DR PIETER MULDER (Leier Vryheidsfront)

Bestaan Suid-Afrika alleen uit die som totaal van ‘n groot aantal individue?  Nee, Suid-Afrika bestaan ook uit ‘n rykdom van taal, kultuur en godsdiensgemeenskappe. Die grondwet van 1996 beskryf  volledig die regte van individue. Die ander deel van Suid-Afrika se werklikheid, naamlik gemeenskappe, word nie werklik in die grondwet beskryf of spesifieke regte aan toegeken nie. Uit ervaring in ander konflikdele van die wêreld weet ons dat dit juis hierdie gemeenskappe is  wat bemagtig moet word met regte, sodat hulle kan dien as die  basiese boustene vir ‘n stabiele staatkundige bestel in Suid-Afrika. 

Teen hierdie agtergrond is 19 April 1996 belangrik. Die boek “The making of the Constitution”  verwys na twee historiese deurbrake wat na moeilike onderhandelinge aan die einde van die Suid-Afrikaanse grondwetlike proses, bereik is (p50). Die tweede deurbraak verwys na die gebeure op 19 April 1996. Die boek beskryf hoe ‘n klein sub-komitee, om 2h20 in die more,  uit hulle komitee-kamer gekom het na ure se onderhandeling. Hoe die gesigte van al die deelnemers die erns en belangrikheid van ‘n enorme deurbraak weerspieel het. Die skrywer beskryf hoe daar hoendervleis en trane by ander lede was toe dr Corne Mulder van die Vryheidsfront die ooreenkoms en voorstel in die groter vergadering aangekondig het. Hy het verduidelik dat daar ‘n politieke ooreenkoms was om in die grondwet in te sluit ‘n Kommissie vir die bevordering en beskerming van die REGTE van Kultuur-, Godsdiens en Taalgemeenskappe. Hiermee kon ook die ander deel van Suid-Afrika se werklikheid, naamlik gemeenskappe en hulle regte aangespreek word. ” Mnr Cyril Ramaphosa, wat as voorsitter tydens die onderhandelinge opgetree het, het die volgende daaroor te sê gehad: “When we struck agreement, everyone was overcome with emotion.”

Dit was ses jaar gelede. Nou ses jaar later gaan hierdie kommissie met die lang naam teen 24 September 2002 in werking tree. Die vraag kan vandag met reg gevra word – waar staan ons nou? Wat het van hierdie politieke ineenstemming van daardie herfsnag van 19 April om 02h20 geword ? Die feit dat hierdie kommissie as die laaste van die Hoofstuk 9 instellings van die Grondwet ingestel is dra reeds ‘n boodskap.

Die afgelope ses jaar was ‘n tydperk van vertragings en teleurstellings wat gekenmerk is deur ‘n gebrek aan politieke wil vanaf die ANC regering om daadwerklik die instrument te skep waaroor ooreengekom is. So was daar verskeie pogings van die ANC kant om die kommissie te ontman deur die naam te verander — hulle wou die woord regte uithaal. Die Vryheidsfront het telkens ons daarteen verset en dit so voorkom. Die naam is destyds deur ons sorgvuldig gekies met ‘n doel. Daarom is die naam vandag nog in die grondwet – Die kommissie vir die bevordering en beskerming van die REGTE van Kultuur-, Godsdiens en Taalgemeenskappe. Dit gaan hier oor REGTE. Naas die individue bestaan Suid-Afrika uit taal-, kultuur- en godsdiensgemeenskappe. Dit is juis hierdie gemeenskappe wat bemagtig moet word met regte. Dit is die moderne tendens wat tans wêreldwyd gebeur deurdat grondwette aangevul en gebalanseer word met bepalings oor minderheids- en groepsregte. Toe die finale toets kom, skram die regering weg van hierdie werklikheid. Die geskiedenis sal aantoon hoe ‘n belangrike verspeelde geleentheid dit was. Ons gaan later deur Suid-Afrika se werklikhede geforseer word om dit onder baie moeiliker omstandighede te moet regmaak.

Minister Mufamadi het in sy toespraak in die Parlement  tydens die debat oor hierdie belangrike wet die klem op alles behalwe die regte van gemeenskappe geplaas. Verskeie aspekte van die wet, soos die feit dat gemeenskappe geen seggenskap sal hê oor wie hulle op die kommissie verteenwoordig nie; asook die totale afwesigheid van enige bevoegdhede vir gemeenskapsrade, water die gedagte van gemeenskapsbemagtiging so af, dat die VF teen hierdie wet gestem het. Hoe jammer. ‘n Geleentheid is deur die vingers laat glip. Deur die wet te steun sou op oneerlike wyse ‘n boodskap aan die regering gestuur het dat die saak van gemeenskappe en hulle regte nou voldoende aangespreek is. Die destydse Verteenwoordigende Kleurling adviesraad van mev Althea Jansen, wat deur die NP-regering vir die bruin gemeenskap ingestel was, het meer magte gehad as wat die nuwe wet moontlik maak. Daardie gemeenskap het dit destyds verwerp.  Wat maak ons nou?

Om te boikot gaan ons niks help nie. Kom ons benut dit as ‘n eerste stap terwyl ons die geveg om gemeenskapsbemagtiging voortsit. Dit beteken dat ons moet deelneem aan die werksaamhede van die Kommissie en die instelling van Gemeenskapsrade.  Dit beteken dat alle Afrikaners, sowel as die breer Afrikaansprekende-gemeenskap en ander gemeenskappe, nou na vore sal moet kom, om hierdie meganismes, hoe gebrekkig hulle ook tans mag wees, te gebruik en te benut.

Die VF wil ‘n beroep op die Groep van 63 doen om saam met die FAK en die Oorlegplatform die inisiatief te neem om ‘n byeenkoms van alle belangstellendes te reel. Laat ons hieroor konsensus kry. Al is hierdie hoegenaamd nie die laaste woord oor die bemagtiging van Afrikaners of die Afrikaanssprekende-gemeenskap nie, het die tyd nou aangebreek om in ons gemeenskap oor hierdie saak, oor politieke grense heen, saam te werk.