1. Inleiding.

Is dit nie alarmisties om van dag Zero te praat nie? Dag zero vir kos op die tafel?

Waarom so negatief, sal sommige rubriekskrywers en politieke kommentators beslis skryf.

Dit is nie die eerste keer dat Suid-Afrikaanse landbou in ’n krisis is nie. Daar was reeds talle kere in die verlede droogtes; siektes en hoë pryse. Landbou het telkens in die verlede met unieke oplossings daar deur gekom.

Waarom dan nou skielik van dag Zero praat?

Daar is ’n spesifieke rede waarom dit geregverdig is om in 2018 van “dag zero” te praat. Omdat hierdie krisis andersoortig is. Dit is nie die gewone landboukrisis van droogtes, pryse of siektes nie.

Ons het te doen met ’n onstabiele regering. Ons het te doen met bedreigde politieke leiers. Ons het te doen met ’n verkiesing wat voor die deur is en met ’n regerende ANC wat bekommerd is dat hulle nie 50% steun by die stembus mag kry nie.

In hierdie politieke proses word die landbousektor en grond en veral wit landbouers of boere ingesuig, aan die hare ingesleep en ’n slaansak gemaak om punte aan te teken in politieke gevegte waaroor hulle dikwels min beheer het.

2. Hoe het ons in hierdie situasie gekom?

Hoe het ons in hierdie situasie gekom?

Vergun my een draai in die onlangse verlede.

Afrika-kolonies het na hulle onafhanklik geword het in die 1960’s en 1970’s skielik gesit met baie verskillende volke, stamme en tale binne die koloniale grense van die staat wat hulle nou oorgeneem het.

Hoe voeg jy hierdie verskillende groepe saam tot een nasie, was die vraag wat die nuwe leiers hulleself afgevra het?

Die enigste iets wat die verskillende groepe in gemeen met mekaar gehad het, was hulle stryd oor jare teen die koloniale heersers, teen die Britte, of die Franse of die Portugese wat vir baie jare oor hulle geregeer het.

Die maklikste manier om na onafhanklikwording eenheid en samewerking onder die verkillende groepe binne dieselfde landsgrense te verkry, was om die verskillende groepe teen die vorige koloniale heersers en base op te sweep.

Dit het die koloniale base nie geraak nie want hulle was veilig terug in Europa. Met die Britte of Franse of Portugese as sondebok, het hierdie nasiebou-resep verskillende groepe tydelik verenig.

2.1 Nelson Mandela

Nelson Mandela het besef dat hierdie resep konflik in Suid-Afrika gaan skep. Die wittes en veral die Afrikaners is nie weg nie en gaan na 1994 nog steeds hier wees. Hy skryf:

“Deur die geskiedenis was daar nog altyd ‘n diepe besorgdheid oor die kwessie van minderheidsregte wat dikwels gelei het tot skielike en gewelddadige onmin. Vandag het ons byna drie miljoen Afrikaners wat na bevryding nie langer onderdrukkers gaan wees nie, maar ‘n magtige minderheid gewone burgers wie se samewerking en goedgesindheid nodig gaan wees vir die heropbou van die land.” (Rapport, 27/5/01 p.16)

Dit verklaar Mandela se slim uitreik na Afrikaners na 1994 – onder andere die besoek aan mev. Verwoerd en die Springboktrui tydens die Rugby Wêreldbeker.

Mandela se opvolgers het geleidelik van hierdie benadering af wegbeweeg. Hulle het die anti-koloniale resep wat in ander Afrikastate gebruik is, begin na-aap.

2.2 Thabo Mbeki

Thabo Mbeki het met sy uitsprake die eerste treë in hierdie rigting gegee. Mbeki het Suid-Afrika beskryf as ’n land wat in twee nasies verdeel is – ’n ryk wit nasie en ’n arm swart nasie. Dit was ’n totale oorvereenvoudiging van die werklikheid en het groepe teen mekaar begin opstel en so verdeel.

Mbeki verwys na die wittes en Afrikaners as “settlers” en “colonials of a special kind”. Hierdie begrippe is gebaseer op Lenin se teorieë oor kolonialisme en die uitbuiting van die gekoloniseerdes.

Daardeur is wittes en Afrikaners as buitestanders geklassifiseer. Buitestanders wat hier in Afrika net geduld word.

In 2015 skryf ek vir Beeld ’n artikel oor die ANC se probleme en dalende steun. Ek noem die artikel die “Sondebokresep”.

2.3 Sondebokresep

Daarin vra ek die vraag: “Wat doen ʼn regerende party as die kiesers teen so ʼn party begin draai vanweë al die foute wat die party maak?”

Die party begin sondebok-politiek bedryf.

Wat is sondebok-politiek?

Dit is waar die regerende party en sy leiers ander vir al hulle mislukkings blameer.

Soos die ANC-regering al meer foute gemaak en begin misluk het, is die wittes, die Afrikaners en die landbouers al meer daarvoor blameer.

Hoe meer druk, hoe meer maak hulle van sondebok-politiek gebruik.

Die probleem is dat sondebok-politiek nie belangstel in regte feite of in ʼn gebalanseerde debat nie. Die skep van geskiedenis-mites is deel van sondebok-politiek. ’n Geskiedenis-mite is waar feite van die verlede verdraai word om in die hede gebruik te word om huidige probleme te probeer verduidelik.

2.4 Jacob Zuma

In die Zuma era is hierdie resep verder gevoer. Hoe meer Zuma misluk het, hoe meer het hy die Wittes, die Afrikaners en die boere daarvoor blameer. Waar Mbeki dit nog akademies sagter probeer verpak het met sy begrippe van “colonials of a special kind” was Zuma meer blatant.

Volgens hom is alle grond gesteel deur die wittes. Weereens ’n totale oorvereenvoudiging van ’n baie ingewikkelder verlede as dit. Hiermee skuif hy alle wittes, Afrikaners en boere verder uit as buitestanders en verklaar hulle eintlik as ’n geregverdigde teiken.

In Januarie 2015 argumenteer Zuma verder dat Afrika geen konflik of probleme gehad het nie voor Jan van Riebeeck hier aangekom het nie. Dat sy stelling histories en feitelik verkeerd is, pla hom en sy volgelinge min. Van Riebeeck is hier ’n simbool en metafoor vir alle wittes en Afrikaners.

2.5 Julius Malema

As ANC jeugleier word Julius Malema op ’n politieke dieet van “Swart” teenoor “Wit” groot gemaak. Hy was maar nege jaar oud toe Mandela vrygelaat is. Hy huiwer nie om nog meer kru die Mbeki en Zuma-temas voort te dra nie.

In November 2016 sê Malema die volgende oor wittes: “We are not calling for the slaughter of white people‚ at least for now.” Hy verduidelik ook dat wittes net besoekers is en dat besoekers hulle moet gedra.

2.6 Populisme en Ekstremisme

Elke gemeenskap het ekstremiste. Politieke ekstremiste wat na links of regs ekstremistiese uitsprake maak.

Wanneer is ʼn samelewing in die moeilikheid?

ʼn Samelewing is in die moeilikheid as ekstremistiese standpunte nie meer randverskynsels is nie maar na die politieke middel begin beweeg om uiteindelik die meerderheid se standpunt te word. ʼn Studie van byvoorbeeld Fidel Castro se Kuba, Hugo Chávez se Venezuela of Mugabe se Zimbabwe illustreer goed hoe dit gebeur.

As na die toesprake by Winnie Mandela se begrafnis of na die onlangse openbare verhore oor grondonteiening geluister word, dan het ekstremistiese standpunte die afgelope tyd nuwe status in Suid-Afrika gekry. Dit het van die politieke rand na die politieke middel begin beweeg. Dit moet alarms laat afgaan.

Onthou: Malema het nie van standpunt verander nie wat beteken dat die politieke spektrum na links in sy rigting beweeg het.

3. Openbare verhore oor grondonteiening.

Ek is gevra om oor stabiliteit in Suid-Afrika te praat asook oor die faktore wat dag zero beïnvloed.

Natuurlik is armoede, werkloosheid en swak ekonomiese groei van die faktore wat stabiliteit in Suid-Afrika beïnvloed.

As jy na die deelnemers aan die onlangse openbare verhore landswyd geluister het, is al wat nodig is om hierdie probleme op te los dat artikel 25 van die grondwet gewysig moet word. Onteiening van grond sonder vergoeding sal volgens hierdie deelnemers hierdie probleme oplos.

Baie toesprake by die verhore was blatante haat en wraak teen witmense. Omdat sekere politieke leiers hulle ondersteuners op so ’n haat-dieet teen wittes gevoer het, het hierdie ondersteuners hierdie boodskappe terug geëggo.

As jy fyner geluister het, soek meeste van die sprekers entlik net ’n kortpad uit armoede uit.

As enige persoon die keuse kry of hy/sy verniet ’n plaas of grond kan kry, wie sal “nee” sê? Daarom kan die verhore moeilik as ’n wetenskaplik korrekte referendum oor grond vir boerdery aktiwiteite gesien word, soos onder andere Ace Magashule aflei.

Dit pas die ANC om verkeerdelik uit die verhore af te lei dat grond en die behoefte om te boer die meerderheid mense se eerste en belangrikste prioriteit is.

In ’n onlangse landswye meningspeiling van die Instituut vir Rasse Verhoudinge is bevind dat swart mense glo werkskepping moet die regering se eerste prioriteit wees. Werkskepping en beter onderwys is deur 64% van die mense as hulle eerste en tweede prioriteite aangewys. Vinniger grondhervorming was tiende op die lys met 1% steun (IRR FreeFacts No2/2018 June p.6).

4. Waarmee is ANC besig? Grondhervorming of politiek?

Waarmee is die ANC dan besig? Gaan dit oor grondhervorming of gaan dit daaroor om ten alle koste die politieke mag te behou?

Grondhervorming en politieke mag is albei vir die ANC belangrik maar ek glo dit gaan tans baie meer oor die komende verkiesing; dit gaan daaroor om die eenheid binne die ANC en tussen sy koalisievennote te probeer behou en dit gaan daaroor om die EFF te oorbie in die verkiesing. Grond en wit boere het ongelukkig die fokuspunt in hierdie geveg geword.

Eenheid met die oog op die verkiesing is tans by die ANC leierskorps belangriker as gesonde ekonomiese- en landbou beleid en beginsels.

5. Verwarrende grondhervorming uitsprake.

Net as jy dink jy verstaan hoe die ANC grondhervorming gaan aanpak, dan is dit ’n nuwe week met ’n nuwe plan.

Iemand wat nie verward is oor die regering se grondhervormingsbeleid en voorstelle nie — is nie goed ingelig nie.

5.1 Vrywillige koper verkoper.

Aanvanklik was die argument dat grond so duur is omdat boere onbillike eise stel. Daarom moet die vrywillige koper verkoper benadering verander word.

Ons het in debatte aangetoon hoekom dit nie die probleem is nie.

Dit is eerder die ANC se swak administrasie en lomp werkswyse wat dubbeld vir grond betaal. ’n Vereenvoudigde voorbeeld: Na ’n suksesvolle grondeis koop die staat die plaas vir byvoorbeeld R10 miljoen. Tot 92% van die grondeisers het eerder kontant as die grond verkies. Nou moet die staat ’n verdere R10 miljoen kontant aan die grondeisers betaal. Die hele transaksie kos die staat nou R20 miljoen. Die duur grond bly egter in besit van die staat. So is daar tans meer as 4000 plase in staatsbesit.

5.2 Waardeerder-generaal

Om hierdie probleem van duur grond op te los, het die regering ’n Waardeerder-generaal geskep. Hierdie kantoor word tans ’n bottelnek waar transaksies vir maande vassit wat die proses nog verder vertraag.

5.3 Nasionale Ontwikkelingsplan: 20% grond op distriksvlak

In die ANC se Nasionale Ontwikkelingsplan word voorgestel (p.227) dat grondherverdeling op distriksvlak gedoen word waar boere en ander belanghebbendes 20% grond aandui waar swart boere gevestig kan word. Die staat en die boere maak finansiële bydraes en die wit boere kry daardeur Swart Bemagtigingstatus wat beteken dat hulle eie grond hierna veilig is.

5.4 Voorstel 50/50.

Daarna was daar die voorstel van ’n 50/50 oplossings tussen ’n landbouer en sy werkers.

5.5 Grondplafonne

Boere se plase is te groot en daarom moet daar ’n plafon op geplaas word. Verlede maand nog het min. Gwede Mantashe 12 000 hektaar as ’n sinvolle plafon voorgestel.

In lang debatte is die onpraktiese van hierdie voorstel verduidelik. Vergelyk net die drakrag van ’n Karooplaas teenoor ’n Laeveld se plaas om te verstaan waarom dit ’n onpraktiese plan is

5.6 Alle grond of net wit grond?

Gaan dit oor alle grond of gaan dit net oor wit landbouers se grond?

Na die Zoeloekoning sy hakke ingeslaan het oor sy grond, soos in die Ingonyama Trust omskryf, kry hy ’n blitsbesoek van president Ramaphosa. Ramaphosa verseker hom sy grond is nie in gedrang nie. Dit is dan logies om daaruit af te lei dat onteiening sonder vergoeding net oor wit landbougrond gaan.

5.7 Nie produktiewe landbougrond nie.

Toe daar heftige reaksie hieroor kom, is daar ’n tipe trooswoord dat produktiewe grond van boere nie geneem gaan word nie, net onproduktiewe landbougrond

5.8 Stedelike grond

Daarna is daar verskeie uitsprake wat sê eintlik gaan dit oor stedelike grond omdat plek gemaak moet word vir grootskaalse behuisingsprojekte in die lig van die groot verstedeliking wat tans in Suid-Afrika plaasvind.

5.9 Lys van plase vir toets hofsake

Na die ANC se Lekgotla aan die einde van Julie vanjaar (30 en 31 Julie 2018) kondig die ANC aan dat hulle 139 plase gekies het om sonder vergoeding te onteien as toets hofsake.

5.10 AfriForum se lys.

Toe Afriforum op 12 Augustus ’n lys bekend maak van moontlike plase wat die ANC en die Departement beoog om te onteien sonder vergoeding, ontken die departement heftig dat so ’n proses ooit aan die gang gesit is of dat daar so ’n lys bestaan.

5.11 Ramaphosa se nagtelike aankondiging.

By die ANC se Julie-Lekgotla was daar volgens my bronne ’n groot benoudheid oor die komende verkiesing. Sommige paniekerige lede van die Lekgotla het geargumenteer dat die mense se toesprake by die openbare verhore wys dat die ANC besig is om die inisiatief oor grond te verloor.

Dit lei daartoe dat president Ramaphosa as ANC president laat in die nag aankondig dat die ANC besluit het om die grondwet te wysig sodat grond sonder vergoeding onteiening kan word. Dit is ’n skielike, ondeurdagte en ingrypende aankondiging.

“Skielik” omdat die ANC vrees dat hulle swak in die verkiesing oor nege maande gaan vaar en nie wil toelaat dat die EFF die inisiatief oor grond oorneem nie.

“Ondeurdag” deurdat dit ’n streep trek deur die Parlementêre komitee se ondersoek wat nog glad nie afgehandel is nie.

“Ingrypend” omdat dit van die president en die ANC kom wat die regerende party is.

Dit verduidelik ook waarom ek sê: “Iemand wat nie verward is oor die regering se grondhervormingsbeleid en voorstelle nie — is nie goed ingelig nie.”

6. Waarom die verwarrende gronduitsprake?

Daar is baie redes voor. My verduideliking, in ’n poging om dit te vereenvoudig, is dat daar twee, eintlik drie denkstrome oor grond tans in die ANC is.

Die erns van ANC verdeeldheid was duidelik met hulle 54ste Nasionale Kongres aan die einde van verlede jaar (Des 2017)

By die kongres was dit die Zuma-faksie teen die Ramaphosa-faksie. Die faksies het nie net verskil oor wie die volgende ANC leier moet wees nie maar hulle verteenwoordig ook verskillende denkrigtings. Verskillende denkrigtings oor hoe armoede en grondhervorming opgelos moet word.

6.1 Zuma-faksie: Gedrewe sosialiste

Aan die een kant is die “gedrewe sosialiste”, wat Zuma ondersteun. Hulle glo nasionalisering en grondonteiening sonder kompensasie is die oplossing.

6.2 Ramaphosa-faksie: ANC-pragmatiste.

Aan die ander kant is die “ANC-pragmatiste” wat Ramaphosa ondersteun. Hulle glo die Nasionale Ontwikkelingsplan en Motlanthe se voorstelle is die oplossing.

Om die faksieverdelings ingewikkelder te maak, moet ’n derde denkstroom hierby gevoeg word naamlik die tradisionele denkers.

6.3 Tradisionele-faksie: Konings en hoofmanne

Konings en hoofmanne met kommunale grond het nie begrip of plek vir private grondbesit met titelaktes nie. Oud-president Zuma en verskeie van sy ministers kom eintlik uit hierdie denkskool.

Dit is maklik om te sien waarom hierdie tradisionele siening van grond maklik versoen kan word met die sosialistiese en kommunistiese denkstroom dat alle grond aan die staat moet behoort.

Hoewel Afro sosialisme orals in Afrika probeer is en deurlopend misluk het, is daar steeds ’n sterk faksie in die ANC wat dit in Suid-Afrika wil probeer.

Hier verkies ek mev. Margaret Thatcher, vorige Britse Eerste Minister, se standpunt oor hoekom sosialisme nog orals in die wêreld waar dit probeer is, misluk het. Sy het daaroor gesê: “The trouble with Socialism is that eventually you run out of other people’s money.”

6.4 Watter groepering gaan wen?

Met die oog op die komende verkiesing het die ANC se nasionale kongres Cyril Ramaphosa as leier verkies. Dieselfde kongres het egter die Zuma-faksie se sosialistiese beleidstandpunte, wat radikale ekonomiese transformasie en grond onteiening sonder kompensasie insluit, as beleid aanvaar.

Omdat ons nie met net een ANC te doen het nie maar met verskillende faksies in een party, is dit moeilik om te voorspel presies waarheen die ANC op pad is met grondonteiening sonder vergoeding.

As die Zuma-faksie in die ANC die oorhand kry in die grondonteieningsdebat, verdwyn Ramaphosa se hoop op ekonomiese groei en buitelandse beleggings. Dan is Suid-Afrika onvermydelik op pad na ’n sosialistiese kommunistiese staat waar alle grond uiteindelik aan die staat behoort – ’n herhaling van die Zimbabwe en Venezuela mislukkings.

Wat kos betref, is dag zero vir kos op die tafel, dan ’n werklikheid.

Ramphosa se “new dawn” of nuwe sonsopkoms word dan vinnig ʼn sonsondergang waarna hy in die donker vir die res van sy termyn gaan spartel om Suid-Afrika se skuld te betaal sonder noemenswaardige ekonomiese groei met besliste verdere ekonomiese afgraderings.

As die Ramaphosa-faksie in die ANC die oorhand kry, gaan hy probeer om grondonteiening aan die een kant te balanseer met ekonomiese groei, met voedselsekerheid, werkskepping en buitelandse beleggings.

Of dit moontlik is om al hierdie faktore te balanseer, sal die tyd leer.

Dit is nie my oplossing nie of die beste oplossing nie – maar dit is die beter pad van die twee.

Niemand kan tans met sekerheid sê watter faksie op die lang termyn gaan wen nie.

Waarskynlik sal dit duideliker word na die verkiesing as een faksie sterker as die ander anderkant uitkom.

7. Stabiliteitsbarometer

Intussen word Suid-Afrika se risiko vir groter onstabiliteit steeds meer.

Sommige politieke kommentators sal sê ek is nie objektief nie en onnodig negatief daardeur te sê.

Ek antwoord hierdie kommentators deur ’n buite bron as verdere bewys te gebruik. Kom ons kyk na stabiliteit in Suid-Afrika deur die bril van ’n objektiewe organisasie van buite Suid-Afrika.

Fund for Peace is ’n internasionale nie-winsgewende burgerlike navorsingsorganisasie wat jaarliks die stabiliteit van 178 state evalueer en in volgorde rangskik.

Twaalf aanwysers word gebruik wat spesifieke sosiale-, ekonomiese-, veiligheids- en politieke toestande in elke land meet.

Lande word dan gerangskik van uiters stabiel tot stabiel met daarna ’n kolom vir lande waarvoor waarskuwings oor hulle stabiliteit gegee word. In 2018 val Suid-Afrika in die kolom “verhoogde waarskuwing” “elevated warning on stability”

Volgens die indeks is die mees stabiele state in volgorde Finland; Noorweë; Switserland en Denemarke.

Die vier mees onstabiele lande is Suid-Soedan; Somalië; Jemen en Sirië.

Suid Afrika val in die middel op nommer 85 uit die 178 state. Wat egter onstellend is, is dat Suid-Afrika uitgesonder word as een van die 20 lande wat die meeste verswak het die afgelope paar jaar.

Net sewe lande het vir vyf jaar in ’n ry, elke jaar swakker gevaar. Suid-Afrika is een van hierdie sewe lande saam met lande soos onder andere Sirië; Jemen en Venezuela.

Hierdie internasionale organisasie bevestig die belangrikheid daarvan om oor stabiliteit in Suid-Afrika by ’n kongres soos hierdie te praat.

8. Enkele voorstelle vir die herstel van stabiliteit:

Dit is in belang van Suid-Afrika en van die landbousektor dat beleidsekerheid en stabiliteit so gou as moontlik verbeter en herstel moet word.

Met die verkiesing van mnr. Ramaphosa was daar ’n tydperk van Ramaforia waarin dit gelyk het of in die regte rigting beweeg word. Ekonomiese groei en werkskepping is twee van die belangrikste doelwitte wat mnr. Ramaphoasa as nuwe president gestel het.

Landbou is die een bedryf wat in hierdie tye die potensiaal het om werk te skep en die ekonomie te help groei. Dit kan egter net gedoen word in ’n klimaat van beleidsekerheid en stabiliteit.

Die besluit oor grondonteiening sonder vergoeding was beslis die grootste faktor wat gemaak het dat die Ramaforia-wittebrood van korte duur was. As na die nuutste ekonomiese syfers en die feit dat ons in ’n tegniese resessie is, gekyk word, lyk die kanse vir ’n vinnige ekonomiese herstel maar skraal.

Verskeie faktore het tot hierdie ekonomiese krisis bygedra. Die Minister van Finansies en die polities korrekte kommentators wat sê die debat oor grondonteiening het geen bydrae gelewer tot die krisis nie, is heeltemal verkeerd.

Wat moet gedoen word?

8.1 Ramaphosa moet leiding neem.

Die regering en spesifiek president Ramaphosa moet sterk en duidelike leiding gee om Suid-Afrika uit hierdie probleme te kry.

Daar was ʼn TV-program waar die gehoor tussen drie persone moes raai wie die regte mnr. Botha of Du Toit is. Die program eindig waar die aanbieder sê: “Sal die regte mnr. Botha opstaan.”

Suid-Afrika vra dieselfde vraag: “Sal die regte Ramaphosa asseblief opstaan.”

Is Ramaphosa ʼn baie ryk kapitalis sakeman wat in sy vrye tyd met beeste en wild boer?

Is Ramaphosa ʼn oortuigde sosialis en goeie Cosatu vakbondman?

Is Ramaphosa ʼn lojale ANC-kader wat die ANC en sy beleid bo alles stel?

Hoe is dit moontlik dat die sakewêreld en die SAKP albei in hulle skik is met sy verkiesing?

Al hierdie teenstrydighede is moontlik omdat Ramaphosa tot op datum alles vir almal was. Dit het hom president gemaak. Hy sal nie langer daarmee kan wegkom nie. Suid-Afrika is ekonomies in die moeilikheid. Daarom sal hy moet begin leiding gee. Watter kant toe hy ookal leiding gee, gaan hy onafwendbaar van hierdie uiteenlopende groepe wat hom nou ondersteun, kwaad maak. Dit is egter wat goeie leierskap vra.

Natuurlik wil Ramaphosa ʼn sukses van sy presidentstermyn maak. Die sleutel tot sukses is dat hy die ekonomie moet regruk wat landbousekerheid insluit. Tans betaal Suid-Afrika R5 600 per sekonde net om die rente op ons staatskuld te dek. Die ekonomie moet baie groei om ons uit hierdie skuld te kry.

8.2 Kan Ramaphosa die magte wat losgelaat is nog beheer?

Die vraag is wel of Ramaphosa die magte wat Zuma losgelaat het en wat Ramaphosa self in sy toesprake die laaste paar maande aangemoedig het, nog kan beheer?

Na die grondwetlike onderhandeling in die negentigerjare sê Ramaphosa in ʼn BBC dokumentêr die volgende oor FW De Klerk: “In his speech on the second February 1990 he thought that by unbanning the ANC, he would be able to control political events in our country. I don’t believe that he knew that he was actually unleasing a force, which he would find far, far, far beyond his own political imagination and control”

Is Ramaphosa rondom grondonteiening nie presies in dieselfde posisie nie. Het hy nie magte losgelaat wat hy nie sal kan beheer nie?

Die openbare verhore en toesprake deur Ramaphosa het verwagtinge gewek dat elke arm persoon vinnig kan ryk word deur grond te kry. Het hy nie te veel perde losgelaat wat nou hardloop en nie weer ingetrek sal kan word nie? Tyd sal leer.

Dit lyk of Ramaphosa oor die kort termyn eers die 2019 verkiesing wil wen om daarna die ekonomie te probeer regruk. Dit gaan te laat wees. Hy moet nou reeds optree.

8.3 Landbousekerheid deur besluite op feite en nie op propaganda te neem nie.

Ek het persoonlike ervaring van hoe in die kabinet en in regeringskomitees landboubesluite nie op werklike feite geneem word nie maar dikwels op grond van ANC propaganda en verdraaide eie persepsies.

So is dit ’n propaganda mite dat die nasionalisering van myne en die onteiening van grond Suid-Afrika se armoede-probleme gaan oplos.

Dit is insiggewend om ‘n vergelyking tussen die vertonings van die ekonomieë van Zambië en Zimbabwe sedert 1994 te tref soos dr. Roelf Botha onlangs gedoen het.

In Zambië se geval, waar die regering private eiendomsreg aanmoedig en vryemarkhervorming suksesvol nagestreef het, het die bruto binnelandse produk (BBP) tussen 1994 en 2008 meer as verdriedubbel (in nominale VSA-dollar-terme).

In Zimbabwe, waar ‘n beleid van nasionalisering nagevolg is, het in dieselfde tydperk die ekonomie met bykans die helfte gekrimp; het werkloosheid van 1990 na 2008 van 20% na 80% gestyg en het lewensverwagting van 60 jaar na 34 jaar gedaal.

Dit is die feite waarop besluite geneem moet word om landbousekerheid te bring.

Moet ons Venezuela se inflasiekoers wat deur prof Steve Hanke van die John Hopkins Universiteit in Julie 2018 as 41 800 persent per jaar bereken is, hier byvoeg? Na die nasionaliseringbeleid wat daardie regering gevolg het, het Venezuela van die rykste land in Suid-Amerika na die armste verander in enkele jare.

8.4 Ons moet die openbare mening oor landbou beïnvloed en verander.

Uit vrees dat hulle sal aanstoot gee het polities korrekte media- en meningsleiers, landboubesighede en banke te lank geswyg oor die probleme van landbou Dit geld ook vir sekere prominente landbouleiers. Hier kan ek talle voorbeelde van stilswye oor plaasmoorde; oor goeie verhoudinge op plase; oor die grondgeskiedenis van Suid-Afrika, ens noem.

Die gevolg is dat ons sit met die meerderheid van die Suid-Afrikaanse bevolking wat op ’n politieke hongerdieet oor landbou groot gemaak is. Hierdie gebrek aan kennis is gevul deur die Malemas en ander politieke aktiviste wat met allerlei leuens en spookstories oor boere en landbou wegkom.

Daarom moet ons deelneem aan elke geleentheid om die openbare mening positief te beïnvloed. Benut geleenthede om voorleggings aan nie-landbou organisasies, aan die regering en die parlement te maak. Benut geleenthede vir debat. Dit is nie altyd maklik nie.

Die Malemas en soortgelyke leiers se ekonomiese denkfoute moet uitgewys word. Hulle verdraaide geskiedenisfeite oor grond; hulle verkeerde feite oor landbou en hulle propaganda oor die toestande op Suid-Afrikaanse plase moet verkeerd bewys word. Miskien kommunikeer ons ook te min in Engels om al hierdie teikengroepe te bereik.

By die departement van landbou vergader die minister, adjunk-minister, direkteur-generaal en al die senior personeellede elke Maandag om beleid en ander landbousake te bespreek. As Adjunk-Minister kon ek help reël dat mnr. Louis Meintjes, as president van TLU-SA by meer as twee geleenthede hierdie vergadering lank kon toespreek. Ek kan getuig hoe dit baie vooroordele afgebreek het want hy het gekom met positiewe voorstelle oor hoe probleme tot voordeel van die boere maar ook tot voordeel van Suid-Afrika en die landboudepartement opgelos kan word.

8.5 Ons kort meer suksesvolle swart kommersiële boere.

Suid-Afrika kort baie meer suksesvolle swart kommersiële boere met titelaktes van hulle grond.

In Afrika boer meer as 80% van alle landbouers op plasies van 2 hektaar en kleiner. Daarom is die meeste landbouers bestaansboere wat net vir hom/haar en die gesin kos produseer. Waar Afrika steeds vinniger verstedelik, skep dit groot voedseltekorte. Vyf-en-dertig van die Afrikalande Suid van die Sahara het geen voedselsekerheid nie en moet voedsel invoer.

Suid-Afrika gaan binne enkele jare 70% verstedelik wees. Wil ons terug beweeg na bestaansboerdery of eerder die behoefte aan grond in die stede bevredig? Daarom moet stedelike inwoners so gou as moontlik titelaktes kry daar waar hulle woon.

Mondli Makhanya, vorige Redakteur van die Sunday Times, som dit so op:

“We are wasting valuable time and energy trying to restore people to their peasant ways. Ordinary South Africans either do not want land or just do not have the capacity to work it. They want to go to cities and work in modern economy…

“Large-scale, highly mechanised commercial farming is now the way of the world. You cannot turn the clock back four decades. That is just the reality. Furthermore, the young people would, as has happened elsewhere, have simply upped and headed for the towns and cities. Yet we continue to nurse the notion that we can reverse the inevitable march to an urban future. We keep wanting to fight the logic of large-scale commercial farming…

“The money and energy that is spent on getting peasants back into subsistence (farming) would be better used to create a strong class of black commercial farmers who actually do farm for commercial rather than sentimental reasons.” (Sunday Times, 28/2/2010, p10)

8.6 Onderhandeling en gesprekke

Van die koerantopskrifte die afgelope paar weke het gelui: “Boere trek laer en wil nie onderhandel nie” en “Boere is die rede vir die mislukte grondhervorming omdat hulle nie met oplossings kom nie.”

Ek was getuie van verskeie voorstelle en oplossings wat deur Suid-Afrikaanse boere aan die regering gemaak is om van die grond- en landbou-probleme in die land te help oplos.

Nadat die oplossings vriendelik deur die regering aanvaar is, het daar niks verder van gekom nie.

Onderhandeling, ook met die regering, bly belangrik. As jy egter met net ’n vriendelike glimlag en ’n slim plan in jou tas by die onderhandelingstafel opdaag, is jy in die moeilikheid. Dit alleen is nie genoeg nie. Jy moet iets spesifiek hê waarmee jy kan beding?

Ek was reeds talle kere met die ANC in gesprek en in onderhandeling. Ons is altyd vriendelik ontvang en meestal het die ANC leiers positief op ons voorstelle gereageer. Maar moenie dat dit jou mislei nie. Ons het net werklike sukses gehad die kere wat ons iets gehad het waarmee ons kon beding. Nie net vriendelikheid en slim planne nie – dan gebeur daar niks.

Waarmee gaan landbouleiers beding?

Ek kry verskillende antwoorde as ek hierdie vraag vra.

Sommige sê ons gaan beding met voedselsekerheid. Voedselsekerheid is ’n belangrike troefkaart wat gebruik moet word. Daarsonder is hongersnood ons voorland. Neem net in ag dat in Zimbabwe die effek van geen voedselsekerheid eers duidelik geword het toe die kosrakke in die winkels leeg was.

Ander landbouleiers sê ons gaan beding met die grondwet. Ons het reeds regsmenings en die beste advokate aangestel.

Die grondwet het mooi artikels maar neem in ag dat byvoorbeeld Afrikaanse Universiteite reeds die les geleer het dat die ANC se politieke mag en die grondwethof se uitsprake dit kan troef. Vra die Vrystaatse Universiteit. Waarop val jy dan terug?

Wat van bedinging in die Parlement word ek gevra?

Ons het al sukses gehad – maar ook mislukkings. Eiendomsreg is lankal reeds op ’n glybaan na groter staatsbeheer deurdat die Nasionale Waterwet in 1998 ’n einde gemaak het aan private waterregte en in 2002 is grondeienaars se minerale en petroleum hulpbronne ook deur wetgewing ontneem en in staatsbesit geplaas.

In hierdie gevalle het die ANC hulle getalle-oorwig gebruik om hierdie maatreëls deur die parlement te stoomroller. Dit kan weer gebeur.

Omri van Zyl, Agri SA se uitvoerende hoof is reg as hy sê dat as jy nie langs die onderhandelingstafel sit nie, is jy in jou afwesigheid op die spyskaart. Hy is egter verkeerd as hy die hulp van AfriForum, of van die VF Plus of druk van die buiteland afmaak. (Business Times, 2/9/2018 p.8 en Rapport Weekliks 2/9/2018 p.3)

Ek was verskeie kere in die buiteland, ook saam met TLU-SA se Henk van de Graaff, waar ons Suid-Afrikaanse boere se situasie onder die aandag van die Verenigde nasies se Menseregtekommissie en ander internasionale organisasies gebring het.

As hierdie besoeke en byvoorbeeld AfriForum se besoeke aan die VSA ’n bydrae gemaak het tot president Trump se twiet, dan was dit alles die moeite werd.

Hoekom?

Omdat dit nodig is dat die ANC-regering al die implikasies van ’n besluit oor die onteiening van grond sonder kompensasie besef voordat hulle ingrypende besluite hieroor neem en die grondwet wysig.

Daarom is Max du Preez verkeerd as hy AfriForum en die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) daarvoor verantwoordelik wil hou as die Amerikaanse president Suid-Afrika se AGOA ooreenkoms opskort. (Beeld 28/8/2019 p.7).

Die Amerikaanse president gaan nie op grond van my of AfriForum se woord die ooreenkoms opskort nie. Die AGOA wet gaan dit bepaal. Daar is duidelik meetbare vereistes in die AGOA wet waaraan ’n land moet voldoen om die voordele van AGOA te kan benut. Een daarvan, soos in artikel 104 van die wet, is die beskerming van private eiendomsreg.

Zimbabwe is uit AGOA uitgesluit vanweë sy beleidsbesluite.

Die regering sal ernstig hiervan moet kennis neem om nie agterna te kla dat hulle nie die volle implikasies van hulle grondonteieningsbesluite besef het nie.

Die Amerikaanse AGOA-wet hou baie uitvoer-voordele vir Suid-Afrika in. Tussen 2000 en 2014 het die waarde van Suid-Afrikaanse uitvoer na die VSA verdubbel en byna 40% hiervan is aan AGOA te danke, volgens die departement van handel en nywerheid.

Buitelandse druk en die dreigemente rondom AGOA is daarom ’n belangrike verdere bedingingskaart wat in die onderhandeling gebruik moet word. Om dit te ignoreer, soos sommige landbouleiers wil maak, omdat hulle bang is dat dit die regering mag kwaad maak, sal ’n groot fout wees.

Voor 1994 het die ANC op ’n suksesvolle manier die Suid-Afrikaanse vraagstuk geïnternasionaliseer. Dit het gelei tot groot buitelandse druk op die vorige Suid-Afrikaanse regering om ’n grondwetlike ooreenkoms met die ANC te bereik. Daarom is enige kritiek van die ANC as ons soortgelyke metodes gebruik om nou buitelandse druk op hulle te plaas, skynheilig en dubbele standaarde.

8.7 Waaroor onderhandel?

  “We are willing to negotiate for our future, but not for our funeral.”

Twee voorbeelde:

Dit is sinvol om te onderhandel oor hoe meer swart kommersiële boere met titelaktes op grond gevestig kan word; oor hoe boere kan optree as mentors om te verseker dat hierdie nuwe boere suksesvol is en oor hoe groter landbousekerheid vir die toekoms verkry kan word. Sukses in hierdie verband sal tot groter stabiliteit lei en mag slaag om so die grondprobleem van die landbousektor se tafel af te kry.

Tweede voorbeeld:

Dit is gevaarlik om te onderhandel oor hoe grondonteiening sonder vergoeding geïmplementeer kan word.

Daardeur aanvaar jy reeds dat jou grond sonder vergoeding geneem gaan word. Jy onderhandel nou net oor wat daarna volg.

Dit sou dieselfde wees as om met die man wat jou motor gesteel het, te onderhandel of jy ’n taxi moet neem en of hy jou huis-toe gaan neem omdat jy nie meer ’n ryding het nie!

9. Slot: Waardering vir Kommersiële landbouers.

Daar is minder blamering en meer waardering vir ons kommersiële boere nodig.

Die ongeveer 34 000 wit en swart kommersiële boere produseer tans 95% van ons kos. Hulle is minder as 0,07% van die bevolking maar maak dat ons een van die min lande in Afrika is met voedselsekerheid. Hulle is die grootste werkskeppers vir veral ongeskoolde werkers en betaal salarisse aan tot 800 000 mense. Met hulle aktiwiteite hou hulle die ekonomie van landelike dorpe aan die gang terwyl hulle terselfdertyd waardevolle buitelandse valuta vir Suid-Afrika verdien.

Op die harde manier gaan die ANC en die deelnemers aan die openbare verhore leer dat wysiging van die grondwet en die onteiening van grond sonder vergoeding nie die kortpad uit armoede is nie. Inteendeel. Die enigste kortpad uit armoede, is om die lotto te wen. Al die ander paaie neem tyd en sluit werkskepping, beleggings, titelaktes en harde werk in.

Ons is tans betrokke in ’n ernstige geveg oor die toekoms van Suid-Afrika. Dit is ’n geveg tussen twee breë denkskole; tussen meer sosialisme aan die een kant of meer vryemark in die toekoms.  In die beste belang van Suid-Afrika mag hierdie geveg nie verloor word nie. Onderhandeling en gesprekke oor wen-wen oplossing is nodig — maar die geveg gaan slegs gewen word met wyse planne maar ook met genoeg weerstand en druk van binne en van buite. Vriendelikheid alleen is ongelukkig nie genoeg nie.

Onthou Edmund Burke se standpunt: “Al wat nodig is vir die kwade om te wen, is dat mense wat die goeie voorstaan niks doen nie.”