n donker aand kan onderskei, sien jy reeds ‘n duisend maal meer sterre as jy met ‘n gewone verkyker kyk. Deur moderne teleskope word dit biljoene meer. As jy op ander golflengtes as die wat die oog kan sien, soos infra-rooi kyk,  is nog meer sterre sigbaar.

Die Aarde waarop ons woon en ons Son is deel van ons eie melkwegstelsel. Ons eie melkwegstelsel bestaan uit minstens een miljard sterre. Dit is ‘n duisend miljoen sterre. Die sterre in ons melkweg is in ‘n pragtige sirkel spiraal wat van binne na buite loop, gerangskik. Dit is dieselfde patroon as ‘n ronde gevlegte Zoeloe voetmatjie wat van ‘n klein binne kring uit sirkel tot die groot  buitenste sirkel. In die kern van ons melkweg is die sterre so dig op mekaar dat ons hulle nie van mekaar kan onderskei nie.  Daarom kan die melkweg dalk tot 4 miljard sterre hê. Onthou dit neem 32 jaar om tot by een miljard te tel!

  • Is daar dan 4 miljard sterre in die heelal?

Nee, baie meer. In 1917 is ‘n nuwe teleskoop in die berge bokant Los Angeles, daar waar dit nog donker genoeg was, gebou. Dit was by die Mount Wilson sterrewag in die VSA. Die teleskoop sou 100 duim of 2,54 meter groot wees. Dit was die grootste teleskoop wat tot op daardie tydstip nog gebou is. In 1923 was hierdie teleskoop gereed. Die sterrekundige Edwin Hubble kon hierdeur na die ongelooflike helder sterre van die heelal kyk. Hy het ook na bekende gaswolke soos Andromeda gekyk. Hierdie sterre wolkies was dowwe ligkolle wat as gaswolke of nebulae geklassifiseer was. Wat was sy verbasing groot toe hy skielik kan sien dat hierdie gaswolk geensins ‘n gaswolk is nie. Dit het bestaan uit miljarde duidelike helder sterre wat almal saam van die aarde af soos ‘n gaswolk gelyk het. Die sterre was in ‘n spiraal, soos ons melkweg, gerangskik. Skielik was ons Melkweg maar een van baie sterrestelsels of galaksies.  As gevolg van Hubble se ontdekking was die heelal skielik miljoene keer groter as wat tot 1923 geglo is. Die boustene van die heelal was nie sterre nie — maar galaksies. Die Melkweg se een tot vier miljard sterre was maar ‘n druppeltjie van al die sterre in die heelal.

  • Hoeveel galaksies of sterrestelsels kan met die blote oog gesien word?

Met die blote oog kan drie galaksies vanaf die aarde gesien word.

Na Hubble se ontdekking is nog duisende miljoene ander galaksies ontdek.  Dit beteken dat daar buite om ons Melkweg, met sy miljarde sterre, miljoene kilometer swart ruimte sonder enige sterre is. Dan kry ons weer ‘n saamkoek van sterre in ‘n volgende galaksie. Die galaksies sweef soos klein eilandjies in ‘n groot swart see — triljoene kilometer van mekaar af. Baie galaksies se sterre is in die vorm van ‘n spiraal gerangskik soos ons Melkweg. Die volgende groot galaksie na die Melkweg is bekend as M31 of die Andromedastelsel waarna Hubble gekyk het. M31 is twee keer so groot soos ons Melkweg stelsel en het ook twee keer soveel sterre. Andromeda kan as ‘n dowwe gaswolkie op ‘n donker aand met die blote oog in die sterrebeeld Andromeda by Pegasus die vlieënde perd gesien word. (Kyk sterrekaart)

Ons eie Melkweg het twee satelliet-sterrenewels, die twee Magellaanse Wolke. Op ‘n helder aand kan hierdie twee wolkies, die Groot en Klein Magellaanse Wolke, duidelik in die suidelike hemelruim met die blote oog gesien word.  Omdat hulle los van ons Melkweg is word hulle as afsonderlike galaksies gesien. Elkeen het sy eie miljoene sterre. Alle galaksies lyk nie dieselfde nie. Die sterre in die Magellaanse Wolke is nie in ‘n spiraalvorm gerangskik nie.

Die twee Magellaanse Wolke saam met M31 of Andromeda is die enigste drie galaksies wat vanaf die Aarde met die blote oog gesien kan word.

  1. Is die Bybel verkeerd om die hoeveelheid sterre en die hoeveelheid sand van die see gelyk aan mekaar te stel?

In die Bybel in Genesis 22 vers 16-17 staan: “Ek sal jou vrugbaar maak en jou nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel en soos die sand van die see”. Vergelyk appels met appels, is jou reaksie. Jy kan mos nooit die hoeveelheid sterre met die hoeveelheid sand vergelyk nie. Die sand moet tog baie meer wees as die sterre. Doen die Bybel dit nie maar net vir effek nie? 

Hoe meer sterre die mensdom ontdek, hoe duideliker word dit dat sterre en sand nie so onvergelykbaar met mekaar is nie. 

Ons eie Melkweg is een van 30 galaksies in ons omgewing wat bekend staan as ons eie groep galaksies. M31 is ook deel van hierdie groep. As die galaksies as druiwekorrels gesien word, vorm hierdie 30 galaksies weer ‘n tros van ‘n supertak galaksies wat weer deel vorm van nog groter supergroepe. So hou dit aan tot dit die hele heelal insluit. Swart ruimte en galaksies net waar jy kyk.

Met kragtige instrumente het sterrekundiges van die Universiteit van Krakau in ‘n vierkantjie van net ses grade ‘n telling van 10 000 galaksies gevind. As hierdie vierkantjie vermenigvuldig word om die hele heelal voor te stel, beteken dit dat die heelal uit duisende miljoene galaksies bestaan, elke galaksie weer met sy eie miljarde sterre.

M31 is twee keer so groot soos ons Melkweg. Tog is M31 piepklein teen sommige galaksies wat diep in die ruimte lê. Daar is reeds galaksies ontdek wat sestig keer soveel sterre soos ons Melkweg het. Sterrekundiges probeer nie meer bepaal hoeveel sterre daar is nie. Dit is net te veel!

Die hoeveelheid sterre in ons Melkweg is gelyk aan al die sand op een strand. Maar daar is meer galaksies as al die strande op aarde. Dit is dus duidelik dat daar meer sterre in die heelal is as sand van die see. Die sand kan nog met moeite getel word, die sterre nie.

Natuurlik is dit vir die mens moeilik om die omvang hiervan te begryp. Die grootte van die heelal en die aantal sterre is net te oorweldigend vir ons verstand. Geen wonder dat die sterre mense na godsdiens dryf nie. Psalm 148 vers 3: “Hy bepaal die getal van die sterre. Hy gee hulle almal name.” Dan lees ons in Spreuke 3 vers 19: “Die Here het…die hemel gebou met insig”.