Groot Debat [email protected]

“Hoe verklaar ek die psige van die Afrikaners in die Noordelike provinsies?” vra ʼn Kaapstadse joernalis aan my.

Daarna is sy baie snedig en beledigend oor hoe Afrikaners in die Noordelike provinsies “agter” en “agterlik” is in hulle denke. Sy tel die Weskaap en Noordkaap as Suidelike provinsies.

“Afrikaners verskil baie van mekaar en laat hulle nie sommer in kategorieë indeel nie. Dit is ook altyd gevaarlik om te veralgemeen,” berispe ek haar.

Die joernalis laat my tog nadink oor die verskille in benadering en standpunte tussen Afrikaners in die Noorde en in die Suide tans is. As parlementslid beweeg ek op ʼn gereelde basis tussen die Parlement in Kaapstad en my huis in die Noorde. Ek slaap oor by mense, kuier met kiesers en hou baie vergaderings oral in die land. As Adjunk-Minister die afgelope vyf jaar het ek samesprekings met mense van alle groepe, tale en streke gevoer.

Waarom die verskille tussen Noord en Suid?

My gevolgtrekking: Die verskil tussen die huidige Zuma-ANC en die 1994 Mandela-ANC moet eers verstaan word. Daarna moet na die effek hiervan op die mense in die verskillende provinsies gekyk word. Die bevolkingsamestelling in die Noordelike provinsies teenoor die Suide kan dan ook nie geïgnoreer word nie. (In Limpopo is 97% van die bevolking swart, in Mpumalanga is die syfer 91% met meeste ander noordelike provinsies meer as 85%. Daarteenoor vorm die Bruin en Wit bevolking van die Weskaap steeds 64% van die bevolking in daardie provinsie en is Afrikaans steeds die meerderheidstaal in die Noordkaap.)

 1. ZUMA-ANC VERSUS MANDELA-ANC

Die huidige Zuma-ANC, wat van die Mandela-ANC, onderskei moet word, se arrogante regeringstyl en optrede lei onafwendbaar daartoe dat die Suid-Afrikaanse pendulum in reaksie tans na groter polarisasie in plaas van versoening swaai.

Dit sien jy uit die skielike sukses van die EFF aan die een kant en ʼn teen reaksie aan Wit- maar veral Afrikanerkant.

Enkele voorbeelde:

                1.1 Begrip vir Afrikaanse knelpunte (“issues”)

MANDELA-ANC: Mnr. Mandela het moeite gedoen om op Robbeneiland Afrikaans te leer ten einde die Afrikaner te verstaan. Hy het aan my persoonlik tydens ʼn ontbyt vertel hoe hy in die oggende Monitor oor die Afrikaanse radio geluister het om die debatte en politieke argumente van Afrikaners te verstaan. Hy het ook by ander ANC-leiers aangedring daarop dat hulle Afrikaans leer.

ZUMA-ANC: In die Zuma kabinet, terwyl ek die afgelope vyf jaar daar was, het geen minister moeite gedoen om Afrikaanse koerante of tydskrifte te lees nie. Afrikaanse knelpunte “issues” is nie meer vir hulle belangrik nie. Waar ek in die kabinet oor ʼn debat of twisgesprek in die Afrikaanse media wou praat, moes ek telkens eers verduidelik waaroor dit gaan omdat niemand dit gelees of daarvan geweet het nie. (Minister Trevor Manuel het wel Afrikaanse koerante gelees maar dit was meer omdat sy seuns rugby speel en hy daarin belangstel!)

                1.2 Kompromieë en akkommodering van alle Suid-Afrikaners.

MANDELA-ANC: Ek was deel van die onderhandelinge oor die name van ons damme en lughawens in die Mandela tydperk. In die gees van versoening en kompromie is ooreengekom om nie politici of prominente persone van enige kant te vernoem nie. Jan Smuts lughawe is na Johannesburg Internasionaal, JBM Hertzog na Bloemfontein lughawe; DF Malan na Kaapstad Internasionaal; ens verander.

ZUMA-ANC: Die Mbeki- en Zuma-ANC het nieteenstaande ons beroepe dat by die oorspronklike ooreenkomste gehou moet word, dit verbreek. Ons is nou terug by die vernoeming van politici en prominente persone, maar net van die ander kant af. Johannesburg het OR Tambo geword; Bloemfontein Braam Fischer; ens. Kaapstad is natuurlik nog ʼn neutrale Kaapstad internasionale lughawe en George is George lughawe.

                1.3 Taal en Afrikaans

MANDELA-ANC: In sy tyd word in die grondwet (Artikel 6(4)) bepaal dat daar ʼn talewet gemaak moet word om te verseker dat alle tale billik hanteer word.

President Mandela gaan ook uit sy pad om met talle voorbeelde die Afrikaanse gemeenskap erkenning te gee. So woon hy die KKNK fees in Oudshoorn by en praat oor hoe belangrik Afrikaans is. Met so ʼn gebaar wen hy vir etlike jare die goedgesindheid van alle Afrikaansprekendes.

ZUMA-ANC: Nieteenstaande my en ander se uitnodigings aan president Zuma na sulke geleenthede het hy nie daarop gereageer nie. Daar was ʼn byeenkoms van Afrikaanse leiers gereël kort voor die 2014 verkiesing maar laasgenoemde was deursigtig gemik slegs op stemme.

Wat Mandela se beloofde talewet betref, het beide die Mbeki- en Zuma-ANC dit geïgnoreer. Dit het ʼn hofsaak gekos, byna twintig jaar later, om die ANC-regering te forseer om die wet te maak. Nieteenstaande die hof se voorskrif dat alle departement op 1 November 2014 hierdie wet moes implementeer, het meeste departement dit geïgnoreer. Die betrokke Minister het nou weer uitstel vir ses maande moes gegee.

2. SUID TEENOOR NOORD

Die reaksie van mense op die Zuma-ANC verskil grootliks soos jy van Suid na Noord deur die land beweeg.

In die Wes-Kaap en gedeeltes van die Noordkaap heers, veral onder Afrikaners, nog grootliks die versoeningswittebroodbenadering uit die Mandela ANC tydperk. As hierdie mense die nuus en koerante se inligting ignoreer, het by baie van hulle min in hulle alledaagse lewe verander.

In die Noorde is dit grootliks anders. Elkeen het iewers iets persoonlik ervaar waardeur die wittebroodbenadering vervang is met ontnugtering, frustrasie en woede teenoor die ANC. Onthou die volgende paar feite:

2.1 Die ANC regeer orals

NOORD: Alle dorpe in die Noordelike provinsies, Vrystaat, Noordwes, Limpopo, Mpumalanga en Gauteng (behalwe 1% in Midvaal) word reeds vir 20 jaar sedert 1994 deur die ANC regeer.

SUID: Die ANC het nog nie werklik oor die Weskaap regeer nie. Die kort tydjie wat dit gebeur het, was dit met behulp van die NP en Marthinus van Schalkwyk se oorloop na die ANC na die verkiesing. In slegs enkele dorpe in die Weskaap regeer die ANC of is die dorp in die nuus oor ʼn samewerking koalisie wat nie werk nie.

                2.2 Naamsverandering.

Naamsverandering is hoofsaaklik ʼn simboliese gebaar. Tog stuur die ANC daarmee ʼn duidelike boodskap van beheer en subtiele wraak aan veral Afrikaners omdat baie min Engelse name nog verander is (Queenstown, Oos-Londen, Kimberley, ens. bly onaangetas).

As jy al as ʼn individu deur ʼn adresverandering, met kennisgewings aan alle maatskappye, mediese fonds, vriende, ens. gegaan het, besef jy die frustrasies daarvan. In die geval van besighede het dit baie groot finansiële implikasies ten opsigte van alle gedrukte materiaal, advertensies, buitelandse klante, ens.

NOORD: In Limpopo is alle groot dorpe se name verander en in Mpumalanga meeste dorpe se name. Daar is nie ʼn dorp of stad, Pretoria ingesluit, wat nie groot straatnaamveranderinge gehad het nie. (Waar ons nog in Potchefstroom in die nadraai van die Mandela tydperk ʼn kompromie kon onderhandel met Potchefstroom en Tlokwe wat albei erken word, is die huidige ANC onverbiddelik oor byvoorbeeld Louis Trichardt na Makhado; Nelspruit na Mbombela; ens.

SUID: Ek is nie bewus van een dorp in die Weskaap wat ʼn naamsverandering ondergaan het nie. Die enkele straatnaamveranderinge waar byvoorbeeld president Mandela erkenning gekry het, was dit nie ten koste van ʼn gevestigde naam soos Kruger of Kerkstraat soos in die Noorde nie. (Ek bly nuuskierig hoe Kapenaars gaan reageer as Stellenbosch, Paarl en Kaapstad Khoi name kry soos dit volgens die ANC behoort te wees.)

                2.3 Platteland en Landbou

NOORD: As ek in Limpopo of Mpumalanga ʼn vergadering toespreek, begin die vergadering dikwels met ʼn mosie van roubeklag oor iemand wat aan almal bekend is en wat in ʼn plaasaanval dood is. Meeste mense in die gehoor ken iemand wat in ʼn plaasaanval dood is en meeste het ʼn grondeis op hulle plaas.

SUID: Ek hou ʼn landbou-toespraak by Vredendal aan die Weskus. Hulle sê ek moet nie oor plaasmoorde of grondhervorming praat nie want hulle het geen plaasmoorde tot op datum gehad nie en het ook geen eise op grond nie. Alkholisme is wel ʼn probleem.

                2.4 Afrikaanse Skole

NOORD: Op die platteland in die Noorde is meeste Afrikaanse skole tot niet. Kindertjies in graad een, ses jaar oud, is in die koshuis 200 km van die huis in groter sentra soos Bloemfontein, Potchefstroom of Polokwane.

(Departementele syfers: Die afgelope elf jaar het 25% van die Afrikaanse skole in Noordwes, Vrystaat en Mpumalanga na dubbelmedium of Engels verander. Die syfer vir Limpopo is 38% en vir Gauteng 50%. Die ervaring wys dat ʼn dubbelmediumskool, veral op die platteland, nie lank in die Noorde dubbel bly nie. Vanweë die getalle eindig dit binne enkele jare as Engels enkelmedium.)

SUID: Danksy die oorwegend Afrikaanssprekende bruingemeenskap in die Weskaap en Noordkaap is daar steeds oral Afrikaanse skole. (Die afgelope elf jaar het slegs 8% skole in die Weskaap en 9% in Noordkaap na dubbelmedium of Engels alleen verander).

                2.5 Water en Dienslewering

NOORD: Talle dorpe in die Noorde het gereeld tydperke van een tot twee weke sonder water. (Ek kan voorbeelde en dorpe se name gee). Waar ʼn huishouding nog sonder krag kan klaar kom, is dit baie ernstig sonder water. Omdat my eie huishouding in Potchefstroom al deur so ʼn tydperk is, besef ek die probleme van geen badwater vir ʼn week of geen water om vir ʼn week toilette te kan spoel nie! Ek het op uitnodiging reeds talle dorpe in die Noorde besoek waar riool letterlik in die strate afloop en in waterbronne in.

SUID: Watertekorte is nie ʼn groot probleem in dorpe in die Suide nie en ek is nie bewus van dorpe waar riool in strate afloop nie.

            2.6 Regstellende Aksie

NOORD: In die totale staatsdiens is wit en bruin amptenare tans onder verteenwoordig teenoor swart. By die Departement van Binnelandse Sake is byvoorbeeld tans meer as 90% swart staatsdiensamptenare teenoor die demografiese 80% swartes in Suid-Afrika. Tog word regstelling nie in die staatsdiens gestaak nie en word nie na meriete aanstellings en bevorderings teruggekeer nie. Onthou die meerderheid ou staatsdiensamptenare was en is in Pretoria woonagtig.

SUID: Regstellende aksie is ʼn baie minder ernstige probleem in die Weskaap. Toe daar gepoog is om by Korrektiewe dienste in die Weskaap die nasionale demografie toe te pas, was daar ʼn reuse reaksie.

3. SLOT.

Ek is geïrriteerd met individue van die Suide wat allerlei slim menings oor Suid-Afrika op ons almal afforsseer sonder enige werklike begrip vir toestande orals in die land. Dit is veral die aanmatigende manier waarop sommige joernaliste en meningsleiers, wat dikwels veilig in Stellenbosch of in ʼn Weskusdorpie vir die werklikhede van Suid-Afrika wegkruip, hulle oor alles uitspreek wat my irriteer. Ek is meer as bereid om in debat te tree met iemand wat weet wat in Limpopo, Mpumalanga en die Weskus aangaan en dan van my verskil oor minderheidsregte of oor my oortuiging dat dit nodig is om die Verenigde Nasies in te lig oor toestande in Suid-Afrika.