PIETER EN TRIENA MULDER

INLEIDING

Soos jy ‘n akademiese IK het, het elke kind ook ‘n sosiale IK. Dit is jou sosiale IK wat maak dat jy makliker of moeiliker met ander kinders en mense oor die weg kom en sosialiseer. Soos enige vaardigheid kan jy egter hierdie sosiale vaardigheid oefen en verbeter.  Ons sosiale vaardighede leer ons meestal aan by ons ouers deur hulle dop te hou en onbewustelik na te boots. In ‘n groot huisgesin speel ouer boeties of sussies ook ‘n rol en gebruik kinders die gesin, die skool en hulle vriendekring om hierdie vaardighede tot hulle eie voor- of nadeel uit te probeer.

UITGANGSPUNT

Die uitgangspunt vir suksesvolle kinderopvoeding en om ‘n kind sosiale vaardighede en geluk aan te leer, is liefde en sekuriteit. Daarsonder is alles baie moeiliker. Teen my studeerkamermuur is die volgende slagspreuk: “Die belangrikste ding wat ‘n pa vir sy kinders kan doen is om hulle ma lief te hê”.

FAMILIE EN KOMMUNIKASIE.

Televisie en ons gejaagde lewenstyl veroorsaak oppervlakkige en swak gesprekke. Daar is nie meer tyd om rustig met mekaar te praat nie. Daarom luister ons nie meer na mekaar nie. Ek praat en jy praat en ons albei voel onbevredig na die gesprek. Ons kinders boots dit na en leer nooit hoe om ‘n goeie gesprek te voer nie. Soos meeste ander sake kan ook dit aangeleer en geoefen word.

Die enigste oplossing is om berekend gespreksgeleenthede te skep. In ons huis is etes belangrik waar almal teenwoordig moet wees. Daar word gesprekke oor elkeen se doen en late gevoer. Niemand aan tafel se menings is minder belangrik as iemand anders s’n net omdat hy jonger of kleiner as die ander een is nie.

Selfs rondom teetyd, 11 uur die oggend,  het ‘n vaste roetine ontwikkel vir gesprekke tussen die wat in die huis teenwoordig is. Hierdie teetyd vind berekend weg van die televisie en radio plaas en die telefoon word afgehaal ten einde te verseker dat die gesprek nie onderbreek word nie. Nou vind ons dat werkende en studerende kinders dikwels hulle reëlings so tref dat hulle 11 uur by die huis is om saam tee te drink met wie ook al  beskikbaar is.

‘n Goeie gesprek word gevoer tussen mense wat mekaar respekteer. ‘n Kind, hoe klein ook al, moet met respek hanteer word as met hom gepraat word. Daardeur leer hy self respek vir ander mense aan. Sy probleme en sy stories is vir hom net so belangrik as wat die oorlog in Irak of die bure se egskeiding vir die grootmense mag wees. ‘n Kind kom gou agter dat sy probleme en stories geminag word, dat sy standpunte nie belangrik geag word nie en dat jy nie werklik na hom luister nie. Dwing jouself om op jou hurke voor hom/haar te sit as julle praat sodat julle op gelyke vlak kommunikeer. Luister met werklike aandag. Vra vrae wat ter sake is en waaruit hy/sy aflei dat wat hy/sy vir jou vertel, vir jou regtig belangrik is. Onthou ons het twee ore en een mond gekry. Ons behoort dit in daardie verhouding te gebruik. Twee keer luister vir elke een keer se praat.

Meeste kinders luister moeilik maar praat maklik. Kinders moet geleer  word om te luister en geleer word om hulle woorde reg te kies as hulle praat. Hofsaak-hou help hierdie vaardighede aanleer in ons huis. In ‘n huis met baie kinders is daar voortdurend verskille en ‘n gestry oor sake. Dit is normaal. Dan word Pa of Ma as die appèlhof gebruik waarna geappelleer word ten einde ‘n finale beslissing oor die geskil te kry.  Kinders moet leer hoe om probleme op hierdie wyse op te los. In die grootmens wêreld en in die huwelik gaan hulle dit voortdurend op hierdie manier moet kan doen. Al manier om dit regverdig te doen is om die regte hof na te boots.

In so ‘n “hofsaak” kry elke kind kans om sy kant van die saak te stel. Terwyl die een kant van die saak gestel word, moet die anderkant doodstil bly en mag net luister. Vir opgewonde stryende kinders is dit baie moeilik. Tog is dit ‘n noodsaaklike sosiale vaardigheid om aan te leer. Jy moet van kleins af leer om soms net te luister en met selfbeheersing stil te bly.  Dit is ook belangrik om te leer hoe om jou saak vinnig en op die punt af te verduidelik as jy jou spreekbeurt kry. Geen onderbrekings of tussenwerpsels word toegelaat terwyl die ander een praat nie. As jy tussenwerpsels maak, kan jou saak maklik uitgegooi word en wen die ander kant sonder enige verdere verhoor. Die proses word ‘n paar keer herhaal tot meeste van die feite op die tafel is. Die regter, Pa of Ma, kan deurlopend vrae vra om die saak op te helder voor ‘n beslissing gemaak word. Kinders leer verbasend gou die reëls hiervan aan en dring dan daarop aan dat die anderkant volgens die reëls moet optree.

.

‘n Ander tipe gesprek is die persoonlike een-op-een gesprek. ‘n Gesprek waardeur ernstige sake op ‘n persoonlike vlak uitgepraat word. So ‘n gesprek lei dikwels tot ‘n verdieping in verhoudinge. In ‘n groot gesin is daar min geleenthede waar ‘n kind so alleen geleentheid tot gesprek kry. In ons gesin gebruik die ma die kinders rondry geleenthede om in die motor met ‘n kind so ‘n gesprek te voer As die radio en die selfoon aan is, is so ‘n gesprek nie moontlik nie. Pa neem verkieslik ‘n kind op sy skemertyd stappie om die blok waar sulke gesprekke kan plaasvind of ’n kind om saam te ry op ’n lang rit.

GELUKKIGE KINDERS HET VRIENDE EN SOSIALE VARDIGHEDE.

Jy kan nie kinders leer om vriende te maak nie. As dit kunsmatig probeer word, misluk dit altyd. Jy kan wel kinders leer om opreg in ander mense belang te stel. Hieruit ontwikkel dan spontane vriendskap. Om dit opreg te kan doen, moet kinders afleer om selfsugtig te wees. Kinders is van nature selfsugtig. “Hierdie is my speelgoed alleen en ek wil joune ook hê” sien jy dikwels by kleintjies.  Kinders kan hulleself moeilik in iemand anders se posisie indink. Hoe jonger hulle is hoe moeiliker is dit vir hulle. Die antwoord hiervoor is om jou kind empatie te leer.

Volgens die HAT is empatie: “Die vermoë  om jou in die plek van ‘n ander te stel om sy reaksies en houding te begryp”. ‘n Manier om kleintjies empatie te leer is om hom/haar te laat ontvang dit wat hy/sy uitdeel. As ‘n kind ander knyp, dan knyp ek hom terug. As ‘n kind ander byt, byt ek hom. Verbasend gou leer hy wat die gevolge van sy optrede is vir ander persone – die eerste tree na empatie.  As hy groter is en empatie teenoor ander toon, ontwikkel vriendskappe spontaan. Onthou ‘n ware vriend is iemand wat jou swak punte ken en jou nie daaroor verwerp nie.

Ouers kan wel vriendskappe aanmoedig deur dit maklik te maak vir vriende om te kom kuier. Elke omgewing het ‘n lekker huis waar kinders graag kuier. Sorg dat dit jou huis is. Om jou huis ‘n lekker kuier-huis te maak, moet ouers nie onnodige streng reëls oor netheid en oor maats hê nie. Baie geduld is ook nodig. Dit mag beteken dat ‘n kinderhuisie wat met stoele en komberse gebou is,  vir ‘n paar dae in die sitkamer of woonkamer toegelaat word sonder dat alles na net ‘n kort tydjie opgeruim moet word net omdat ma dit so wil hê!

DISSIPLINE, LIEFDE EN GOEIE MANIERE.

Goeie maniere en goeie dissipline gaan hand aan hand. Ongeag al die slim sielkundige opvoedingsteorieë  bly die Bybel reg waar daar staan “tugtig die wat jy liefhet”. Omdat jy uit liefde optree mag jy egter nooit uit woede of wraak tugtig nie.Tugtig in liefde. Dit werk en lei tot goeie maniere. Kinders wil sekuriteit hê. Dit kry hulle deur binne ‘n  gesin groot te word waar daar duidelike grense is. Dit mag jy en dit mag jy nie. Alle kinders toets daardie grense. Dan is konsekwentheid van ouers uiters noodsaaklik. As jy nie vandag aan die radio of televisie se knoppies mag raak nie, mag jy dit môre ook nie doen nie. Môre moet ma nie dink dit is oulik en parmantig as die kleintjie haar gesag uittoets deur uitdagend wel aan die knoppies te vat nie. As ‘n tiener in later jare gaan die kind dan vir ma op dieselfde wyse uitdaag en geen respek vir huisreëls  toon nie. Ma gaan nie meer dink dit is oulik nie!

As ‘n kind empatie aangeleer het, is respek en goeie maniere dikwels bonus resultate. Goeie maniere is meestal daarop gebaseer dat ek deur my gedrag die ander persoon in ag neem en my in sy posisie kan indink. Ek staan op uit ‘n stoel en bied dit vir ‘n ouer persoon aan omdat ek sensitief is vir die ander persoon se ongemak. Hy wil graag sit maar alle stoele is geneem deur kinders. Die selfsugtige kind kom nie agter dat die ouer persoon staan en wil sit nie want hy is meer op homself as op ander ingestel.  

Pas ook op vir kinders se briljante manipuleertegnieke. Die vloermoer of tantrum is die tegniek wat die meeste deur kinders gebruik word. Die tegniek wat die tweede meeste deur kinders gebruik word, is om Ma en Pa teen mekaar af te speel. Nadat Ma “nee” gesê het, gaan vra jy vir Pa. Jy vertel natuurlik nie vir Pa wat Ma se antwoord was nie. Kry jy ‘n “Ja” van Pa, dan doen jy dit vinnig voor Pa en Ma dalk met mekaar daaroor kan praat.  As daar later probleme van Ma kom, verwyt jy net vir Pa. Dan word dit hulle baklei!

Pa en Ma moet hierdie tegniek vroeg neutraliseer. Twee reëls maak dit moontlik:

Reël 1: Voor ‘n ouer op ‘n versoek antwoord, is dit verstandig om te vra: “Nou wat het jou ma gesê?”  Ideaal gesproke is daar ‘n reël dat kinders aan die een ouer sê wat die ander ouer geantwoord het. As die ander ouer vind dat hy anders sou gereageer het, mag die kinders dit nie weet nie.

Reël 2: Blinde lojaliteit oor hierdie sake moet tussen ouers bestaan. Of jy met die ander ouer se beslissing saamstem of nie, mag die kinders nie weet as julle verskil nie. As ouers hierdie reëls toepas, leer kinders gou dat Pa en Ma ‘n hegte vakbond vorm en nie voor kinders van mekaar verskil nie.  Soms het die ander ouer  in ‘n woedebui duidelik onbillik opgetree of was onnodig streng deur “nee” te sê vir ‘n billike versoek. In die slaapkamer of weg van die kinders moet die ouers oor die saak praat. As die een die ander oortuig het dat die aanvanklik beslissing verkeerd of onbillik was, moet die ouer wat die aanvanklike beslissing gemaak het, die nuwe besluit aankondig. Daardeur word verhoed dat jy ‘n gewilde en ongewilde ouer kry. Kinders weet nie Ma het vir Pa agter die skerms oorreed om sy besluit te verander nie want Pa kondig self aan dat hy die saak heroorweeg het en by ‘n ander besluit uitgekom het.

SLOT : VOORBEELD STEL.

Het jy al jouself erken in die manier waarop boetie met sussie baklei? Kinders leer dikwels meer deur ouers en ander persone se optrede na te boots as wat hulle leer uit wat aan hulle gesê word om te doen. Die sekerste manier om al die wenke hier bo tot niet te maak, is om ‘n ander voorbeeld te stel as wat jy van jou kinders verwag. Meeste kinders se opstandigheid in die tienderjare is omdat hulle hulle ouers as skynheilig ervaar. Pa verwag van my een ding maar hyself doen die teenoorgestelde. Hy rook en drink maar ek mag nie. Hy vloek en skreeu op ma maar ek mag nie so teenoor my sussie optree nie. Hy is selfsugtig en neem ander nie in ag nie maar verwag dit van my!