Dr. Pieter Mulder, (Parlementslid en vorige VF Plus leier)

Johann van der Westhuizen se artikel “Dertien gebooie wat Afrikaans kan red” (Beeld 15/7/2014) sal Afrikaans nie red nie. Die artikel is oppervlakkig en verwarrend.

Van der Westhuizen verklaar sy groot liefde vir Afrikaans — maar spog dan dat hy “skuldig” is dat Afrikaans by die universiteit van Pretoria as voertaal afgeskaf is. Sy “laat maar loop”-benadering gaan Afrikaans se einde verhaas.

Hy argumenteer dat die obsessie met die “oorlewing” van Afrikaans gestaak moet word. “Praat, skryf en sing die taal”, maar moet niks meer eis nie, is sy benadering.

Daarmee herhaal hy die ou leuen dat solank ʼn taal nog gepraat word, dit nie tot niet kan gaan nie.

Die geskiedenis en internasionale navorsing bewys hierdie leuen verkeerd. As ‘n taal sy amptelike funksies verloor en nie meer in die hof, in die parlement, in die skool en in die universiteite gepraat word nie, verloor dit status en is daar min aansporing vir ouers om hul kinders daarin groot te maak. Binne drie geslagte gaan ’n taal so tot niet.

Oksetaan is ‘n taal wat baie gewild was en deur meer as 14 miljoen mense in die Suide van Frankryk gepraat is. Frédéric Mistral het in 1904 die Nobelprys vir Letterkunde in Oksetaans gewen. Omdat die Franse regering besluit het om Frans en nie Oksetaans nie die enigste amptelike taal te maak, het Oksetaans vinnig agteruit gegaan. Vandag is daar slegs ’n klein groepie (minder as 600 000) ouer mense wat nog die taal praat. Gaan kyk ook na hoe Wallies, Skots-Gaelies en ander tale agteruitgegaan het nadat hulle hul hoë taalfunksies verloor het.

Hoekom moedertaalonderrig? Omdat die gebrek aan moedertaalonderrig (saam met vakbonde) die hoofredes vir ons swak onderwysstandaarde is.

Internasionale navorsing bevestig dat moedertaalonderrig, soveel jare as moontlik, die beste vir kinders is. Dit is nie ’n politieke argument nie maar ’n eenvoudige internasionaal aanvaarde onderwysbeginsel. Moedertaal en Afrikaans bemagtig kinders. Onthou meer as 60% van die Afrikaanse gemeenskap is nie wit nie.

Die Chinese studeer deur Chinees; die Duitsers deur Duits en die Franse deur Frans. Die Duitse ekonomie is die sterkste in Europa en hoewel min Chinese Engels praat of verstaan, is hulle tegnologies ver voor en stuur hulle ruimtetuie die ruimte in.

Natuurlik word Kgosi Phala van Limpopo benadeel as hy nie in sy moedertaal by Tukkies kan klas kry nie, soos Van der Westhuizen korrek redeneer. Maar sy oplossing is nie om Kgosi se moedertaal te bevorder nie. Sy oplossing is dat Kosie Nel en Lionel April van die Afrikaanse skool nou ook benadeel moet word en nie meer in hulle moedertaal klas mag kry nie. So vorder ons almal agteruit. Die oud grondwetregter maak hiermee ʼn bespotting van artikel 6(2) in die grondwet.

Voorstanders van Afrikaans is nie anti-Engels nie. Die huidige debat is pro-veeltaligheid en pro-Afrikaans. Engels is belangrik en maak baie deure oop – veral internasionaal. Daarom behoort Engels as vak deur studente tot op universiteitsvlak geneem te word – verkieslik verpligtend.

Daar is egter ʼn groot verskil tussen Engels bemeester as taal teenoor Engels as enigste taal van onderrig in alle vakke.

Afrikaanse studente, wat so in Afrikaans studeer, doen baie goed in die buiteland waar hulle dikwels in Engels moet werk. Navorsing bewys dat studente beter vaar as hulle moeilike begrippe in hulle moedertaal, soos Afrikaans, aanleer (Lees Kathleen Heugh se navorsing).

Die bekende Afrikaanse skrywer Chris Barnard het gesê: “As Engels die oorhand (in Suid-Afrika) kry, is dit meer as net Afrikaans wat in die slag gaan bly. Tien inheemse tale gaan verdwyn. Die enigste uitheemse taal (Engels) gaan bly en al elf dele van die koek kry, miskien ‘n hoflike windjie breek en verder stap Afrika in.” (607 woorde)