Dr Pieter Mulder

“Here op die oomblik verstaan ek U nie, maar ek vertrou U” — seker een van die moeilikste gebede om te bid – veral as dinge nie verloop soos jy dit wil hê nie. Dit geld veral die onsekerhede van die afgelope tyd en die effek wat dit op elkeen van ons het.

Korrupsie, misdaad en geweld vier hoogty. Jou lewe kan enige tyd bedreig word. Daagliks hoor ons van nog ’n wrede plaasmoord of ’n rooftog helder oordag.

Ons taal en onderwys is onder druk. Daar is ’n deurlopende aanslag van die regering op ons skole en universiteite. Van die 26 universiteite in Suid-Afrika het sewe aanvanklik Afrikaans as voertaal gebruik. Tans is daar in praktyk skaars een oor.

Grondeise plaas druk en bring totale onsekerheid op die landbou gemeenskap.

As Christen-Afrikaners leef ons in ’n tyd van vervreemding. Ons betaal hoë belastings maar het nie seggenskap oor hoe dit aangewend word nie. Regstellende aksie, kwotas en vervroegde aftrede lei daarna tot werkloosheid en armoede.

Dan lees ek in my oggendgodsdiens hoe Paulus in Romeine 13 skryf (13:1): “Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is deur die beskikking van God.”

’n Jong student, met warm bloed, argumenteer aggressief met my: “Dit kan nie God se beskikking wees dat hierdie politieke party die verkiesing wen en oor ons regeer nie.” Hy dreig: “As so-en-so president van Suid-Afrika word, sal ek met alles waaroor ek beskik my verset!”

Ek dink aan Romeine 13 se tweede vers: “Wie hom teen gesag verset, kom dus in opstand teen die ordening van God; en wie in opstand kom, sal sy verdiende straf kry.”

Om dit nog moeiliker te maak kan jy 1 Petrus 2:13-14 by lees: “Omdat die Here dit wil, moet julle julle onderwerp aan elke menslike owerheid, of dit nou die keiser as hoogste gesag is of die goewerneurs as sy gevolmagtigdes.”

Word daar dus van my as Christen verwag om my onvoorwaardelik aan die owerhede te onderwerp en die kwaad sy gang te laat gaan deur niks te doen nie?

Verkeerdelik het die Middeleeuse kerk hulself in kloosters geïsoleer as hulle reaksie op hierdie probleem.

As professor in die teologie het Martin Luther in daardie tye nie Romeine 13 en 1 Petrus 2 geïnterpreteer dat hy nie mag protesteer of hom mag verset nie. Hy het dit juis as sy Christelike plig gesien. Luther het as Duitse monnik en Rooms Katolieke priester sy protes en verset teen die kerk in 95 stellings uitgespel. Dit het hy teen die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker.

Omdat hy geweier het om sy standpunte terug te trek, het die Pous hom geëkskommunikeer en die keiser hom voëlvry verklaar.

Toe die Schwarmer (fanatiese hervormers) die Hervorming met geweldpleging in die strate en kerke vinniger wou laat verloop, keer Luther na Wittenberg terug. Hy keer terug om teen die geweld en oproer te preek.

In 1524 het boere-opstande in die Swartwoud uitgebreek. Luther het na aanleiding daarvan die Ermahnung zum Frieden (“Vermaning tot vrede”) geskryf, waarin hy met die Swabiese boere se griewe simpatiseer, maar die opstand as ‘n sogenaamde “Christelike rebellie” verwerp het.

Ons het dus die reg en plig tot protes maar, soos alles in ’n Christen se lewe, moet ook dit volgens Christelike riglyne plaasvind. Ons vernietig nie skole nie en ons brand nie vragmotors en bande in die strate nie.

In ’n godlose politieke bestel, waar die gesag van die Skrif deur baie geïgnoreer en verwerp word, pas dit die owerhede as gelowiges hulle van alles onttrek en hulle “lig onder ’n emmer verberg”.

Daarom word druk uitgeoefen om die gesag van die Skrif tot slegs die terrein van die kerk, die teologie en die persoonlike lewe te beperk. Sodoende word die getuienis van die Skrif verhinder om op die politieke terrein, die kultuurterrein en die hele samelewing in te werk.

Ons roeping is tog om elke dag in hierdie wêreld te getuig en vrugte te dra daar waar God jou geplaas het. Ongeag of dit in jou werkplek, op kultuurterrein, in die kerk of politiek is.

“Dit is aanmatigend vir Christene om te glo dat hulle ’n roeping het hier aan die Suidpunt van Afrika,” skryf ’n “slim” rubriekskrywer onlangs in ’n koerant.

Beteken dit ons het geen taak of rol meer hier in Suid-Afrika nie?

As Christen gelowiges durf ons nie so dink nie en behoort ons te weet dat dit nie is wat God van ons verwag nie. ’n Gelowige se roeping in hierdie wêreld word nooit beëindig nie. Matt 5:13-16 “Julle is die sout vir die aarde… Julle is die lig vir die wêreld. ’n Stad wat op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie…Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”

’n Gewilde cliché is: “Politiek is vuil en daarom moet ’n Christen hom daarvan onttrek.” So ’n standpunt skep die indruk dat gelowiges net besig is met die verhewe dinge van die hiernamaals maar die “hiernoumaals” en die huidige samelewing aan die ongelowiges en godhaters uitlewer. Die ware kerk en gelowiges leef in die hele wêreld en moet hulle roeping oral uitleef.

In 2019 is dit nie die eerste keer dat ons as Christen-Afrikaners met die Bybel se riglyne oor die owerheid en verset worstel nie. Enkele voorbeelde:

1706: Reeds in 1706 stel Adam Tas en 62 ander Vryburgers ’n “Klachtscrift” op teen die korrupsie van Goewerneur Willem Adriaan van der Stel aan die Kaap. Hulle stuur dit in die geheim na die Goewerneur se VOC base in Nederland. In reaksie arresteer die Goewerneur vir Adam Tas en plaas hom in die kasteel, in die Swart Gat-sel. ’n Sel wat geen lig deurlaat nie. Na 13 maande slaag Adam Tas se protes en verset. Hy word vrygelaat, die Goewerneur word ontslaan en na Nederland teruggeroep.

1902: By die eerste nagmaal na die Anglo-Boereoorlog het die Pietersburg Gereformeerde kerk se kerkraad vergader oor die lidmate wat tydens die oorlog die Britse mag ge”join” en teen hulle eie mense geveg het. Die Kerkraad besluit dat hulle ‘n ernstige oortreding begaan het.

Hulle het teen die owerheid – die ZAR regering – ingegaan. Hulle is onder sensuur geplaas en kon nie nagmaal gebruik nie. Hulle moes die normale pad van berou toon om terug te kon kom.

1914: Die Suid-Afrikaanse regering het besluit om as bydrae tot die Eerste Wêreldoorlog, in opdrag van Brittanje, Duits-Suidwes in te val en vir Brittanje te verower.

Op die tafel van die Gereformeerde sinode van 1918 was ‘n beskrywingspunt oor die Afrikaner-rebelle se opstand van 1914 hieroor.

Die rebelle redeneer dat die Engelse regering ons gevra het om dit wat aan Duitsland behoort, te vat. Dit is teen die agste gebod wat sê jy mag nie steel nie. Die rebelle beroep hulle op Handeling 5 vs 29: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.”

Na ’n lang debat word in ’n poging tot versoening hulle gedeeltelik gelyk gegee met ’n kompromis sinodebesluit.

1915 en 1940: In 1915 en weer in 1940 marsjeer duisende Christen-Afrikanervroue, meestal in Voortrekkerdrag, na die Uniegebou. Hulle verskil ernstig van die regering se standpunte en protesteer op hierdie manier daarteen. Hulle oorhandig ’n petisie aan die regering waarin hulle hulle griewe uitspel.

Ek het ’n boek oor die huidige tyd geskryf met die titel: “Kan Afrikaners Toyi Toyi?”

Afrikaners kan nie toyi toyi nie en hulle hoef ook nie. Maar hulle durf ook nie passief te sit en al die kwaad en misbruike net oor hulle te laat spoel nie. In die boek skryf ek oor hoe jy sonder politieke mag steeds op baie maniere jou stem kan laat hoor en protes en verset teen onreg aanteken.

In die Christen-Afrikaner se geskiedenis is dit nie die eerste keer waar alles, uit ’n mense oogpunt gesien, donker en sonder duidelike antwoorde lyk nie. Gaan lees maar die Afrikaners se moedeloosheid in hulle dagboeke voor die slag van Bloedrivier in 1838 of na die Tweede Vryheidsoorlog in 1902. Omdat God ’n taak en roeping vir al sy gelowiges het, is ons deur daardie tye en het sterker anderkant uitgekom.

Ek herhaal: Een van die moeilikste gebede om te bid is: “God ek verstaan U nie op die oomblik nie, maar ek vertrou U.” Intussen sit ek nie en niksdoen nie. Ek wys die kwaad uit en getuig daarteen. Indien nodig neem ek aan protesoptogte teen die owerheid deel. Ek doen wat my hand vind om te doen. Ek gebruik die gawes tot my beskikking om my roeping te vervul, so goed as wat ek kan. Om my roeping hier in die wêreld op die plek uit te leef waar dit God se wil was om ons te plaas. Hoe moeilik dit ook soms is.