(Malema het die laaste paar weke meer hoofstroom politiek geword.)

Dr. Pieter Mulder (Voormalige parlementslid)

April 2018

Julius Malema se emosionele toespraak by die begrafnis van Winnie Madikizela-Mandela het die meerderheid van die 40 000 begrafnisgangers in die stadion beïndruk. Waarskynlik het dit dieselfde uitwerking op miljoene veral jong TV-kykers gehad.

Elke gemeenskap het ekstremiste. Politieke ekstremiste wat na links of regs ekstremistiese uitsprake maak. Aborsie-ekstremiste skiet dokters in die VSA dood wat aborsies uitvoer.

Wanneer is ʼn samelewing in die moeilikheid?

ʼn Samelewing is in die moeilikheid as ekstremistiese standpunte nie meer randverskynsels is nie maar na die politieke middel begin beweeg om uiteindelik die meerderheid se standpunt te word. ʼn Studie van byvoorbeeld Hitler se Duitsland, Hugo Chávez se Venezuela of Mugabe se Zimbabwe illustreer dit goed.

In die paar weke na Winnie Madikizela-Mandela se dood, het ekstremistiese standpunt in Suid-Afrika nuwe status gekry en na die middel begin beweeg. Malema het nie van standpunt verander nie wat beteken dat die politieke spektrum na links beweeg het. Dit moet alarms laat afgaan.

Hoe het dit gebeur en kan ons voorkom dat hierdie standpunte later hoofstroom standpunte word?

Die erns van ANC verdeeldheid was duidelik met hulle Desember kongres. Dit was die Zuma-faksie teen die Ramaphosa-faksie. Die faksies het nie net verskil oor wie die volgende ANC leier moet wees nie maar hulle verteenwoordig ook twee verskillende denkrigtings. Twee denkrigtings oor hoe armoede opgelos moet word.

Aan die een kant is die “naïewe sosialiste”, wat Zuma ondersteun. Hulle glo nasionalisering en grondonteiening sonder kompensasie is die oplossing.

Aan die ander kant is die meer “realistiese pragmatiste” wat Ramaphosa ondersteun. Hulle glo die Nasionale Ontwikkelingsplan is die antwoord. Die Ontwikkelingsplan is die naaste wat die ANC nog aan vrye mark oplossings gekom het.

Met die oog op die komende verkiesing het die ANC-kongres Ramaphosa as leier verkies.

Dieselfde kongres het Zuma se naïewe sosialistiese beleidstandpunte, wat grond onteiening sonder kompensasie insluit, as beleid aanvaar.

 ʼn Verdeelde ANC sal beslis die 2019 verkiesing verloor. Ramaphosa, as nuwe ANC leier, se hooftaak is om die twee faksies tot met die verkiesing bymekaar te hou. Terselfdertyd moet hy die Zuma-faksie se naïewe sosialistiese beleidstandpunte, waarmee hy waarskynlik nie saamstem nie, verduidelik.

Wat Ramaphosa se taak verder bemoeilik is dat die Zuma-faksie in die ANC se beleidstandpunte nie veel van Malema se ekstremisme verskil nie.

Malema se oplossing vir armoede is die nasionalisering van myne en banke asook die onteiening van grond sonder kompensasie.

Hoekom is mense arm?

Omdat “wittes al die grond gesteel het en apartheid mense verarm het,” volgens Malema.

Vir elkeen van hierdie standpunte is daar sterk teenargumente. Die toename van armoede in Zimbabwe of Venezuela, waar Malema-oplossings probeer is, bewys hom reeds verkeerd. In hierdie lande was daar ook nie apartheid of Afrikaners nie.

As politici die geskiedenis gebruik, is dit altyd om hulle huidige politieke standpunte te versterk. Die geskiedenis word dan deur ʼn 2018 bril bekyk. Die konteks waarbinne gebeure in die verlede gebeur het, word gerieflikheidshalwe geïgnoreer.

Die beriggewing na Winnie Madikizela-Mandela se dood is ʼn perfekte voorbeeld hiervan. Sommige joernaliste se oordrewe polities korrekte hantering van Madikizela-Mandela se rol in die verlede, het in die hand van ekstremiste soos Malema gespeel.

Malema se weergawe van die geskiedenis is dat Winnie Madikizela-Mandela die ware vegter vir swartmense se regte was. As ʼn bedreiging vir die destydse ANC leiers is sy uitgeskuif en verdag gemaak. Die gevolg was dat Nelson Mandela ʼn swak skikking onderhandel het deur te veel aan die apartheidsregering toe te gee. Dit was ook sy fout om die wittes te vergewe.

Die onderliggende EFF verkiesingboodskap vir volgende jaar is dat Ramaphosa deel van daardie skikking en versoening was. As ʼn pion van die wittes kan hy en die ANC nie vertrou word om na swart mense se belange om te sien nie.

Winnie Madikizela-Mandela se geestelike krag onder permanente polisie teistering en brutaliteit, moet respek afdwing. Pascale Lamche se rolprent “Winnie” handel hieroor maar ook oor die baie kritiek wat teen “Winnie” uit ANC geledere gekom het.

Hierdie rolprent is herhaaldelik na haar dood op TV gewys. Die rolprent gee haar standpunte weer en bring enkele nuwe feite oor haar lewe na vore maar is beslis nie die finale gebalanseerde beoordeling van haar lewe nie. Guy Lodge, ʼn Britse rolprent resensent het reeds in Januarie 2017 die rolprent beskryf as “ʼn eensydige kwytskelding van Winnie”.

Die eensydigheid van die rolprent blyk daaruit dat persone soos Sydney Mufamdi en Desmond Tutu, soos ook baie van die ander deelnemers, buite konteks aangehaal word sonder dat hulle ooit die geleentheid kry om hulle kant te stel. Volgens die rolprent het Mufamadi en Tutu berekend Madikizela-Mandela benadeel om so die wit apartheidsregering te bevoordeel.

So speel die rolprent in die hande van die EFF. Die gevolg is dat veral jongmense, wat nie daardie geskiedenis ken nie, na die rolprent skryf dat “Winnie die ware heldin van die verlede is en Mandela en Tutu die skurke”. Een het getwiet: “Ons het al die tyd die verkeerde Mandela bewonder.”

In ʼn onlangse meningsopname oor ʼn nuwe naam vir Kaapstad se lughawe stel 66% mense nou voor “Winnie Mandela” met slegs 20% “Nelson Mandela”.

Al bogenoemde is die gevolge van die gebruik om net “mooi te praat” na die dood van ʼn persoon. Malema misbruik dit soos sy begrafnistoespraak bewys. Volgens hom het Madikizela-Mandela sy EFF standpunte oor armoede gesteun. So eis hy haar vir hom op en laat haar polities buikspreek deur hom na haar dood.

Ramaphosa, wat die ander denkstroom in die ANC verteenwoordig, probeer dit neutraliseer deur by die begrafnis ook Madikizela-Mandela aan te haal. Sy sou teenoor hom haar uitgespreek het ten gunste van ANC eenheid en versoening in die nasie — Ramaphosa se politieke agenda. Volgens die Instituut vir Rasse-Verhoudinge se meningspeiling kom meeste Suid-Afrikaners op voetsoolvlak goed oor die weg en deel hulle sekere konserwatiewe waardes.

Watter standpunt gaan op die lang termyn wen?

Al wat nodig is vir die kwade om te wen, is dat mense wat die goeie voorstaan niks doen nie, volgens Edmund Burke.

Sokrates kan hierby gevoeg word waar hy gesê het dat kennis die goeie in mense na vore bring terwyl onkunde die kwade voed.

Malema se onwaarhede oor die geskiedenis moet met feite verkeerd bewys word. Om verskeie redes is min leiers of joernaliste bereid om met Malema oor hierdie sake te debatteer. Sy ekonomiese denkfoute moet uitgewys en gedebatteer word. Om as gevolg van politieke korrektheid debat te vermy, het die laaste paar weke die ekstremistiese standpunte status gegee en versterk. Behoed ons almal as dit by ʼn verkiesing in die toekoms die hoofstroom standpunte word omdat die mense wat die goeie voorstaan, niks gedoen het nie. 1102 woorde