PIETER MULDER, LEIER VF PLUS

APRIL 2005

Is jy  ’n Afrikaner? Hoe lyk ’n Afrikaner? Met hierdie vrae worstel akademici by konferensies. Met hierdie vrae skryf joernaliste koerante vol. Met hierdie vrae – skrik jong mense vir enigiets wat na Afrikaner ruik. Ek is namens baie Afrikaners moeg oor die gewroeg.  

In die kroeë in Ierland gaan die argumente nie oor wie is ’n Ier en wie nie. Langs die rugbyvelde in Wallis is die debatte nie oor wie is Wallies en wie nie. As jy hulle hieroor uitvra, is hulle verbaas oor die vraag. “As jy nie weet nie, is jy nie”, is dan die antwoord. Tydens ’n gesprek met die Lappe in Lapland was die antwoord: “Jy weet of jy ’n Lap is in jou hart!”.

Nou waarom worstel ons so. As jy nie ’n Afrikaner wil wees nie, jou keuse. Ek is wel een. Ander Suid-Afrikaners sukkel nie om iemand as Afrikaner uit te ken nie. Hulle gaan jou indeel of jy daarvan hou of nie.    

Ek is wel moeg vir die baie dubbele standaarde wat tans toegepas word. As dit by regstellende aksie kom, beskryf die wet, in kru rasse detail, teen wie gediskrimineer mag word.  As ons in die Parlement oor diskriminasie teen Afrikaners praat, moet ons eers definieer wie presies bedoel word. Niemand weet kamstig van wie ons praat nie. Tog by die Waarheidskommissie, toe oor die sondes van Afrikaners gepraat is, het almal presies geweet wie is hierdie mense.

Daar is goeie Skotte en slegte Skotte. Daar is suinige Skotte en vrygewige Skotte. Alle Skotte is nie suinig nie want alle Skotte is nie dieselfde nie. So is alle Afrikaners ook nie dieselfde nie. Dit is anti-Afrikaner propagandiste wat een stereotipe van ’n Afrikaner probeer skep. Ons moet hulle nie toelaat nie. 

Kom ons gebruik die huidige debatte om die onbillike stereotipe af te breek. Dan kan jy bewys “ons is nie almal so nie” en jou eie soort Afrikaner wees.