Dr. Pieter Mulder, voormalige parlementslid

Junie 2018

Die aankondiging dat die ANC geskiedenis ’n verpligte vak tot matriek wil maak, is nie so onskuldig soos dit lyk nie. Daaragter sit ’n verskuilde agenda.

Die ANC glo dat hulle met ’n eensydige geskiedenisleerplan die huidige probleme van rassisme kan oplos. Hulle glo ook dat hulle met verpligte geskiedenis nasiebou kan bevorder waar hulle eie nasiebouresep tans misluk.

Natuurlik is dit nie verkeerd dat kinders geskiedenis leer nie. Geskiedenis leer kinders waar hulle vandaan kom. Deur geskiedenis leer hulle ook om nie die foute van die verlede te herhaal nie. Die belangrikste voorwaarde is dat dit gebalanseerde geskiedenis moet wees wat alle kante van die verlede verduidelik.

Suid-Afrikaanse geskiedenis-skoolleerplanne fokus tans hoofsaaklik op die ANC se “struggle”-geskiedenis. Om watter rede sal die nuwe geskiedenisleerplanne anders lyk? Die “struggle”-geskiedenis is belangrik om sekere dele van ons geskiedenis te verstaan, maar dit alleen verklaar nie alles wat die afgelope paar eeue in Suid-Afrika gebeur het nie.

By Vryheidspark in Pretoria word die land se geskiedenis in uitstallings uitgebeeld. As jy daar deur loop, is dit ontstellend om te sien hoe die geskiedenis van Suid-Afrika vereenvoudig word tot ʼn 350 jaar lange rassestryd tussen wit en swart.

Natuurlik was daar stryd tussen wit en swart in ons geskiedenis. Dit is egter net een deel van ons ingewikkelde verlede. As jy Suid-Afrika se geskiedenis net as ʼn swart teen wit konflik sien, pas die 200 jaar lange stryd tussen wit Boere en wit Britte glad nie daarby in nie. So ignoreer Vryheidspark heeltemal die Afrikaner se eie vryheidstryd.

Die Anglo-Boereoorlog van 1899, of die Suid-Afrikaanse oorlog soos dit daar genoem word, word baie terloops en heeltemal uit konteks as deel van 1948 en apartheid voorgestel. Die Eerste Vryheidsoorlog teen die Britte met die veldslag by Majuba is nêrens in die uitstallings te sien nie.

Waarom bied die ANC regering die geskiedenis so eensydig aan?

“Die regering wat die hede beheer, beheer ook die verlede”, het George Orwell in sy boek 1984 (p39-40) geskryf.

Die Duitse skrywer Ernst Toller het reeds in die vorige eeu die definisie van geskiedenis beskryf as: “Die propaganda van die oorwinnaars.”

Só word geskiedenis ’n baie sterk wapen in die hande van die huidige ANC regering.

Hoe gebruik regerings geskiedenis?

Regerings gebruik geskiedenis deur in leerplanne te kies watter materiaal uit die verlede aan kinders geleer word en wat berekend weggelaat word. Geskiedenis sonder konteks word dan propaganda. Dit lei nie tot die oordra van geskiedenis aan kinders nie maar tot die oordra van geskiedenis-mites.

Wat is ’n geskiedenis-mite?

 ʼn Geskiedenis-mite is wanneer ek net die feite wat my pas van ’n gebeurtenis in die verlede oordra as die enigste waarheid van die betrokke gebeurtenis. Ek interpreteer hierdie feite dan so dat ek my politieke doelwitte vir vandag daarmee kan bereik. Daarom vertel ‘n mite jou dikwels meer van die huidige tyd waarin dit ontstaan het as van die verlede. Dit weerspieël die huidige mense se vrese en gedagtes en nie die vrese en gedagtes van die mense in die verlede waarna verwys word nie.

Epictetus, ʼn Griekse filosoof, het reeds in die eerste eeu na Christus gesê dat mense nie deur gebeure beweeg of gemobiliseer word nie, maar deur hulle interpretasie van die gebeure.

Mites word so gebruik om die huidige geslag te motiveer, te laat goed voel of te laat skuldig voel oor die verlede.

Byvoorbeeld:

Om my ondersteuners teen ’n ander groep op te sweep, kies ek slegs die feite van gruwelike onregte wat daardie groep se voorvaders 200 jaar gelede teen my mense gepleeg het.

Dit is nie net die huidige ANC-regering wat mites skep vir politieke propaganda-doeleindes nie. Meeste regerings doen dit. So is daar ook talle Afrikanermites wat in die verlede geskep is om Afrikaners te motiveer en saam te snoer.

Afrikanermites

In die 1930’s was die Afrikaner plat geslaan deur droogtes, verstedeliking en armoede. Meeste hiervan was steeds die nagevolge van die Anglo-Boereoorlog. Dit was nodig om Afrikaners weer trots te maak op wie hulle is en hulle so te mobiliseer vir ʼn moontlike verkiesingsoorwinning wat in 1948 gevolg het.

ʼn Afrikanermite uit die 1930’s is dat alle Boere tydens die Anglo-Boereoorlog briljante ruiters en skerpskutters was. Ook dat die meeste Boere lojale Bittereinders was wat tot aan die einde van die oorlog geveg het om hulle vryheid te probeer behou.

Latere navorsing in die 1970’s en onlangse boeke het meer genuanseerd hieroor begin skryf. Almal was nie briljante skerpskutters, goeie ruiters en lojale Bittereinders nie. Van die ongeveer 60 000 burgers op kommando het tot 20 000 vroeg in die oorlog die wapen neergelê. Dit beteken dat een derde van die burgers vroeg opgehou veg het. Van hierdie burgers het 5 400 die wapen aan Britse kant opgeneem en bereid gewees om teen hulle broers en volksgenote te veg.

Afrikaner is nie anders as enige ander volk wat sy geskiedenis betref nie. Hulle het foute in die verlede gemaak maar het ook baie om op trots te wees.

ANC MITES.

Tans is daar talle ANC mites wat om dieselfde redes as hierbo geskep word. Dit is hierdie mites wat waarskynlik in die nuwe geskiedenisleerplanne sal wees. Net enkele voorbeelde:

“Al die konflik in Suid-Afrika het ontstaan toe Jan van Riebeeck en die wittes hier aangekom het.”

Hierdeur word gesê dat daar permanente vrede en harmonie tussen al die swart stamme en inwoners was totdat die wittes aangekom het.

Dit is ’n geskiedenis-mite en feitelik verkeerd.

Hoekom het Shaka as Zoeloekoning die kort assegaai ontwikkel? Hoekom het hy sy soldate die bulhoring formasie vir omsingeling laat oefen? Was dit om die swakker stamme te omsingel ten einde vir hulle komberse uit te deel of met die korter assegaai vir hulle braaivleis te hou? Nee, die feite wys hoe dit gebruik is om ander swart stamme uit te wis.

Nog ʼn ANC en EFF mite is dat die skikking in 1994 nie ʼn vrywillige skikking was nie. Volgens hierdie mite was die onderhandelinge op die Afrikaners afgeforseer na die oorwinnings van die ANC oor die Afrikaner-regering. Die MK-soldate van die ANC kry dan erkenning omdat hulle so dapper geveg het om die oorwinning moontlik te maak.

Die feite is dat daar nie een konvensionele militêre geveg tussen die Suid-Afrikaanse weermag en die MK-soldate plaasgevind het nie. Die MK-soldate het wel sabotasie gepleeg en enkele suksesvolle bomme geplant waarin verskeie burgerlikes en kinders gedood is.

Dit is insiggewend wat Chris Hani, die hoof van Umkhonto we Sizwe later oor die stryd gesê het. “We (the ANC) concede the fact that we never broke the back of the South African Defence Force and South African Police, but you (the NP) must concede the fact that you never broke the spirit of liberation in the townships.” (Beeld, 6/12/2010 p13)

As jy dit durf waag om van hierdie ANC weergawes van die geskiedenis en ANC-mites af te wyk, gryp die ANC-leiers en die openbare media jou. Die sosiale media deur Twitter en Facebook hang jou gou in die openbaar op oor jou “verkeerde feite”. Jy moet aanvaar dat jou afwykende feite dan vinnig as ʼn ”teruggryp na Apartheid” beskryf sal word.

Wat kan ons daaraan doen?

As in die nuwe leerplanne slegs ANC-mites en -weergawes van die verlede behandel gaan word, is dit belangrik dat daar ʼn poging tot balans sal moet kom. Ander feite en interpretasies moet deel van die debatte oor die verlede word.

In Suid-Afrika doen ander gemeenskappe dit deur byvoorbeeld eie Joodse- of Duitse privaatskole waar hulle kultuur- en geskiedenissienings oorgedra word. Waar dit nie moontlik is nie word selfs kort ekstra middagskole aangebied. Ook kultuur-organisasies soos die Voortrekkers kan dit doen. Ek self neem gereeld jeuggroepe na die Voortrekkermonument en ander historiese plekke as my bydrae.

Soos die ANC-geskiedenisplan duideliker word, sal ons ’n ernstige debat moet voer oor hoe ons kan verseker dat ons kinders gebalanseerd na die verlede kyk.

George Orwell skryf:

“Die doeltreffendste manier om ’n volk te vernietig is om sy eie verstaan van sy geskiedenis te ontken en te vernietig.” 1317 woorde