Dr. Pieter Mulder, wat onlangs St. Helena besoek het.
Februarie 2020


Genl. Piet Cronjé het 27 Februarie 1900 by Paardeberg met meer as 4 000 Boere oorgegee. Dit is vanjaar (2020) presies 120 jaar gelede. Die Britte was bekommerd dat hierdie krygsgevangenes kan ontvlug om weer te veg. Die Britse oplossing was om hulle landuit te stuur na St. Helena.


Omdat dit nou vir die eerste keer moontlik is om na St. Helena te vlieg, word dit ’n belangrike besoekpunt vir veral geskiedenistoerisme vanaf Suid-Afrika. Die groot aantal nuwe boeke oor die Anglo-Boereoorlog se geskiedenis, getuig van ’n hernude oplewing in Suid-Afrika oor hierdie geskiedenis.


Maar waarom vlieg ’n mens ses-en-halfuur vanaf Johannesburg na die eiland St. Helena maar net vier uur terug?


St. Helena is ’n stippeltjie in die middel van die Atlantiese oseaan. Daar is 2 000 km se see na Afrika se kus en 3 000 km se see na Suid-Amerika se kant. Die eiland is eintlik twee vulkane waarvan net die boonste 5% bo die see uitsteek. Daarom die hoë kranse en diep valleie.


As die vliegtuig onder die wolke uitkom sien jy die mensgemaakte aanloopbaan wat letterlik van krans tot krans bo-op die vulkaniese berg strek.


Om veiligheidsredes neem dit ses-en-halfuur om na St. Helena te vlieg. Die vliegtuig land eers in Namibië om brandstof in te neem. Dit verseker dat as die gevaarlike dwarswinde by St. Helena te sterk is om te kan land, die vliegtuig veilig na Namibië of Angola kan terugkeer. Op jou terugrit is dit nie ’n probleem nie en vlieg jy reguit na Johannesburg met meer as genoeg landingsplekke langs die pad as daar ’n probleem sou wees.


Drie geskiedenisgebeurtenisse op die eiland staan uit:


Napoleon.


Napoleon het nadat hy teen die Britte by Waterloo verloor het, sy laaste dae op die eiland as ’n gevangene deurgebring. By die Longwood-huis waar hy gebly het, word sy sterfbed en meubels steeds in stand gehou en kan dit besigtig word. So ook sy graf voordat die Franse hom 19 jaar later in Parys herbegrawe het.

Graf van Napoleon op St. Helena waar hy vir negentien jaar begrawe was voor die Franse hom herbegrawe het in Parys Frankryk.


Zoeloekoning.


Waar is die huidige Zoeloekoning se oupa gebore?


Op St. Helena.


Nadat die Britte die Zoeloes in Natal oorwin het en daar opstande was, is die Zoeloekoning Dinuzulu in 1889 na St. Helena verban. Hy het van sy vroue saamgeneem asook van sy raadgewers. Twee van sy kinders is op die eiland dood. Hulle grafte kan steeds daar besigtig word asook die huis waar die koning gewoon het. Sy opvolger, Koning Solomon, oupa van die huidige koning, is ook daar gebore.

Grafte op St Helena van Unomfino vier maande oud en Umohlozana drie jaar oud. Hulle was Zoeloekoning DinuZulu se kinders wat daar dood is.
Zoeloekoning Dinuzulu ontmoet St. Helena se goewerneur. Hy mag slegs by sy huis en erf tradisionele Zoeloedrag, wat hy verkies het, aangetrek het. Koningin Victoria en die Britte het daarop aangedring dat hy Westers aantrek wanneer hy sy huis op St Helena verlaat.


Boere krygsgevangenes.

Aan die einde van hulle lang seereis, sien die Boere-krygsgevangenes uiteindelik die eiland. Die eiland se hoë kranse lyk koud en onherbergsaam so in die middel van die see.

St Helena, die vulkaan-eiland, van die see se kant gesien.


April 1900 gooi die Britse skip Milwaukee anker by St. Helena. Aan boord is die eerste groep van 514 Boere-krygsgevangenes saam met generaal Cronjé. Baie is moeg en swak na seesiek en dae op die oop see.


Na hulle aankoms is die Boere aangejaag na die enigste effense gelyk plato op die eiland. Daar is honderde tente binne ’n doringdraadkamp opgeslaan. Dit is Deadwood-kamp waar die wind permanent waai. Vir die volgende twee jaar, tot die einde van die Anglo-Boereoorlog, sou hulle hier bly. Van die Boere het later bome hier geplant as beskutting teen die wind.


Uiteindelik is meer as 6 000 Boere so na St. Helena gestuur.

Deadwood Kamp op St. Helena waar tot 6000 Boere krygsgevangenes tot twee jaar lank in tente aangehou is.


Om die tyd om te kry, het die Boere allerlei kunswerkies gemaak. Die kunswerkies is as “Curios” na Europa uitgevoer om verkoop te word. Hierdie ingesamelde geld is vir Boere weduwees en weeskinders in Britse konsentrasiekampe in Suid-Afrika gestuur.


Veertien Boere het op verskillende maniere vanaf die eiland probeer ontsnap. Die oorspronklikste was Andries Smorenburg se poging. Hy het ’n houtkrat gebou waarin hy kon pas en wat hy van binne kon oop en toe maak. Buite op het hy geskryf “Curios” en “Handle with Care” met ’n vals Londense adres daarby. Die Britte het die krat, en so vir Smorenburg, op die skip Goth gelaai. Op pad na Brittanje het die skip by die eiland Ascension aangegaan.


Wat Smorenburg nie geweet het nie, was dat die Eastern Telegraph Company net die vorige jaar ’n ondersese kabel van Kaapstad na St. Helena en van St. Helena na Ascension-eiland gelê het. Hiermee kon boodskappe vinnig tussen die plekke gestuur word. Toe die Britte agterkom Smorenburg is weg, is ’n boodskap met die nuwe kabel na Ascension-eiland, 1 100 km verder, gestuur. Smorenburg is op Ascension afgelaai en teruggestuur na St. Helena.

Britse soldate by die selfgemaakte houtkrat waarmee Andries Smorenburg van St. Helena eiland probeer ontsnap het.
Andries Smorenburg op pad vanaf die St. Helena tronk na sy verhoor na sy mislukte ontsnappoging.
Ek staan voor St. Helena se tronk soos dit vandag lyk – presies dieselfde as toe Andries Smorenburg daar aangehou is meer as 100 jaar gelede.


Opstandige Boere en die wat probeer ontsnap het, is hierna in ’n tweede kamp, High Knoll Fort, geplaas. Hier kon hulle beter bewaak word.


Waarom was daar uiteindelik vier Boerekampe op St. Helena?


Sommige Boere het hulle bereid verklaar om die eed van getrouheid aan Brittanje af te lê. Hulle het geglo dat die oorlog tog nie gewen kan word nie. So het hulle meer bewegingsvryheid op die eiland gekry. Die Britte noem hulle “lojaliste”. Die Boere noem hulle “verraaiers.” Hulle was nie meer welkom in die Boerekamp nie. ’n Derde kamp, Peace Camp, moes vir hulle opgerig word.


Soos Deadwood-kamp oorbevolk geword het, het die Transvalers en die Vrystaters struwelinge begin kry. Daar was verwyte oor wie se skuld dit is dat hulle gevang is. As oplossing is die Vrystaters na ’n nuwe vierde kamp, Broadbottom, verskuif. Al hierdie Boerekampplekke kan nou op St. Helena besoek word.


31 Mei 1902 word vrede in Suid-Afrika gesluit. Die woord “peace” word oor die kabel na St. Helena gestuur. Die Britte en die Boere jubel albei. Elkeen glo hulle het die oorlog gewen. Dae later kom die slegte nuus dat die Boere verloor het.


Twee weke later verskyn ’n kennisgewing in die Boere se kampe. Boere-krygsgevangenes wat bereid is om die eed van getrouheid aan Koning Edward VII, Britse koning, af te lê, moet na die Court House gaan om die eed af te lê en so Britse burgers te word.


Die kennisgewing lei tot ernstige debatte en bitterheid in die kampe. “Hoe kan ons voor die Britse gesag buig? Hulle wat ons plase afgebrand en in die konsentrasiekampe ons kinders en vroue se dood veroorsaak het?” word geargumenteer.


’n Week later vertrek die Britse skip Canada na Suid-Afrika met 470 Boere wat die eed afgelê het. Talle ander weier.


Later sou meeste Boere die eed aflê as die enigste manier om terug by die huis te kom.


Nadat die Boere weg is, het op St. Helena agtergebly: die name van die Boeregevangenes in die argief; die tronk waar Smorenburg aangehou is; die skewe windverwaaide bome op die vlakte waar die Boerekamp was en die grafte van 180 Boere wat op die eiland dood is.

By die Boerebegraafplaas op St. Helena met die Boeregrafte teen die steilte. Die ou Transvaalse (ZAR) en Vrystaatste vlae hang teen die omheining.


Die Anglikaanse Kerk het geweier dat die Boere in hulle kerk se “gewyde” begraafplaas begrawe word omdat hulle “heidene” en “vyande van die Britse koning” is. Gelukkig het die Baptiste gehelp om ’n Boerebegraafplaas teen die steiltes beskikbaar te stel.


Vier Boere het verkies om op die eiland agter te bly en het met van die eiland se mense getrou. Van hulle nageslag is steeds daar en het as gids opgetree om al die interessanthede van die eiland aan ons uit te wys.
Na ons besoek aan die eiland bewonder ek opnuut die hoë prys wat my oupagrootjie (Frederick Jacobus Potgieter) en ander familie, wat op die eiland gevangenes was, bereid was om vir ons vryheid te betaal.

Jamestown, St Helena se hoofstad, in die vallei tussen die bergpieke met die hawe by die see waar die krygsgevangenes aangekom het. As ‘n vulkaan-eiland, met twee vulkane, is daar min gelyk grond op die eiland.
My vrou Triena voor Jacobs Ladder met 699 trappe vanaf Jamestown na bo. Jy kry ‘n sertifikaat as jy dit tot bo kan klim.