Dr. Pieter Mulder, VF Plus

Prof Hermann Giliomee spreek sy kommer oor Afrikaans uit (Beeld 2/9/2017). Hy is ook teleurgesteld in die DA se rol en onbetrokkenheid om die agteruitgang van Afrikaans te help keer — siende dat so baie Afrikaanssprekendes vir die DA stem.

Douglas Gibson, voormalige hoofsweep van die DA, reageer op Giliomee se akademiese artikel en politiseer so die debat (Beeld 2/9/2017). In politieke styl skryf hy hoe geskok hy was oor Giliomee se artikel. In plaas daarvan om Giliomee se argumente aan te val, val hy sy persoon aan. Hy skryf:

“Ek was stomgeslaan…dat ʼn akademikus van Giliomee se statuur nie die Grondwet gelees het nie, of dan minstens nie verstaan het wat hy lees nie.”

Gibson eindig sy artikel met aanhalings van DA leiers wat oor Afrikaans praat. Daarmee probeer hy vir Giliomee verkeerd bewys.

Doen is ware toets.

My reaksie na ek die artikel gelees het, was: “Praat is vir die DA maklik maar doen is die ware toets.”

Waar ek reeds 29 jaar in die parlement is, was my ervaring van die DP en die latere DA beslis nie so pro-Afrikaans soos Gibson dit voorstel nie. Ek het die DA eerder beleef soos in Giliomee se artikel verwoord.

Die mooi Afrikaanse gesegde lui: “Woorde wek, maar voorbeelde trek.” Ek het ruimte vir net enkele voorbeelde:

Grondwetlike onderhandeling en taal.

Tydens die grondwetlike onderhandelinge 1994-1996 was ek lid van die onderhandelingskomitee wat oor taal in die grondwet moes besluit. Namibië, wat kort van te vore ʼn nuwe grondwet gekry het, het besluit om Engels die enigste amptelike taal vir Namibië te maak.

Verskeie nie-politieke organisasies het voorleggings aan ons komitee gemaak dat Engels, soos in Namibië, die enigste amptelike taal vir Suid-Afrika moet wees. Dit, terwyl Engels maar die vyfde grootste taal in Suid-Afrika was, met isiZulu eerste, gevolg deur isiXhosa en Afrikaans as derde grootste taal.

Ek het namens die VF verskeie voorstelle gemaak oor hoe landwyd, maar veral in provinsies erkenning aan al die verskillende tale van Suid-Afrika gegee kan word, wetende dat Afrikaans en Engels nooit weer alleen op so ʼn posisie sou kon aanspraak maak nie.

Senator Errol Moorcraft het namens die Demokratiese Party, ʼn voorstel by die komitee ingedien. Die Demokratiese Party se voorstel was dat Engels die hooftaal of lingua franca van Suid-Afrika moes word. Die Burger berig 3 Augustus 1995 hieroor onder die opskrif “DP se omstrede Engelse taalbeleid gou bespreek.” Hierdie voorstel van die Demokratiese party het in die ANC se hande gespeel en dit vir ons baie moeilik gemaak om veeltaligheid te bevorder. Na openbare skok en druk het die Demokratiese Party later hierdie taalbeleid moes verander.

Wes-Kaapse Hansard net in Engels.

Dit is lank terug, kan geredeneer word. Maar verlede jaar duik die kwessie van Engels as hooftaal of voorkeurtaal weer op. Maart 2016 besluit die DA in die Wes-Kaapse parlement dat Engels voortaan sy voorkeurtaal sal wees en dat sy Hansarddienste slegs in Engels beskikbaar sal wees. Dit terwyl die sensus toon dat die meerderheid mense in die provinsie Afrikaans praat (49%) teenoor slegs 20% Engels. Selfs isiXhosa op 25% word meer as eerste taal in die Weskaap gepraat as Engels.

Dit is ironies dat alhoewel die Grondwet van die Wes-Kaap gelyke erkenning aan Afrikaans, Engels en isiXhosa verleen en die DA hier in beheer is, hy nie meertaligheid bevorder nie maar kies om Engels te gebruik. Dit terwyl ʼn ANC beheerde provinsie soos die Vrystaat besluit het om Hansard in Sesotho, Afrikaans en Engels uit te gee.


Afrikaans en Universiteite.

Met die aanslag teen Afrikaans as voertaal by universiteite, was die DA se standpunte ook verwarrend met geen werklike DA druk op universiteitsowerhede nie.

Volgens die onderwysvakbond SAOU het 54 000 wit, bruin en swart Afrikaanssprekendes in 2011 matriek geskryf. Hiervan het 36 000 universiteitstoelating gekry waarvan 29 000 hulle by universiteite ingeskryf het. Dit regverdig twee tot vier kampusse wat Afrikaanse klasse aanbied.

Van die 36 universiteitskampusse in Suid-Afrika is slegs een, die NWU se Potchefstroomse Kampus, nog oorwegend Afrikaans. Dit beteken dat die meeste kursusse daar nog van die begin tot die einde in Afrikaans voltooi kan word.

September 2014 besoek die Parlement se Portefeuljekomitee vir Hoër Onderwys die Noordwes Universiteit se Potchefstroomse kampus. Die enigste kampus wat nog oorwegend in Afrikaans, met tolkdienste na Engels, klas gee. Die komitee plaas baie druk op Afrikaans met hulle ingrypende aanbevelings oor hoe die Potchefstroomse kampus getransformeer moet word. Toe die verslag in die parlement bespreek word, is ons verras dat die DA al die aanbevelings steun. Dit is slegs die VF Plus wat op die implikasies van die aanbevelings vir Afrikaans op tersiêre vlak wys en daarteen stem. (Kyk 27 November 2014, Nasionale Vergadering Notule). Is een oorwegend Afrikaanse kampus te veel gevra?

Taalmonument en DA.

Die Parlement se Portefeuljekomitee vir Kuns en Kultuur, waarop ek dien, moet jaarliks verskeie monumente se begrotings goedkeur. Toe onlangs die Afrikaanse Taalmonument en Museum in die Paarl aan die beurt kom, maak die ANC en die EFF ernstig beswaar. Die ANC argumenteer dat dit “an evil” monument is wat aan apartheid herinner en dat alle verdere geld aan die monument dadelik afgekeur moet word.

Op my en ander lede se voorstel besluit ons om die Taalmonument te besoek voor so ʼn drastiese besluit geneem word.

Die bestuur van die monument het moeite gedoen om ons in te lig oor al die aktiwiteite van die monument. Nadat ek die simboliek van die Taalmonument aan die ander partye se parlementslede verduidelik het, was die voorsitter se opmerking teenoor my: “dr. Mulder, this is an honest monument.” Daarna is die begroting goedgekeur. Dit beteken dat die monument met sy goeie werk kan voortgaan en dat al die werknemers, waarvan die meerderheid bruin is, se poste verseker is. Die twee DA lede van die komitee het die besoek nie meegemaak nie.

Louis Luyt het as Afrikaanssprekende baie frustrasies as lid van die DA ervaar. In sy latere kritiek op die DA het hy hulle herinner aan hulle destydse voorstel vir Engels alleen tydens die grondwetlike onderhandeling. Hy het verder beweer dat hulle die “stryd vir Afrikaans” misbruik net om stemme te werf (Die Burger, 17 Februarie 2006).

Woorde wek, maar voorbeelde trek

Niemand betwyfel die DA aanhalings oor Afrikaans, soos deur Gibson aangehaal nie. Toe die DA egter geleenthede soos hierbo gekry het om die party se erns met hierdie sake te bewys, het dit nie gebeur nie. Daarom is die gesegde: “Woorde wek, maar voorbeelde trek” wel hier ter sake.

Miskien moet ek moedswillig wees en in die lig van die voorbeelde hierbo met Ralph Emerson se aanhaling in Engels afsluit: “Your actions speak so loudly, I can not hear a word what you are saying”  (1090 woorde)