Dr Pieter Mulder

(Wat onlangs Nagasaki in Japan besoek het.)

Nagasaki is die laaste stad waarop ’n atoombom gegooi is. Dit was 9 Augustus 1945.

Ons Nagasaki-gids wys die middelpunt, die hiposentrum waar die bom ontplof het, aan ons uit. Daar is ’n swart suil op die plek opgerig. Presies 500 meter bokant die suil het die bom ontplof. Langs die suil is ’n swart kis, ’n senotaaf of leë graf, simbolies vir al die dooies wat nooit gevind is nie.

Na Hirosjima was die Japanse stad Kokura gekies as teiken vir die tweede atoombom. Vyf Japanse stede is aanvanklik deur die Amerikaners uitgekies as moontlike teikens vir die eerste atoombomme. Nagasaki was nie een van hulle nie.

Wat het gemaak dat die tweede atoombom op Nagasaki en nie op Kokura gegooi is nie?

Die bemanning van die Amerikaanse Boeing B29 bomwerper het naby hulle teiken, die stad Kokura, die elektroniese veiligheidspenne uitgetrek wat die atoombom finaal geaktiveer het. Omdat tot 70% van die stad met wolke en rook bedek was, kon hulle nie die stad en hulle teiken sien nie.

Die vliegtuigbemanning het ’n tweede keer probeer deur vanaf ’n ander kant oor Kokura te vlieg. Weer is die teiken nie duidelik sigbaar nie. Na die derde mislukte poging moet daar besluite geneem word. Die vliegtuig het reeds 50 minute gemors met drie pogings oor die stad. Die brandstof is so laag dat die vliegtuig nie meer veilig na sy basis op Iwo Jima sal kan terugkeer nie. Hulle sal nou na die nader Amerikaanse basis op Okinawa moet vlieg om veilig te kan land. Omdat hulle nie met ’n geaktiveerde bom kan land nie, sal hulle dit in die see moet gooi voor landing. ’n Ander opsie is om dit op ’n tweede teiken te gooi.

Op pad na Okinawa vlieg hulle oor Nagasaki. Die stad is ook met wolke bedek. Vir ’n kort oomblik is daar ’n opening in die wolke waardeur die bombardier ’n klein gedeelte van die stad kan sien. Om 11h01 die oggend laat hy die bom los. Dit val vir 47 sekondes en ontplof ongeveer 500 meter bokant die grond.

Toe hulle teiken, die stad Kokura, toe is met wolke, moet hulle ‘n ander plan maak. Op pad terug vlieg hulle oor Nagasaki. Ook bewolk. Die wolke maak skielik ‘n klein opening wat dit moontlik maak om Nagasaki te sien en die bom af te gooi.

Van die oorlewendes in Nagasaki het die ontploffing beskryf as ’n skielike reuse pilaar van pers vlamme met daarna ’n sampioenwolk wat tot 14 000 meter die lug in opgestyg het.

Die ontploffing maak ’n drukwind van 1005 km per uur wat vanaf die middelpunt uitgekring het. Hierdie wind het alles voor hom platgevee.

Die drukwind is gevolg deur ’n golf van hitte en radio-aktiewe bestraling. Die hitte se temperatuur was 3900 grade Celsius. Dit is warmer as die son se oppervlakte. Niks kon dit oorleef nie. In ’n sirkel van 4 km vanaf die middelpunt is alle huise vernietig en net ’n kaal gestroopte vlakte van rommel agtergelaat.

Nagasaki voor die bom ontplof het met die rivier deur die stad duidelik sigbaar.
Nagasaki na die bom ontplof het-die rivier is nog sigbaar maar die res is kaal gebrande vlakte.

Nagasaki het ongeveer 260 000 inwoners in 1945 gehad. 150 000 hiervan is onmiddellik dood of ernstig beseer.

Sowat 300 meter vanaf die middelpunt van die ontploffing was die Urakami Nagasaki tronk. Die tronk het staalversterkte mure van 25 cm dik en 4 meter hoog gehad. Die tronk het 20 000 vk meter beslaan. Na die ontploffing is niks, behalwe die fondamente van die tronk, oor nie. Die bewaarders, gevangenes en mure het in die hitte verdamp.

Al wat oorgebly het van die dik 4 meter mure van die Urakami tronk – die bewaarders en gevangenes het verdamp.

Die bomwerper het met min brandstof voortgevlieg. Die bemanning van die vliegtuig het nie die vaagste idee gehad van die werklike omvang, skade en dood wat hulle agtergelaat het nie. Die werklike impak van hierdie nuwe oorlogswapen sou eers later besef word. Hulle het Okinawa lugmagbasis net-net gemaak met twee van die vier enjins wat weens ’n tekort aan brandstof reeds gaan staan het.

Vanweë wolke oor Konkura is duisende inwoners van Nagasaki se lewe en toekoms binne enkele sekondes ingrypend verander. As die stad Konkura nie op daardie dag met wolke bedek was nie, sou Nagasaki vandag steeds ’n onbekende Japanse stad gewees het.

Ons stap oor die pad na Nagasaki se Vredespark — ’n park met standbeelde wat vir vrede pleit. Die boodskap is “nooit weer atoombomme nie”.

Die hoof vredesbeeld is tien meter hoog. Dit is ’n man wat in ’n eienaardige posisie sit. Sy een arm wys na bo en die ander wys horisontaal.

Volgens die beeldhouer wys die een arm na die bedreiging van ’n atoombom uit die lug terwyl die ander arm kalmte en wêreldvrede simboliseer. Die standbeeld se regterbeen is ingebuig in ’n passiewe Boeddha meditasie posisie terwyl die ander been gereed is om op te staan en die mensdom te help. Die beeld se oë is gesluit in gebed om sielerus vir al die bomslagoffers te vra. Dit is ’n kombinasie van Westerse en Oosterse kuns en godsdiens, volgens die beeldhouer.

Naby Nagasaki se hoof vredesmonument is ’n eienaardige ander monument met ’n kraanvoël bo-op. Binne die monument hang duisende papier-gevoude kraanvoëls. Dit is ter ere van Sadako Sasaki, ’n dogtertjie van Hirosjima. Sy was twee jaar oud toe die bom ’n kilometer en ’n half vanaf hulle huis ontplof het. Sy het die ontploffing oorleef maar het op twaalfjarige ouderdom, soos duisende ander kinders, as gevolg van die bestraling, Leukemia-bloedkanker ontwikkel.

Sadako Sasaki kort voor sy op 12 aan leukemi as gevolg van die bom dood is en haar pa.

Volgens ’n Japanse legende word enige wens van jou waar as jy ’n duisend kraanvoëls uit papier kan vou (Origami). Volgens die storie kon Sadako net 644 vou voor sy dood is. Sy kon dus nie wens om gesond te word nie. Van daar hierdie unieke monument met duisende gevoude papier kraanvoëls binne vir haar en die duisende ander kinders wat ook gely het.

Kraanvoel-monument met kraanvoel bo en binne duisende papiergevoude kraanvoels ter ere van Sadako Sasaki

Was die atoombomme nodig?

Volgens Amerikaanse militêre leiers sou hulle die Japanse vasteland moes binneval ten einde Japan tot oorgawe te dwing. Een en ’n half miljoen Amerikaanse soldate sou tydens so ’n inval sterf. Deur die twee atoombomme te gooi is hierdie jong Amerikaanse seuns se lewens gespaar.

Vanaf 1945 slaag wêreldleiers reeds vir 74 jaar om ’n kernoorlog te vermy. Kan dit wees omdat die politieke leiers van daardie tyd die verwoestende gevolge van hierdie tipe oorlog eerstehands by Hirosjima en Nagasaki ervaar het?

Politieke leiers van vandag soos Trump, Poetin, Kim Jong-il en die Iranse leiers is almal na die tweede wêreldoorlog gebore. Kan dit verklaar waarom dit lyk of hulle nie met dieselfde verantwoordelikheid optree as dit oor kernwapens en ’n moontlike kernoorlog gaan nie?

Aan die begin van hierdie maand waarin die atoombomaanvalle herdenk word, het Amerika amptelik onttrek aan ’n 30 jaar oue kernmissielverdrag met Rusland. Volgens Amerikaanse amptenare is die rede omdat Moskou volgens hulle die ooreenkoms oortree.

Op soortgelyke wyse het president Trump verlede jaar eensydig van die Iranse kernooreenkoms onttrek en het die gesprekke met die Noord-Koreaanse leier Kim Jong il oor kernwapens op ’n dooiepunt uitgeloop.

Miskien moet hierdie leiers almal weer ’n slag soos ons, Nagasaki se monumente en museums gaan besoek.

‘n Horlosie in die Atoombommuseum wat gaan staan het op die oomblik 11h02 toe die bom oor Nagasaki ontplof het.