Pieter Mulder

1. Afrikanermans en -vroue het baie ontberinge gehad tydens die Groot Trek insluitende Bloukrans, Wenen, Vegkop 1836 en Bloedrivier 1838. Na al die ontberinge om vry te wees met ʼn eie republiek, annekseer die Britte in 1843 vir Natal en is die Voortrekkers terug onder Britse gesag.

Toe die Voortrekkermans op hulle eie besluit om maar die Britse anneksasie van Natal hulle te laat welgeval, het die vroue onder leiding van die gedugte Susanna Smit ontplof. Soos die dokument dit stel: “…hulle het daarop gewys dat na veldslagte waarin hulle saamgeveg het, die mans hulle die versekering gegee het ‘dat hulle in die toekoms saam besluite kon neem oor sake wat die land raak’.

Die verengelsde Kapenaar Henry Cloete wat namens die Britse regering met hulle probeer onderhandel het, was geskok dat Afrikaner vroue soveel vryheid toegelaat word en ook oor die woorde, “Liewer kaalvoet oor die Drakensberge as weer onder Engelse beheer.”

2. In die Anglo-Boereoorlog het baie meer Afrikanervroue as mans gesterf. In die konsentrasiekampe het vroue, wie se mans nog geveg het, net ʼn halwe rantsoen kos daagliks vir hulle gesinne ontvang. Vroue wie se mans oorgegee of gevang was, het ʼn vol rantsoen ontvang. Die doel was om so die vroue te dwing om druk op hulle mans te plaas om oor te gee.

Eenstemmigheid bestaan dat die vroue die mees oortuigde Bittereinders was en dat hierdie strategie nie geslaag het nie al is baie vroue en kinders van honger dood. Op groot skaal het die vroue hulle hul mans, wat vroeg wou hensop, teruggestuur om voort te stry vir hul land se onafhanklikheid. Genl. JBM Hertzog het na die oorlog verklaar: “Ons vroue was die grootste rebelle: hulle het vir ons taal en tradisies geveg.’ Hy het bygevoeg dat ‘n mens die land in ‘n politieke hel sal verander as jy die Afrikaanse vrou ignoreer.”

Na aanleiding van hierdie gebeure is die wêreld se eerste, en dit bly vir baie die wêreld se aangrypendste monument vir vroue in Bloemfontein opgerig. Dit herdenk die lyding wat oorlog, waarvoor dit ook al gevoer word, altyd bring oor vroue en kinders wat daaraan geen skuld het nie. Dit is gewy “Aan Onze Heldinnen en Lieve Kinderen” – 26 370 van hulle    wat gedurende die Anglo-Boere-oorlog in die Engelse konsentrasiekampe van ontbering, siekte en honger omgekom het.

3. Tydens die Anglo-Boereoorlog teen die Britte het die Duitsers kanonne, gewere en hulp aan die Boere verskaf. In 1914 verwag die regering van die Boere, wat twaalf jaar van te vore vroue, kinders en kamerade in die oorlog verloor het, om teen die Duitsers te veg aan Britse kant. Dit lei tot die Rebellie van 1914 waar helde uit die Anglo-Boereoorlog soos genl De Wet weier en teen die regering in opstand kom en rebelleer.

Die rebelleleiers soos genl Christiaan de Wet is gevang en gevonnis en het hulle vonnisse in die ou Fort in Johannesburg uitgedien. Die Fort is in 1893 gebou deur pres Kruger se regering. Vandag is die ou Fort omskep in Suid-Afrika se Grondwethof.

Die inhegtenisneming van die rebelleleiers en tronkstraf vir helde soos genl De Wet (in die tronk wat vandag die Grondwethof is) het die simpatie van vroue dwarsoor die land aangegryp. In Pretoria is onder leiding van mev. Piet Joubert ‘n vroue-optog gereël om vir die loslating van die rebelleleiers te pleit.

Op 4 Augustus 1915 het 6 000 afgevaardigdes, wat 65 000 vroue uit alle dele van die land verteenwoordig het, gewapen met 40 000 handtekeninge, na die Uniegebou gestap en ‘n versoekskrif vir die loslating van die rebelleleiers aan die goewerneur-generaal voorgelê. Dit was die eerste massabeweging van Afrikanervroue. Louis Botha het die vroue-optog as ‘n politieke set gesien, en beweer dat die vroue deur die mans aangesê is om dit te doen

4. Een van die temas van die verkiesing van 1938 was dat Suid-Afrika, anders as in 1914, neutraal sal bly as daar weer ʼn oorlog in Europa uitbreek. Die VSA het dieselfde benadering gevolg en was tot baie laat in die oorlog neutraal. Toe die oorlog 1 Sept 1939 in Europa uitbreek het genl Hertzog as Eerste Ministers hom op die mandaat van die kiesers beroep dat Suid-Afrika aanvanklik neutraal sal bly. Genl Smuts het verskil. Dit het gelei tot ʼn skeuring in die kabinet en in die regerende Verenigde party. Genl Herztog verloor die stemming in die Parlement en Suid-Afrika verklaar oorlog teen Duitsland aan Britse kant.

Baie Afrikaners was ontevrede met Suid-Afrika se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog. Die Afrikanervroue het besluit om te protesteer.

Op Saterdag 22 Junie 1940 het altesame 9 800 vroue in gelid na die Uniegebou geloop, waar ‘n versoekskrif aan die eerste minister oorhandig sou word. Nog 3 968 vroue het telegramme gestuur en nog 3 829 se handtekeninge is op petisies ontvang Die duisende vroue, meestal in Voortrekkerdrag, het na die Uniegebou gemarsjeer om ‘n petisie wat vrede vra, aan genl. Smuts te oorhandig. Genl Smuts kon of wou hulle nie sien nie en hulle het dit toe aan minister Hofmeyer oorhandig.