Dr. Pieter Mulder,

(Voormalige parlementslid en Adjunk-Minister van Landbou.)

Augustus 2018.

“Artikel 25 van die grondwet moet gewysig word om onteiening van grond sonder vergoeding moontlik te maak. Dit sal Suid-Afrika se probleme van armoede, werkloosheid en swak ekonomiese groei oplos.”

Dit was min of meer die trant van meeste argumente by die openbare verhore oor grondonteiening.

In baie toesprake was daar haat en wraak teen witmense. Omdat ANC leiers, veral in die Zuma-tydperk, hulle kiesers op ’n haat-dieet teen wittes gevoer het as ’n manier om hulle mislukkings weg te steek, is dit die gevolg.

As jy fyner geluister het, soek meeste van die sprekers egter net ’n kortpad uit armoede uit. Dit was desperate hulpkrete aan die regering om hulle armoede te verlig.

Dit pas die ANC om verkeerdelik uit die verhore af te lei dat grond en die behoefte om te boer die meerderheid mense se eerste en belangrikste prioriteit is.

As enige persoon die keuse kry of hy/sy verniet ’n plaas of grond kan kry, wie sal “nee” sê? Daarom kan die verhore moeilik as ’n wetenskaplik korrekte referendum oor grond vir boerdery aktiwiteite gesien word.

In ’n onlangse landwye meningspeiling van die Instituut vir Rasse Verhoudinge is bevind dat swart mense glo werkskepping moet die regering se eerste prioriteit wees. Werkskepping en beter onderwys is deur 64% van die mense as hulle eerste en tweede prioriteite aangewys. Vinniger grondhervorming was tiende op die lys met 1% steun (IRR FreeFacts No2/2018 June p.6).

Die pleidooie by die verhore het wel daartoe gelei dat president Ramaphosa skielik en ondeurdag aankondig dat die ANC die grondwetlike verandering van artikel 25 steun.

“Skielik” omdat die ANC vrees dat hulle swak in die verkiesing oor nege maande gaan vaar

“Ondeurdag” deurdat die Parlementêre komitee se ondersoek na die saak nog nie afgehandel is nie.

Die toekoms sal wys dat die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee in hulle oorhaastige paniek, Ramaphosa geforseer het om ’n aankondiging te maak sonder dat hulle enigsins die gevolge van so ’n aankondiging deurdink het.

As die ANC dink dat die party die towerformule gekry het om armoede, werkloosheid en die swak ekonomiese groei van Suid-Afrika op te los deur artikel 25 van die grondwet te wysig, wag daar ’n baie groot verrassing op hulle. Presies die teenoorgestelde gaan gebeur.

Daar is geen manier hoe die ANC “’n beter lewe vir almal gaan skep” sonder hoër ekonomiese groei en beduidende beleggings vanaf die buiteland nie.

Met grondonteiening sonder vergoeding stuur die ANC ’n boodskap na buite wat beleggings uit die buiteland totaal afskrik en alle ekonomiese groei gaan kelder. Dit gaan lei tot “’n slegter lewe vir almal in plaas van ’n beter lewe.”

Waarom het grond so ’n emosionele saak geword?

Omdat die regering telkens voor ’n verkiesing groot verwagtinge rondom grond skep. Na die verkiesing gebeur daar niks nie. Deurlopend word die wit boere en die grondwet dan geblameer vir die stadige vordering met grondherverdeling.

Die fout lê nie by die grondwet of by die boere nie.

Die meerderheid boere, TLU SA en AgriSA het al talle voorstelle gemaak oor hoe die probleem opgelos kan word. Die regering ignoreer hierdie voorstelle.

Die vorige Minister van Grondsake Nkwinti het erken dat nege uit elke tien grondoordragte misluk het en tans nie produktief is nie.

Elke jaar is ongeveer 5% grond op die ope mark te koop. Daar was genoeg geld vir grondhervorming begroot sedert 1994 om jaarliks van hierdie grond te koop. Dan kon meer as 40% grond reeds in swart hande gewees het.

Deur die ANC se lomp werkswyse is dubbeld vir grond betaal. Na ’n suksesvolle grondeis koop die staat die plaas vir byvoorbeeld R5 miljoen. Tot 92% van die grondeisers het eerder kontant as die grond verkies. Dan moet die staat ’n verdere R5 miljoen kontant aan die grondeisers betaal. Die hele transaksie kos die staat nou R10 miljoen. Die duur grond bly egter in besit van die staat. So is daar tans meer as 4000 plase in staatsbesit.

In die ANC se Nasionale Ontwikkelingsplan, wat in 2012 by hulle Mangaung-kongres aanvaar is, word voorgestel (p.227) dat grondherverdeling op distriksvlak gedoen word. Boere en ander belanghebbendes van die distrik kom bymekaar en dui 20% grond aan waar swart boere in die distrik gevestig kan word. In meeste distrikte is daar 20% grond te koop of boere wat wil ophou boer. Die staat betaal 50% van die koste vir die 20% grond, die wit boere maak ’n bydrae en tree as mentors op vir die nuwe swart boere. Daardeur kry die 80% wit boere Swart Bemagtigingstatus wat beteken dat hulle eie grond hierna veilig is. Hoever hierdie voorstelle kan werk, weet ons nie want dit is nog nooit geïmplementeer nie.

Die fout rus dus vierkantig op die regering en die departement van Grondsake se skouers wat vir 24 jaar geld gemors het en talle voorstelle geïgnoreer het om die probleem aan te spreek.

Die ANC se eie paneel van kundiges, onder leiding van oud-president Kgalema Motlanthe, bevestig dat die fout hoofsaaklik by die regering en die Departement van Grondsake lê. In hulle verslag wys hulle daarop dat korrupsie, oneffektiewe amptenare, geen oordrag van eiendomsreg nie asook die bevoordeling van regeringslede die belangrikste probleme is.

Suid-Afrika kort baie meer suksesvolle swart kommersiële boere met titelaktes van hulle grond. Om daarin te slaag moet ons die ontwikkelde lande se patroon volg en nie dieselfde foute as baie Afrikastate maak nie.

In 1870 was 80% van die Amerikaanse bevolking in landbou op die platteland betrokke. Vandag is die grootste deel van die Amerikaanse bevolking verstedelik. Minder as 2% van die bevolking is in landbou betrokke. Tog produseer daardie 2% met moderne metodes genoeg voedsel vir al die verstedelikte Amerikaners.

In Afrika boer meer as 80% van alle landbouers op plasies van 2 hektaar en kleiner. Daarom is die meeste landbouers bestaansboere wat net vir hom/haar en die gesin kos produseer. Waar Afrika steeds vinniger verstedelik, skep dit groot voedseltekorte. Vyf-en-dertig van die Afrikalande Suid van die Sahara het geen voedselsekerheid nie en moet voedsel invoer.

Suid-Afrika gaan binne enkele jare 70% verstedelik wees. Wil ons terug beweeg na bestaansboerdery of eerder die behoefte aan grond in die stede bevredig? Daarom moet stedelike inwoners so gou as moontlik titelaktes kry daar waar hulle woon.

Mondli Makhanya, vorige Redakteur van die Sunday Times, som dit so op:

“We are wasting valuable time and energy trying to restore people to their peasant ways. Ordinary South Africans either do not want land or just do not have the capacity to work it. They want to go to cities and work in modern economy…

“Large-scale, highly mechanised commercial farming is now the way of the world. You cannot turn the clock back four decades. That is just the reality. Furthermore, the young people would, as has happened elsewhere, have simply upped and headed for the towns and cities. Yet we continue to nurse the notion that we can reverse the inevitable march to an urban future. We keep wanting to fight the logic of large-scale commercial farming…

“The money and energy that is spent on getting peasants back into subsistence (farming) would be better used to create a strong class of black commercial farmers who actually do farm for commercial rather than sentimental reasons.” (Sunday Times, 28/2/2010, p10)

Minder blamering en meer waardering is vir ons kommersiële boere nodig.

Die ongeveer 34 000 wit en swart kommersiële boere produseer tans 95% van ons kos. Hulle is minder as 0,07% van die bevolking maar maak dat ons een van die min lande in Afrika is met voedselsekerheid. Hulle is die grootste werkskeppers vir veral ongeskoolde werkers en betaal salarisse aan ongeveer 800 000 mense. Met hulle aktiwiteite hou hulle die ekonomie van landelike dorpe aan die gang terwyl hulle terselfdertyd waardevolle buitelandse valuta vir Suid-Afrika verdien.

Deurdat die ANC hierdie boere deurlopend negatief teiken, skep dit ’n klimaat van totale onsekerheid maar ook van vyandigheid wat beslis bydra tot die groot aantal plaasmoorde.

Op die harde manier gaan die ANC en die deelnemers aan die openbare verhore leer dat wysiging van die grondwet en die onteiening van grond nie die kortpad uit armoede is nie. Inteendeel. Die enigste kortpad uit armoede, is om die lotto te wen. Al die ander paaie neem tyd en sluit werkskepping, beleggings, titelaktes en harde werk in.