Ek het nie indrukwekkende stede soos Parys, Londen, Washington, New York, Beijing, Sydney en Kaapstad gekies, wat ek al besoek het nie. Ek het eerder die ongewone plekke wat op my indruk gemaak het, gekies. My keuses gee ook iets weg van my belangstellings en prioriteite in die lewe.

1 Peterhof, St Petersburg, Rusland.

Pieter die Grote se Somerpaleis in St. Petersburg, Rusland.

Dit is die indrukwekkende somerpaleis van Tsaar Pieter die Grote en latere Russiese Tsaars by St Petersburg. Peterhof is gebou om buitelandse staatsmanne te beïndruk met honderde fonteine en watervalle wat almal sonder pompe met die natuurlike val van die grond loop en spuit. Die beste argitektuur, tuine en standbeelde van Europa en spesifiek van Versailles in Frankryk, is berekend hier herhaal.

Die ou Rusland was baie op die Ooste gefokus. Pieter besluit Rusland se toekoms is om na die Weste en soos Europa te ontwikkel. Toe bou hy die nuwe stad St. Petersburg aan die heel Westekant van Rusland met ’n hawe na Europa. Man alleen verander hy so Rusland se verdere geskiedenis en fokus weg van die Ooste na die Weste.

2 Die Hubbard gletser, Alaska, VSA.

Die Hubbard Gletser in Alaska agter ons met sy eeue oue donkerblou ys sigbaar.

Die gletser is tien kilometer breed waar dit uitmond in die golf van Alaska. Ons het ’n wonderlike bootvaart al langs die kus van Alaska af tot by Kanada gehad. Sneeubedekte berge, diep fjords en pragtige natuurskoon. Die gletser was die hoogtepunt. Dit ontstaan 122 km in die binneland in op ’n hoogte van 3400 meter. Die ys skuif dan stadig, oor eeue, af see toe. Die diepblou ys is ongeveer 400 jaar oud wanneer dit uiteindelik by die see uitkom. Hier val stukke ys, tot tien verdiepings hoog, met ’n gekraak en gedreun in die see.

3 Familiemonument Salt Lake City, VSA.

1981 Salt Lake City in die VSA met die familie-monument agter ons.
Familie-Monument van nader: “A Secure family is a nation’s strenght”.

’n Pragtige monumentjie is in Salt Lake City wat familiewaardes en in die Mormoonse stad nie ’n bigame huwelik uitbeeld nie. Op die monument, wat uit ’n man en vrou bestaan wat liefderik met hul kind speel, staan: “A secure family is a nations’ strength”. Ek glo ook sterk dat dit waar is en is net dankbaar om reeds so lank gelukkig getroud te kan wees met ’n groot gesin. Ons gesin het Salt Lake City besoek tydens my na-doktorale studie in Madison Wisconsin in die VSA.

4 Die Konferensiekamer op die Suid- en Noord Koreaanse grenslyn.

Die Konferensietafel wat op die grens tussen Noord- en Suid-Korea staan en waardeur die grens loop sodat elke afvaardiging in sy eie land kan sit as daar onderhandel word.

Die grenslyn tussen Suid- en Noord Korea naby Panmunjom het tot stand gekom met die wapenstilstand wat die Koreaanse burgeroorlog beëindig het in 1953. Dit is die swaarste militêr bewaakte grens in die wêreld.

Op die grenslyn is ’n gebou opgerig waar samesprekings tussen Suid en Noord gehou word. Ons staan hier in die konferensiekamer van die gebou. Die grenslyn gaan deur die konferensiekamer en loop in die middel van die konferensietafel sodat elke kant in sy eie land kan sit! Ek het daar ’n hartroerende beeldjie gekoop. Dit beeld die ware verhaal uit van twee broers wat mekaar na ’n geveg omhels nadat die een byna die ander in ’n geveg tussen Noord- en Suid-Korea doodgeskiet het – die wrede werklikheid van ’n burgeroorlog.

In wat bekend staan as die vlagoorlog het die Suid-Koreane ’n 98 meter hoe vlagpaal met ’n 130 kg vlag langs die grens opgerig. Die Noord-Koreane het gereageer met die hoogste vlagpaal in die wêreld — 160 meter hoog met ’n 270 kg vlag bo-aan. Die verdeelde konferensietafel en vlae beeld die gekheid vir my uit waartoe mense in staat is as die klem net op konflik en oorlog val.

5 Magersfontein en Afrikaanse geskiedenis-monumente.

Besig om by die uitkykpunt die reuse oorwinning van die Boere oor die Britte met die Slag van Magersfontein tydens die Anglo-Boereoorlog aan ‘n groep jong mense te verduidelik. Onder op die slagveld is die loopgrawe, soos dit meer as honder jaar gelede deur die Boere gegrawe is, nog steeds sigbaar.

Magersfontein- en eintlik alle monumente wat Afrikanergeskiedenis in Suid-Afrika weergee. Generaal De la Rey slaag nie daarin om met ’n toespraak in die ou Transvaalse Volksraad die Anglo-Boere-oorlog te voorkom nie. Na die oorlogsverklaring veg hy dapper maar verloor sy geliefde seun Adriaan by van die eerste veldslae. Ek besoek graag Adriaan se graf en die Magersfontein-slagveld waar die Boere ’n reuse oorwinning oor die Britte, as supermoondheid van daardie tyd, behaal het. Hier is die loopgrawe, soos dit meer as honder jaar gelede deur die Boere gegrawe is, nog steeds sigbaar is. Om die Voortrekkermonument op 16 Desember te besoek en die sonstraal op die senotaaf te sien skyn of die Vrouemonument se roerende standbeeld van die ma en sterwende kind, het dieselfde emosionele effek op my.

6 Die Groot Muur van China.

Die Groot Muur van China wat in totaal meer as 21 000 km lank is en oor 2000 jaar sedert 770 vC gebou is.

Die Groot Muur van China is opgerig om China teen vyandelike volke en invloede te beskerm. Die muur, en al sy verdedigingskonstruksies, is meer as 21 000 km lank. Dit is drie maal die afstand tussen Kaapstad en Kaïro wat net meer as 7 000 km van mekaar af is.

Die muur is in stadiums oor 2000 jaar, vanaf 770 vC tot 1633 nC gebou met meer as ’n duisend wagtorings op vaste afstande vanaf mekaar. Die wagtorings het rookseine gebruik om met mekaar te kommunikeer.

Die Groot Muur van China word steeds aanvaar as een van die indrukwekkendste argitek- en bou prestasies in die mensdom se geskiedenis. Dit is die langste struktuur wat nog deur mense opgerig is. Anders as die populêre mite, is die muur baie moeilik uit die ruimte sigbaar omdat dit so dun is.

Dit is ironies dat na voltooiing die muur nie die Ming-keiserryk van ondergang kon beskerm nie. Hulle is deur die Mantsjoes oorwin wat deur die muur gekom het en so die Qing-dinastie gevestig het.

Wetenskaplik en tegnies was die Chinese ’n paar eeue gelede waarskynlik ver voor die Europese volke ontwikkel. Die Groot Muur, plus die Chinese keiser se isolasie-beleid, het egter daartoe gelei dat die Chinese so geïsoleerd geraak het, dat hulle ontwikkeling agter geraak het en hulle uiteindelik deur die weste gekoloniseer is.

7 Masada in Israel.

Bo-op Masada. Onder agter is die oorblyfsels van die Romeinse kamp sigbaar.

Masada in Israel is ’n simbool van die Jode se stryd vir vryheid oor eeue. Bo-op die 400 meter hoë Masada berg het 960 Jode in 73 nC selfmoord gepleeg om te voorkom dat hulle deur die Romeine gevange geneem word. Van bo kan die Dooie See en die oorblyfsels van die Romeinse kamp vandag nog gesien word.

Nadat huidige Israelse soldate hulle diensplig voltooi het, neem hulle ’n eed bo-op Masada dat Masada, en so ook Israel, nooit weer in vyande se hande sal val nie. Die berg en sy tragiese geskiedenis raak jou en inspireer jou.

8 Die Noorderligte.

Hier is ons op die boot naby die Noorweegse stad Tromsø met die Noorderligte in die agtergrond. Die kleure wissel mekaar af in ’n wonderlike ligspel hoog in die lug.


8 Wat is die Noorderligte?


Met sonuitbarstings word ’n sonvlam (solar flare) duisende kilometer die ruimte in geskiet. Die gelaaide sondeeltjies (protone en elektrone) in die vlam beweeg dan teen ’n hoë spoed die ruimte in – die sonwind. Die aarde se magneetveld beskerm ons teen hierdie deeltjies asook teen enige ander bestaling uit die ruimte. Ons magneetveld is egter op sy swakste by die Noord- en Suidpool waar die son se gelaaide deeltjies die aarde se atmosfeer binnekom en met die atome in ons atmosfeer bots. Hierdie botsings gee verskillende kleure lig af. Suurstof gee meestal groen en geel kleure terwyl stikstof rooi en pienk kleure skep.


Om die Noorderligte suksesvol te kan sien, moet ten minste vier faktore gelyk in plek wees. 1. Jy moet op die regte plek wees. Dit beteken so ver Noord of Suid as moontlik om naby die pole te kom. Verkieslik bo die Arktiese sirkel wat 66 grade Noord is. (Die Antarktiese sirkel is 66 grade suid). 2. Dit moet donker wees. In die somer skyn die son amper 24 uur binne hierdie sirkels. In die winter gebeur die omgekeerde waar dit amper 24 uur lank donker is. Ons is dus in die winter na Noorweë om binne die Arktiese sirkel en die donker te kom. 3. Die weer moet saamspeel. Omdat dit winter is, is dit meestal in hierdie koue streke bewolk en kan jy niks sien nie. 4. Daar moet ’n sonuitbarsting wees wat die gelaaide deeltjies na die aarde stuur. Dit neem die gelaaide deeltjies tot twee dae om die 50 miljoen km na die aarde af te lê.

9 Suez-kanaal, Egipte.

Die Suez-kanaal: Tot ‘n miljoen werkers het tien jaar lank met grawe die kanaal deur die woestyn gegrawe. Links is Egipte en regs die droë Sinai-woestyn.

Die Suezkanaal was ’n ingenieurswonderwerk toe dit in 1869 voltooi is. Tot ’n miljoen werkers het oor 10 jaar die kanaal deur die dorre woestynsand met grawe en later stoommasjiene gegrawe. Die kanaal is 193 km lank. Links is Egipte groen en regs die dorre Sinai woestyn. Die kanaal is deur Ferdinand de Lesseps gebou.

Om vrag van Europa na Indië per boot te neem, is ’n vaart van 19 800 km rondom die punt van Afrika by Kaapstad nodig. Die Suezkanaal, wat die Middellandse see met die Rooi-see en Indiese Oseaan by Egipte verbind, verkort hierdie vaart met 8000 km.

Orals langs die Suezkanaal is monumente vir die verskillende oorloë wat rondom die kanaal plaasgevind het. Die 1967 Sesdaagse-oorlog en die 1973 Jom Kippoer-oorlog het hier tussen Israel en Egipte gewoed.

10 Panamakanaal, Panama, Suid-Amerika.

Die Panama-kanaal. Agter ons is twee sluise van die ses sluise sigbaar waarmee die skepe tien verdiepings opgelig word. Kyk hoe die watervlakke in die sluise verskil.

Die wêreld se ander beroemde kanaal is die Panama-kanaal. Die Panama-kanaal verbind die Atlantiese oseaan met die Stille Oseaan en verkort ’n bootrit van New York na Los Angeles met 20 000 km (tussen 16 en 23 dae) omdat jy nou nie meer rondom Suid-Amerika hoef te vaar nie.

Waar die Suezkanaal plat en gelyk met seevlak is, is die grond by die Panama-kanaal ongelyk en tot 26 meter bo seevlak. Ferdinand de Lesseps het ook hierdie kanaal probeer grawe na sy sukses met die Suezkanaal. Hy het probeer om soos by die Suezkanaal deur die heuwels te grawe om ’n kanaal gelyk met seevlak te bou. Na amper 20 000 werkers weens tropiese siektes dood is en daar baie stadig gevorder is, het hy opgegee.

Hier moes totaal anders (out of the box) as by Suez gedink word. Die Amerikaners het oorgeneem met George Goethals as nuwe ingenieur. Hy het besluit om van sluise gebruik te maak. Aan die een kant word reuse skepe deur die krag van water met drie sluise 26 meter (ongeveer 10 verdiepings) hoog gelig om dan weer op dieselfde manier aan die anderkant te sak. Die Panama kanaal is 77 km lank waarvan die grootste gedeelte gelyk oor ’n mensgemaakte meer, die Gatunmeer, op die kruin van die roete is.

Op die foto kan twee van die sluise waar ons reeds deur is, gesien word asook hoe die watervlak tussen die sluise verskil. Die Panama-kanaal is al aangewys as een van die sewe wonders van die moderne wêreld.