Dr Pieter Mulder; voormalige parlementslid.

November 2018

Veertig jaar gelede het PW Botha Eerste Minister geword en van John Vorster en Connie Mulder ontslae geraak. Hiervoor het hy die Erasmus-kommissie en die Inligtingskandaal gebruik. Die byskrif by Johannes Froneman se artikel hieroor (Beeld 20/10/2018) beskryf dit as “die land se grootste bedrogspul.”

Genl. Hendrik van den Berg het dit ook as “die grootste bedrogspul en karaktermoord in Suid-Afrika se geskiedenis” beskryf, maar om heeltemal ander redes.

’n Vergelyking tussen die Zondo-kommissie, wat tans staatskaping ondersoek, en die Erasmus-kommissie, wat Inligting ondersoek het, verklaar Van den Berg se standpunt. Staatskaping gaan oor selfverryking terwyl niemand by Inligting aan selfverryking skuldig bevind is nie.

Kommissievoorsitters

Die enigste twee kommissies in ons geskiedenis wat die presidente van die land moes ondersoek was die Zondo-kommissie vir president Zuma en die Erasmus-kommissie vir president Vorster.

Omdat topleiers soos president Zuma betrokke is, is die adjunkhoofregter, Raymond Zondo, aangestel. Met ’n senior grondwethofregter as voorsitter bewys die regering erns om agter die waarheid te kom.

By die Inligtingsdebakel was die land se topleiers ook betrokke: president John Vorster; die nuwe Eerste Minister PW Botha; die minister van Finansies Owen Horwood; minister Connie Mulder, die kabinet en talle ander ministers.

Omdat die topleiers geïmpliseer is, het Mulder gevra dat die destydse hoofregter Rumpf as voorsitter saam met ’n paneel appèlregters die ondersoek doen.

PW Botha ignoreer die versoek. Hy stel Rudolf Erasmus aan. Erasmus is nie ’n appèlhofregter nie maar ’n junior omstrede regter van die Vrystaatse provinsiale afdeling.

Met sy aanstelling as regter was daar ernstige kritiek. Daar is beweer dat Erasmus slegs ’n regter geword het omdat hy die regsadviseur van die Nasionale Party in die Vrystaat was.

Sy omstredenheid blyk uit die feit dat sy juridiese vermoëns deur twee appelregters ernstig gekritiseer is. Hulle berispe hom dat hy in sekere uitsprake “sy oë vir die feite gesluit het” en nie die regsfeite enigsins in ag geneem het nie.

Met Erasmus se aanstelling was dit reeds duidelik dat die Nasionale Party bang was vir die volle waarheid. Die volle waarheid sou gevaarlik wees vir PW Botha, Horwood en ander ministers. Daarom is ’n “veilige” regter wat beheer kon word, gekies.

Kruisondervraging.

Regter Zondo se ondersoek is oop vir almal. Waar ’n getuie negatief na ’n persoon verwys, het die regter toestemming gegee dat die getuie gekruisondervra mag word. Dit bly die enigste metode om onwaarhede te ontbloot en feite te verifieer. Tot Duduzane Zuma, wat van ernstige korrupsie beskuldig word, kry geleentheid om Jonas, wat dit beweer het, te kruisondervra.

In teenstelling hiermee was regter Erasmus se ondersoek in die geheim. Geen media of toeskouers is toegelaat nie. Waar ’n getuie byvoorbeeld negatief na president Vorster verwys het, het Vorster nie daarvan geweet nie, kon hy nie daarop reageer nie en lees hy dit eers in die verslag.

Volgens amptelike dokumente wat ingehandig is, was Louis le Grange, die Adjunk-Minister van Inligting, verantwoordelik vir verskeie geheime projekte.

Die Erasmus-kommissie beskerm hom deur hom nooit te laat getuig nie. Dit was nie per ongeluk nie. Die rede? Le Grange het intussen ’n PW Botha ondersteuner en ’n minister geword.

Die gevolg is dat 95% van die Erasmus-kommissie se bevindings op ongetoetse getuienis gemaak is.

Enkele voorbeelde:

Kabinetskomitee.

Maart 1974 neem die NP-Kabinet ’n besluit dat die Departement van Inligting verskillende geheime projekte moet loods. Die kabinet stel ’n komitee aan om toesig oor die projekte te hou. Die komitee bestaan uit Vorster as Eerste Minister, Horwood Minister van Finansies en Mulder Minister van Inligting.

Die datum van die kabinetbesluit asook die datums waarop die gereelde toesigvergaderings plaasgevind het, word deur Mulder aan die Erasmus-kommissie gegee.

Die Erasmus-kommissie stel nie daarin belang om die dagboeke van die ministers te vra waarin die verslagvergaderingdatums aangeteken is nie – ook nie die kabinetsnotule wat toeganklik was nie.

Erasmus-kommissie: Die Erasmus-kommissie bevind dat daar nooit so ’n kabinetskomitee was nie en dat daar nie sulke verslagvergaderings gehou is nie. Hulle bevind Mulder en Rhoodie het op hulle eie besluit om die projekte te loods.

Toe dr. Daan Prinsloo jare later as navorser deur die kabinetsnotules gaan, is die besluit in Maart 1974 duidelik genotuleer – presies soos Rhoodie en Mulder getuig het. (Vergelyk p90 Stem uit die Wildernis.)

Zondo-kommissie: Daar is beweer dat minister Nene op sekere datums met die Guptas geskakel het. Hy ontken dit. Daarna is daar moeite gedoen om die datums te bevestig en moes minister Nene bedank.

Minister van Finansies

Rhoodie oorhandig dokumente aan die Erasmus-kommissie waar Horwood as Minister van Finansies die begroting van die geheime projekte met sy handtekening goedkeur. Elkeen van die ses bladsye waarop al die projekte gelys was, Citizen ingesluit, is met sy handtekening geparafeer.

Toe Horwood met hierdie dokument gekonfronteer is, het hy verduidelik dat hy elke bladsy met ’n stuk papier toegehou het toe hy geteken het – sodat hy nie kon sien wat hy teken nie!

Erasmus-kommissie: Die Erasmus-kommissie aanvaar sy verduideliking as die verantwoordelike optrede van ’n Minister van Finansies. Hulle bevind dus dat hy van niks geweet het nie.

Zondo-kommissie: Daar is getuig hoe President Zuma druk op Minister Nene geplaas het om die Russiese kernooreenkomsdokument te teken.

Anders as Horwood bestudeer Nene die detail van die dokument en as verantwoordelike minister van Finansies weier hy om te teken.

Finansiering.

PW Botha het die geld vir die Inligtingsprojekte as deel van sy geheime verdedigingsrekening deur die Parlement geneem. Hy het jaarliks ’n sertifikaat geteken dat die geld korrek spandeer is.

Een van die geheime projekte was om The Washington Star in Amerika te probeer koop om so Amerikaanse politici te beïnvloed. Daar is getuig hoe die geld hiervoor direk uit PW Botha se verdedigingsrekening na die reserwebank en van daar na Switserland oorgeplaas is na ’n kabinetsbesluit. Dit kon nooit sonder die goedkeuring en handtekening van PW Botha gedoen gewees het nie.

Erasmus-kommissie: Hierdie feite maak geen indruk op die Erasmus-kommissie nie en hulle bevind dat PW Botha niks van die projekte geweet het nie.

Op ’n wonderbaarlike Houdini-manier het Mulder en Rhoodie dus die geld vir die Inligtingsprojekte uit PW Botha se rekening gekry sonder dat hy dit geweet het of daarvoor geteken het. Geen departement werk so nie.

Handgeskrewe nota van PW Botha aan Connie Mulder waarin hy vra of daar weer op sy begroting vir Inligting se projekte begroot moet word.

Uit die Erasmus-Kommissie se bevindings is dit duidelik dat hulle nie in die waarheid oor die geheime projekte belanggestel het nie. Die Erasmus-Kommissie is eerder gebruik om sekere individue in die NP te beskerm en van ander ontslae te raak.

“Ons is of almal duiwels of almal engele. Dit is ’n klug as party spierwit onskuldige engele is en die ander duiwels,” was Mulder se reaksie op die Erasmus-kommissie se verslae.

Zondo-kommissie: Dit is ironies dat die ANC se Zondo-kommissie tans aan ons wys hoe ’n ondersoek na topleiers gedoen moet word.

Grootste bedrogspul?

By Nkandla is R246 miljoen gemors; Emfuleni stadsraad R872 miljoen gemors; VBS bank R1,9 miljard hoofsaaklik deur politici geplunder; John Block R112 miljoen, ens. Hierdie is maar enkele ANC skandes.

Hierteenoor is Rhoodie aangekla vir ’n bedrag van slegs R62 000. Die appèlhof het hom onskuldig bevind op alle aanklagte.

Die Froneman artikel verwys na die Inligtingsaak as “die land se grootste bedrogspul” asof al hierdie ANC skandes nie bestaan nie. Is dit billike en feitelike joernalistiek of verdere berekende karaktermoord soos genl. Van den Berg gesê het?

Dr Connie Mulder as Suid-Afrikaanse Minister van Inligtigting in gesprek met pres Houphet Boigny van die Ivoorkus as deel van sy Departement se uitreikveldtog na Afrika.

Dr Connie Mulder as Suid-Afrikaanse Minister van Inligtigting in gesprek met Ronald Reagan van die VSA as deel van sy Departement se uitreikveldtog na besluitnemers in die VSA. Op die foto ‘n boodskap van Reagan: “Very Best Wishes, Ronald Reagan.”