Radio program: Vrae vir RSG se Spektrum aktualiteitsprogram

Gelyk of ANC en EFF in dieselfde bed klim, nou lyk sake anders, wat het gebeur?

Jy moet altyd seker maak van watter ANC ons praat. Ramaphosa ANC of Ace Magashule se ANC.

Ace Magashule: “Ek is lief vir Julius. Hy en sy ondersteuners moet terugkom huis toe.” Wat hy nie byvoeg het nie, is hulle moet terugkom huis toe om die Ace Magashule/Zuma faksie in die ANC te kom versterk teenoor die Ramaphosa faksie

By Malema se ouma se begrafnis net na die verkiesing het Malema gesê: Hy het aan sy ouma onderneem dat hy sal nooit teruggaan na die ANC nie!

Waarom sal die EFF spesifiek in die twee plekke vereistes stel oor hul posisie?

Jy moet na die 2016 uitslae en die getalle in die twee rade gaan kyk.

In Pretoria Tshwane het die DA die meeste stemme by die vorige verkiesing gekry, maar nie genoeg om te regeer nie. DA 43% en 93 setels; ANC 41% en 89 setels. Om ’n meerderheid te kry uit ’n raad van 214 het jy 107 stemme nodig. Die DA-VF-ACDP koalisie het 99 stemme saam. Dit is minder as 107. EFF wou nie deel word van die koalisie nie maar het besluit hulle sal help om die ANC uit te hou. Hulle het dus geen poste nie. Lekker posisie – jy staan nie in vir die foute van die Koalisieregering nie.

Die stryd na 2021 se plaaslike bestuursverkiesings het reeds begin. Die DA het agteruit gevorder in Gauteng en die EFF het beter gevaar. In Gauteng het die EFF se steun van 10% in 2014 na 15% in 2019 gestyg. Dit maak hulle arrogant en hulle begin eise stel.

Volgens Malema klink dit of dit die DA beleid is om minstens sy saak aan te hoor, wat hou dit vir ander koalisievennote in Johannesburg en Pretoria in?

Die vraag is of die EFF bereid is tot ’n koalisie – dit is ’n vaste ooreenkoms tussen partye wat bepaal hoe julle saam regeer. Na die vorige verkiesing wou hulle dit nie gehad het nie.

Gaan die DA ook die ander koalisievennote opoffer om met die EFF saam te werk, en wat beteken dit vir hulle beeld op pad na die volgende verkiesing.

Wat kan die gevolge van so ’n ooreenkoms wees?

Dit kan beteken dat Pretoria deur ’n DA-EFF kombinasie regeer word met ’n EFF burgemeester en DA lede op die burgemeesterskomitee. Johannesburg die omgekeerde met DA burgemeester met ook EFF lede op die burgemeesterskomitee.

Die EFF wil waarskynlik bewys dat hulle ook kan regeer in ’n poging om indruk te maak voor die volgende plaaslike verkiesing. Risiko is dat jy ook mense kan kwaad maak en nie al die beloftes wat hulle nou gemaak het, kan uitvoer nie.

Dit kan ook beteken dat die DA-VF-ACDP koalisievennote sê ons gaan eerder in opposisie en dat die ANC en die EFF dit alleen uitsorteer.

Hoekom is die EFF so tegemoetkomend teenoor Herman Mashaba en omgekeerd na sy ultimatum aan die DA oor ’n koalisie met die ANC?

Persoonlikhede speel ’n rol. Mashaba het voor die verkiesing gesê hy is bereid om uit die DA te bedank as hulle met die ANC saamwerk – hy is wel bereid om met die EFF saam te werk. Ek dink dit het die DA ook ’n paar stemme gekos – maar hy het waarskynlik so net sy pos as burgemeester verseker na die verkiesing.

In Tshwane speel persoonlikhede ook ’n rol. Solly Misimango het dr. Moeketsi Mosola as stadsbestuurder aangestel. Na ’n tyd het die ouditeur generaal bevind dat die stadsbestuurder ’n kontrak met Glad Africa aangegaan het, wat onreëlmatig en nie volgens die reëls was nie. Toe Misimango en die koalisievennote die VF en ACDP einde verlede jaar vir die stadsbestuurder wou skors, het die ANC en die EFF hom beskerm en daarteen gestem.