Dr. Pieter Mulder, dankie vir alles.

Beeld Briewe 19/12/2017 p.10

Brahm du Preez, Parys

Ek lees die naweek ’n onderhoud met dr. Pieter Mulder en ondervind ‘n onverklaarbare hartseer.

Hierdie man is nooit behoorlik waardeer nie en hy het ook nie die erkenning geniet wat hy toekom nie.
Dr. Mulder het bykans 30 jaar die Afrikaner se belange in ’n onstuimige politieke omgewing gedien. Sy politieke loopbaan was onberispelik, sy intellek vlymskerp en boonop was hy ’n ware outydse heer. Die lofsange wat hy oor alle politieke partye heen ontvang het by sy Parlementsafskeid getuig van die respek wat hy geniet het.
Daar was hope kritiek (van sy eie mense), oor sy besluit om as adjunkminister van landbou in die Zuma-kabinet te dien.

Nietemin getuig die geskiedenis van talle suksesse en gevegte wat hy namens Suid-Afrika se boere gevoer het.

Dr. Mulder, daar is ’n magdom Afrikaners wat vir u dankie wil sê. Dankie vir die eindelose stryd wat u onbeskroomd vir ons gestry het.

Ons salueer ’n ware heer.